Australiese vertaler From Wikipedia, the free encyclopedia
Anthony Pym (gebore 1956, Perth, Australië) is ’n geleerde wat die bekendste is vir sy werk in vertaalstudies.[1]
Pym is tans professor in Vertaling aan die Rovira i Virgili-universiteit in Spanje.[2] Hy is ook die voorsitter van die Europese Vereniging vir Vertaalstudies, ’n genoot van die Katalaanse Vereniging van Navorsing en Gevorderde Studies,[3] besoekende navorser aan die Middlebury-instituut van Internasionale Studies in Monterey, buitengewone professor aan die Universiteit Stellenbosch[4] en, in 2015, Walter Benjamin- besoekende professor aan die Universiteit van Wene.[5]
Anthony David Pym het Wesley-kollege (Perth, Australië) en die Universiteit van Wes-Australië bygewoon en het in 1981 sy BA (Hons) aan die Murdoch-universiteit verwerf. Hy het ’n beurs van die Franse regering ontvang vir doktorale studies aan die École des Hautes Études en Sciences Sociales, waar hy in 1985 sy doktorsgraad in Sosiologie voltooi het. In 1983–84 was hy ’n Frank Knox-genoot in die Departement van Vergelykende Literatuurstudie aan die Harvard-universiteit. In 1992–94 het hy ’n postdoktorale beurs ontvang van die Alexander von Humboldt-stigting vir navorsing oor vertaalgeskiedenis aan die Universiteit van Göttingen, Duitsland. In 1994 het hy by die Collège International de Philosophie, Parys, seminare oor die etiek van vertaling aangebied.[6]
Ná jare as ’n professionele vertaler, tydskrifredakteur en organiseerder van kulturele geleenthede in Frankryk en Spanje het hy gedoseer in die vertaalafdelings van die Outonome Universiteit van Barcelona en die Universiteit van Las Palmas de Gran Canaria. In 1994 het hy aangesluit by die Rovira i Virgili-universiteit in Tarragona, Spanje, waar hy in 2000 die Interkultuurstudiegroep, ook in 2000 nagraadse programme in vertaling en in 2003 ’n doktorale program in vertaling en interkultuurstudies gestig het. Hy is sedert 2006 ’n besoekende navorser aan die Monterey-instituut van internasionale studies. Hy woon permanent in die dorpie Calaceite, Spanje.
Pym was een van die eerstes wat vertaalstudie laat wegbeweeg het van tekste en aandag gegee het aan vertalers as mense.[7] Hy het vertaling ook gekonseptualiseer as ’n vorm van risikobestuur, eerder as ’n strewe na ekwivalensie.[8] Hy het die hipotese opgestel dat vertalers lede van professionele interkulture kan wees, wat werk in die oorvleueling van kulture en dat hulle hoogste etiese doelwit is om kruiskulturele samewerking oor die lang termyn te bevorder.[9] In onlangse jare het hy belang gestel in die konsep van inkulturasie, waardeur hy vertaling sien as een van die maniere waarop minderheidskulture in breër kultuurstelsels geabsorbeer word en dan daardie breër stelsels kan wysig.[10]
Die Finse vertaaldeskundige Kaisa Koskinen het Pym se idees teenoor dié van die Amerikaanse vertaalteoretikus Lawrence Venuti gestel,[11] en Jeremy Munday[12] en Mary Snell-Hornby[13] het kommentaar gelewer oor sy kritiek van Venuti.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.