Vonones I van Partië
From Wikipedia, the free encyclopedia
Vonones I (Grieks: ΟΝΩΝΗΣ, Onōnēs op sy muntstukke) was van 8 tot 12 n.C. koning van die Partiese Ryk en daarna, van 12 tot 18 n.C., die heerser van die Koninkryk Armenië. Hy was die oudste seun van Fraates IV en is in 10/9 v.C. as gyselaar na Rome gestuur om te voorkom dat daar konflik is in die troonbestyging van Fraates se jongste seun, Fraatakes.
Vonones I | |
---|---|
Koning van konings | |
'n Tetradragme van Vonones I, gemunt by Seleukië. | |
Koning van die Partiese Ryk | |
Heerskappy | 8-12 n.C. |
Voorganger | Orodes III |
Opvolger | Artabanus II |
Oorlede | 19 n.C. |
Dinastie | Arsakiede |
Vader | Fraates IV |
Religie | Zoroastrisme |
Vonones het koning geword nadat die Parters Augustus ná die dood van Orodes III omstreeks 6 n.C. gevra het vir 'n nuwe koning uit die Huis van Arsakes.[1] Augustus het Vonones vir hulle gestuur, maar dié kon homself nie as koning handhaaf nie; hy was opgevoed as 'n Romein en die Partiese adel het hom geminag.[1] 'n Ander lid van die Huis van Arsakes, Artabanus II, wat oor Atropatene regeer het, is genooi om die troon oor te neem. In 'n burgeroorlog het hy Vonones I verslaan en van die troon gesit.
Vonones het na Armenië gevlug en in 12 n.C. hulle koning geword.[2] Artabanus II het hom van die Armeense troon probeer afsit om sy eie seun as koning aan te stel.[3] Rome het 'n stokkie daarvoor gesteek omdat hulle gevoel het dit hou 'n bedreiging vir hulle in.[3] Eindelik is Artaxias III as nuwe koning aangewys. Die Romeine het Vonones I na Sirië gestuur, waar hy aangehou is. Hy is later na Sisilië geskuif, waar hy omstreeks 19 n.C. deur sy wagte vermoor is toe hy probeer ontsnap.[4]