From Wikipedia, the free encyclopedia
Antares (onder meer ook genoem Alpha Scorpii of α Sco) is gemiddeld die 15de helderste ster in die naglug en die helderste ligpunt in die sterrebeeld Skerpioen (Scorpius). Dit lyk rooi wanneer met die blote oog daarna gekyk word; dit is ’n stadige onreëlmatige veranderlike waarvan die skynbare magnitude wissel tussen 0,6 en 1,6.
Antares
| ||||
Antares se ligging (in die rooi sirkel). | ||||
Sterrebeeld | Skerpioen | |||
Bayer-naam | Alpha Scorpii | |||
Spektraaltipe | M1,5 Iab-Ib[1] + B2,5 V[2] | |||
Soort | Superreus/Dubbelster | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 16h 29m 24.45970s[3] | |||
Deklinasie | -26° 25′ 55.2094″[3] | |||
Skynmagnitude (m) | 0,6-1,6[4] + 5,5[5] | |||
Absolute magnitude (M) | -5,28[6] (wissel) | |||
B-V-kleurindeks | +1,83[5] | |||
U-B-kleurindeks | +1,34[5] | |||
Besonderhede | ||||
Komponent 1 | A | |||
Massa (M☉) | 11-14,3[7] | |||
Radius (R☉) | 680[7]-800[8] | |||
Ligsterkte (L☉) | 75 900+53 000−31 200[9] | |||
Temperatuur (K) | 3 660±120[7] | |||
Rotasiespoed (km/s) | 20[5] | |||
Komponent 2 | B | |||
Massa (M☉) | 7,2[10] | |||
Radius (R☉) | 5,2[10] | |||
Ligsterkte (L☉) | 2 754[10] | |||
Temperatuur (K) | 18 500[11] | |||
Rotasiespoed (km/s) | 250[10] | |||
Eienskappe | ||||
Ouderdom (jaar) | 15±5 miljoen[7] / | |||
Veranderlikheid | Stadig onreëlmatig[4] | |||
Ander name | ||||
21 Scorpii, Cor Scorpii, Kalb al Akrab, HR 6134, CD−26°11359, HIP 80763, SAO 184415, FK5 616, WDS 16294-2626, CCDM J16294-2626 A: HD 148478, AAVSO 1623-26 B: HD 148479 | ||||
|
Dit word geklassifiseer as ’n ster van spektraaltipe M1,5 Iab-Ib en is dus ’n groot, geëvolueerde superreus. Sy presiese grootte is onseker, maar as dit in die middel van die Sonnestelsel geplaas kan word, sal dit strek tot tussen die wentelbane van Mars en Jupiter. Sy massa is sowat 12 keer dié van die Son.
Antares is die helderste, swaarste en mees geëvolueerde lid van die naaste OB-assosiasie, die Scorpius-Centaurus-assosiasie. Antares is lid van die subgroep Bo-Scorpius van die assosiasie, wat duisende sterre met ’n gemiddelde ouderdom van 11 miljoen jaar bevat. Dit is sowat 170 ligjare van die Son af.
Antares lyk soos ’n enkelster wanneer met die blote oog daarna gekyk word, maar dit is eintlik ’n dubbelster wat uit twee komponente, α Scorpii A en α Scorpii B, bestaan. Die helderste van die twee sterre is die rooi superreus, terwyl die dowwer ster ’n warm hoofreeksster met ’n skynbare magnitude van 5,5 is.
Die dubbelster se Bayer-naam is "Alpha Scorpii" en sy Flamsteed-naam "21 Scorpii". Die tradisionele naam "Antares" kom van die Antieke Griekse Ἀντάρης, wat beteken "teenstander van Ares (Mars)" vanweë sy eenderse rooi kleur as dié van die planeet Mars.[12] In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Antares" vir die ster α Scorpii A goedgekeur.[13]
Antares is omstreeks 31 Mei van elke jaar deurnag sigbaar, wanneer die ster in opposisie met die Son is. Dit kom dan by die ewenaar teen skemeraand op en gaan met dagbreek onder. Vir twee of drie weke voor en ná 30 November is Antares nie sigbaar nie omdat dit naby konjunksie met die Son is;[14] dié tydperk van onsigbaarheid is korter in die Suidelike Halfrond as in die Noordelike Halfrond omdat die ster se deklinasie suid van die hemelewenaar is.
Wisselings in radiale snelheid is vroeg in die 20ste eeu in Antares se spektrum waargeneem.[15] Dit het duidelik geword dat die klein wisselings nie vanweë sy wentelbeweging is nie, maar dat dit deur pulse in die ster se atmosfeer veroorsaak word. In 1928 nog is gereken die ster se grootte moet met omtrent 20% wissel.[16]
Johann Tobias Bürg het tydens ’n okkultasie op 13 April 1819 die eerste keer berig dat Antares ’n metgeselster het,[17] maar dit is nie algemeen aanvaar nie en toegeskryf aan ’n moontlike atmosferiese effek.[18] Die Skotse sterrekundige James William Grant FRSE het dit toe op 23 Julie 1844 in Indië waargeneem.[19] Dit is in 1846 deur Ormsby M. Mitchel herontdek[20] en in April 1847 deur William Rutter Dawes gemeet.[21][22]
In 1952 is berig Antares se helderheid wissel. ’n Fotografiese magnitude-omvang van 3 tot 3,16 is beskryf.[23] Sedertdien is die ster as ’n stadige onreëlmatige veranderlike geklassifiseer waarvan die skynbare magnitude stadig wissel tussen 0,6 en 1,6, hoewel dit gewoonlik naby magnitude 1 is.
