From Wikipedia, the free encyclopedia
Vogue is 'n Amerikaanse maandelikse mode-en-leefstyltydskrif wat oor baie onderwerpe handel, insluitende haute couture-mode, skoonheid, kultuur en leefstyl. Dit is gebaseer in One World Trade Center in die sakedistrik van Laer Manhattan. Dit is in 1892 as 'n weeklikse tydskrif begin en het jare later 'n maandblad geword. Sedert Vogue gestig is, het dit artikels oor talle akteurs, musici, modelle, atlete en ander vername sterre gehad. Die grootste uitgawe, in September 2012, was 900 bladsye dik.
Vogue | |
---|---|
Redakteur | Anna Wintour |
Kategorieë | Mode |
Frekwensie | Maandeliks |
Uitgewer | Condé Nast |
Totale Oplaag | 1 242 282 (2017)[1] |
Jaar gestig | 17 Desember 1892 , deur Arthur Baldwin Turnure |
Eerste uitgawe | |
Land | VSA |
Taal | Engels |
Webwerf | www |
ISSN | 0042-8000 |
Die Britse Vogue, wat in 1916 gestig is, was die eerste internasionale uitgawe, terwyl die Italiaanse weergawe, Vogue Italia, al die topmodetydskrif in die wêreld genoem is.[2] Daar is tans 26 internasionale uitgawes.
Arthur Baldwin Turnure, 'n Amerikaanse sakeman, het Vogue as 'n weeklikse koerant in New York gestig. Die eerste uitgawe het op 17 Desember 1892 verskyn.[3][4] Van die begin af het die blad berig oor die New Yorkse hoër stand se "gebruike, vermaakbedrywighede, sosiale ontmoetings, die plekke wat hulle dikwels besoek en die klere wat hulle gedra het ... en almal wat soos hulle wou lyk en deel van hulle eksklusiewe sirkel wou word".[5]
Die hooffokus van die tydskrif was mode, met artikels oor sport en sosiale geleenthede bygevoeg ter wille van die manlike lesers.[6] Die blad het in dié tyd stadig gegroei.
Condé Montrose Nast het Vogue in 1909 gekoop, drie jaar ná Turnure se dood, en die blad geleidelik laat groei. Hy het dit in 'n vrouetydskrif verander en in die 1910's oorsese uitgawes laat verskyn. Die prys is ook verhoog. Die tydskrif se getal publikasies en wins het drasties toegeneem onder Nast se bestuur. Sy teikenmark was steeds die ryk deel van die gemeenskap en dit het ook oor troues begin berig. Die Britse Vogue het in 1916 begin verskyn en die Franse Vogue in 1920.
Die tydskrif se intekeningsyfer het skerp gestyg tydens die Groot Depressie en weer in die Tweede Wêreldoorlog. In dié tyd het die bekende resensent en voormalige redakteur van Vanity Fair, Frank Crowninshield, as redakteur gedien nadat die uitgewer Condé Nast hom daarheen geskuif het.[7]
In Julie 1932 het die Amerikaanse Vogue sy eerste kleurfoto op die voorblad geplaas. Dit is deur Edward Jean Steichen geneem en was van 'n swemster wat 'n strandbal omhoog hou.[8]
Volgens Laird Borrelli het Vogue die afname in mode-illustrasies veroorsaak deurdat hulle in die laat 1930's geïllustreerde voorblaaie met foto's begin vervang het.[9]
Nast was verantwoordelik vir die bekendstelling van kleurdrukwerk en dubbelbladartikels.[5] Hy kry erkenning daarvoor dat hy Vogue tot met sy dood in 1942 in 'n "suksesvolle sake-onderneming" verander het, en in die "vrouetydskrif wat ons vandag ken".[10]
In die 1950's, die dekade bekend as die tydskrif se "kragtige jare",[11] het Jessica Daves die hoofredakteur geword. Daves het uitnemendheid nagestreef in "een van die uitdagendste, herskeppendste en rykste dekades van die tydskrif se geskiedenis".[12] Sy het geglo "smaak kan geleer en aangeleer word",[13] en het Vogue gelei met die oortuiging dat dit 'n werktuig moet wees "om die publiek in smaak op te voed".[11] Hoewel mode die fokus gebly het, het sy geskrewe inhoud ook verbeter en veral artikels oor kuns en letterkunde bygevoeg.[12]
Die Daves-tydperk van Vogue het in 1962 geëindig toe Diana Vreeland by die tydskrif aagesluit het: eers as mederedakteur en ná Daves se vertrek in Desember 1962, hoofredakteur.[12] Die twee het heeltemal teenoorgestelde idees gehad. Daves het die beroemde verklaring gedoen dat mode opwindend, maar ook 'n ernstige saak is.[12] Aan die ander kant het Vreeland geglo dit is "net vermaak", soos sy eenkeer aan die kunsdirekteur Alexander Liberman gesê het.[14] Sy het die tydskrif 'n tydperk binnegelei van jeug en lewenskragtigheid, maar ook "oordaad, luukse en uitspattigheid".[15]
