Turffontein (plaas)
From Wikipedia, the free encyclopedia
Turffontein was een van die plase waarop die stad Johannesburg aangelê is. As gevolg van onderverdeling het dit teen 1886, met die stigting van die Goudstad, uit twee dele bestaan: Turffontein No. 137 in die noorde en Turffontein No. 135 in die suide.
Vanweë Turffontein se sentrale ligging grens dit aan al die plase waarop die oudste dele van Johannesburg aangelê is. Dit is Braamfontein en Randjeslaagte in die noorde, Doornfontein en Klipriviersberg in die ooste, Rietvlei in die suide, en Ormonde en Langlaagte in die weste.
Die voorstad Turffontein, wie se naam aan die plaas s’n ontleen is en waarop dit uitgelê is, is op 27 September 1886 geproklameer as een van Johannesburg se eerste voorstede. Die eerste NG gemeente in die suide van Johannesburg, die NG gemeente Turffontein, het vanaf sy ontstaan in 1906 La Rochelle geheet na aanleiding van die voorstad La Rochelle, maar ook vanweë La Rochelle se betekenis ("die Rots", Christus) en omdat die laaste Hugenote vanaf La Rochelle in Frankryk na Suid-Afrika gevaar het. Dié gemeente se naam is in 1938 na Turffontein verander toe Rosettenville van die moedergemeente afstig en die voorstad La Rochelle by die nuwe gemeente ingesluit word.