Antares is 4,57 grade suid van die sonnebaan en is een van vier sterre van die eerste magnitude binne 6 grade van die sonnebaan (die ander drie is Spica, Regulus en Aldebaran). Dit kan dus deur die Maan verduister word. Dit het op 31 Julie 2009 gebeur en was sigbaar in ’n groot deel van Suid-Asië en die Midde-Ooste.[24][25] Elke jaar omstreeks 2 Desember beweeg die Son 5 grade noord van Antares verby.[14] Verduisterings van Antares deur die Maan is redelik algemeen.
Antares kan ook deur planete soos Venus verduister word, maar dit gebeur selde. Die laaste keer dat Venus die ster verduister het, was op 17 September 525 v.C.; die volgende keer sal op 17 November 2400 wees.[26] Venus sal op 19 Oktober 2117 uiters naby aan Antares wees en elke agt jaar daarna, tot 29 Oktober 2157, sal dit suid van die ster verbybeweeg.[27]
Alpha Scorpii is twee sterre wat vermoedelik om mekaar wentel. Die beste geraamde wentelbaan van die sterre word as onbetroubaar beskou.[28] Dit beskryf ’n feitlik ronde wentelbaan met ’n periode van 1 218 jaar en ’n halwe lengteas van sowat 2,9".[29] Ander onlangse ramings van die periode wissel tussen 880[30] en 2 562 jaar.[31]
Verskillende afstande is ook vir die twee sterre bereken, van 3,5" in 1847-'49[22] tot 2,5" in 1848.[20] Moderner waarnemings dui konsekwent op ’n skeiding van 2,6"-2,8".[32][33][34][35]
Antares is ’n rooi superreus met ’n klassifikasie van M1,5 Iab-Ib, en is ’n spektrale standaard vir dié klas.[1] Vanweë die aard van die ster is daar groot foute in die afgeleide parallaksmetings. Die geraamde afstand van die Son is sowat 550 ligjare.[3]
Die absolute magnitude van Antares teen visuele golflengtes is sowat 10 000 keer dié van die Son, maar omdat die ster ’n aansienlike deel van sy energie in die infrarooideel van die elektromagnetiese spektrum uitstraal, is die ware bolometriese ligsterkte sowat 100 000 keer die Son s'n. Daar is ’n groot foutmarge in die waardes van die bolometriese ligsterkte, gewoonlik 30% of meer. Daar is ook aansienlike verskille tussen waardes wat deur verskillende skrywers gepubliseer word: tussen 75 900 en 97 700 keer dié van die Son.[9][7]
Die ster se massa is bereken as sowat 12 keer dié van die Son,[9] of 11 tot 14,3 keer.[7]
Nes met die meeste superreuse is daar groot onsekerheid oor Antares se grootte vanweë die yl en deurskynende aard van die ster se uitgebreide buitenste streke. Om ’n effektiewe temperatuur vas te stel is moeilik omdat die spektraallyne op verskillende dieptes in die atmosfeer gegenereer word, en verskillende waardes word met lineêre metings verkry na gelang van die golflengte wat waargeneem word.[36] Daarby lyk dit of Antares pulseer en sy radius wissel met 165 sonradiusse, of 19%.[9]
Hipparcos se parallaksmetings van 5,40±1,68 mas[37] lei tot ’n radius van sowat 680 sonradiusse.[7] Ouer ramings oortref 850 sonradiusse,[38] maar dit is waarskynlik beïnvloed deur asimmetrie van die atmosfeer en die smal omvang van infrarooigolflengtes wat waargeneem is; Antares het ’n uitgebreide skil wat sterk by dié spesifieke golflengtes uitstraal.[7] Ondanks sy enorme grootte in vergelyking met die Son, word Antares verdwerg deur selfs groter rooi superreuse, soos VY Canis Majoris, wat amper 30 keer groter is in terme van volume, of VV Cephei A en Mu Cephei.
Antares sal, nes die ewe groot superreus Betelgeuse in die sterrebeeld Jagter, feitlik vir seker as ’n supernova ontplof,[39] moontlik binne die volgende 10 000 jaar. Vir ’n paar maande sal die Antares-supernova so helder soos die volmaan wees en in die dag gesien kan word.[40]
Antares B is ’n B-tipe hoofreeksster met ’n klassifikasie van B2,5 V en ’n skynbare magnitude van 5,5. Dit het ook talle ongewone spektraallyne, wat daarop dui dat dit dalk deur materie besoedel word wat deur Antares uitgewerp word.[2] Daar word aangeneem dit is ’n relatief normale vroeë B-tipe ster met ’n massa van sowat sewe keer dié van die Son, ’n temperatuur van 18 500 K en ’n radius van omtrent vyf keer die Son s'n.[10]
Antares B is gewoonlik moeilik sigbaar vanweë die hoofster se gloed, maar kan soms gesien word in lensopeninge van groter as 150 mm.[41] Dit word dikwels as groen beskryf, maar dit is waarskynlik óf ’n kontraseffek[42] óf die gevolg van die vermenging van lig van die twee sterre wanneer hulle so naby aan mekaar gesien word deur ’n teleskoop dat hulle nie heeltemal van mekaar onderskei kan word nie. Antares B kan soms vir ’n paar sekondes deur ’n klein teleskoop gesien word terwyl Antares deur die Maan verduister word.[17].
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.