In die 1960's, onder Diana Vreeland, het die tydskrif byval begin vind by die jong mense van die seksuele revolusie deur te fokus op meer kontemporêre mode en artikels wat seksualiteit openlik bespreek. Om dit reg te kry het Vogue sy dekking uitgebrei na boetieks in die East Village met sy kunstenaars, studente en hippies. Artikels is gedoen oor die gunstelinguithangplekke van mense soos die Andy Warhol-"superster" Jane Holzer.[16] Die name van hulle modelle, soos Suzy Parker, Twiggy, Lauren Hutton, Veruschka en Marisa Berenson was op almal se lippe.[17]
In 1973 het Vogue 'n maandtydskrif geword.[18] Onder die hoofredakteur Grace Mirabella het die blad groot redaksionele en stilistiese veranderings ondergaan in reaksie op die veranderings in lewensteyl van sy teikenmark.[19] Mirabella het gesê sy is gekies om Vogue te verander, want "vroue is nie daarin geïnteresseerd om te lees oor die koop van klere wat geen doel in hulle veranderende lewens dien nie".[20] Sy is gekies om die tydskrif byval te laat vind by die vrye, werkende, "bevryde" vrou van die sewentigs.[20] Sy het die tydskrif verander met die byvoeging van onderhoude, kunsonderwerpe en ernstige artikels oor gesondheid. Toe dié soort artikels in die 1980's trefkrag verloor, is Mirabella afgedank.[20]
In Julie 1988, nadat Vogue lesers begin afstaan het aan die drie jaar oue vrouetydskrif Elle, is Anna Wintour as hoofredakteur aangestel.[21][22] Wintour, wat bekend is vir haar tipiese voorkoms met 'n bobhaarsnit en donkerbril, het die tydskrif probeer red deur dit jonger en toegankliker te maak;[23] sy het die fokus verskuif na nuwe en toeganklike begrippe van "mode" vir 'n breër publiek.[24] Wintour se invloed het die tydskrif sy hoë sirkulasie laat behou, terwyl die personeel nuwe neigings ontdek het wat meer lesers kon bekostig.[24]
Op haar eerste voorblad het sy byvoorbeeld 'n driekwartlengtefoto van die Israeliese model Michaela Bercu gehad met 'n Christian Lacroix-baadjie met juwele en 'n jean – iets heel anders as haar voorgangers se neiging om net die model se gesig te wys. Volgens The New York Times het dit beide die model se klere en haar liggaam belangrik gemaak.[25] Soos die moderedakteur, Grace Coddington, in haar memoires geskryf het: Die voorblad "keur 'n demokratiese nuwe hoë/lae houding tot aantrek goed; dit voeg 'n bietjie jeugdige maar gesofistikeerde gewaagdheid by, en versier dit met 'n skeut vertroulike energie en dryfkrag wat dui op vinnig iewers kom. Dit was volkome Anna."[23]
Wintour het haar doelwitte bly haal om Vogue van nuwe lewenskrag te voorsien en het van die tydskrif se grootste uitgawes gepubliseer. Die uitgawe van September 2004 was 832 bladsye dik, toe die grootste nog vir 'n maandtydskrif.[22] Wintour is steeds hoofredakteur van die Amerikaanse Vogue.
Die kontras tussen Wintour se visie en dié van haar voorgangers word deur beide haar kritici en verdedigers as treffend beskryf. Amanda Fortini, 'n mode- en stylbydraer tot die tydskrif Slate, meen haar beleid was voordelig vir Vogue en het dit gered van wat sommige kritici die tydskrif se "beige jare" genoem het.[26]
Die destyds 38-jarige Wintour was voorheen hoofredakteur van die Britse Vogue en van House & Garden. Sy was bekend vir haar goeie visuele sin en haar vermoë om 'n tydskrif reg te ruk. Deur haar loopbaan was Wintour bekend as koud en moeilik om mee saam te werk. In 'n artikel op Biography.com erken Wintour sy is "baie gedrewe" deur wat sy doen en sê sy: "Ek is vir seker baie mededingend. Ek hou van mense wat die beste lewer wat hulle kan, en as dit jou 'n perfeksionis maak, dan is ek dalk een."[22]
Tot in Desember 2020 het 10 mans op die voorblad van die Amerikaanse Vogue verskyn:[27][28][29]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.