From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Taurides is ’n meteoorreën wat verbind word met Komeet 2P/Encke, of Encke se Komeet. Hulle word so genoem vanweë hul uitstralingspunt wat in die sterrebeeld Bul (Taurus) lê.
Taurides | ||
Moederliggaam | 2P/Encke | |
Uitstralingspunt | ||
Sterrebeeld | Bul | |
Eienskappe | ||
Voorkoms | Suidelik: 10 September – 20 November Noordelik: 20 Oktober – 10 Desember | |
Hoogtepunt | Suidelik: 10 Oktober Noordelik: 12 November | |
Spoed | 27 km/s | |
Sterre per uur | 5 |
Encke en die Taurides is vermoedelik oorblyfsels van ’n baie groter komeet wat oor die afgelope 20 000 tot 30 000 jaar verbrokkel het.[1] Dié stroom deeltjies is die grootste in die binneste Sonnestelsel. Omdat die stroom taamlik versprei is, duur dit verskeie weke vir die Aarde om daardeur te beweeg en hou die meteoorreën baie lank aan in vergelyking met ander reëns. Die Taurides bestaan ook uit swaarder materiaal: klippies in plaas van stof.[2]
Die Taurides kom voor teen sowat 5 meteore per uur; hulle beweeg stadig deur die lug teen sowat 27 km per sekonde.[2] Die groter dele kan boliede veroorsaak wat helderder as die volmaan is en rookstrepe agterlaat.[2]
Vanweë swaartekragversteurings deur ander planete, veral Jupiter, het die Taurides mettertyd versprei en bestaan daar aparte segmente, die Noordelike Taurides (NTA) en Suidelike Taurides (STA). Laasgenoemde is aktief van omtrent 10 September tot 20 November en eersgenoemde van omtrent 20 Oktober tot 10 Desember. Hulle is wesentlik twee deursnitte van ’n enkele, breë stroom in die ruimte. Die Beta Taurides en Zeta Perseïdes, wat in Junie/Julie deurkruis word, is ook deursnitte van die stroom wat die Aarde van sy dagkant af nader en dus nie gesien kan word soos die nagtelike NTA en STA van Oktober/November nie.
Die Tauride-stroom het ’n siklus wat rofweg elke 2 500 tot 3 000 jaar ’n hoogtepunt bereik[3] wanneer die middelste deel nader aan die Aarde verbybeweeg en meer intense reëns veroorsaak. Die volgende hoogtepunt is na verwagting omstreeks die jaar 3000.[3]
In 1995 het kameras in Pole ’n Tauride-bolied met ’n absolute magnitude van -17 afgeneem wat na raming 900 kg swaar was en moontlik ’n deursnee van ’n meter gehad het.[4]
In 1993 is voorspel daar sou in 2005 ’n swerm Tauridemeteore wees.[2] Rondom Halloween in 2005 is baie vuurballe gesien wat mense se nagvisie beïnvloed het.[2] Sterrekundiges het hulle die "Halloweenvuurballe" genoem.[2] Tydens die Suidelike Taurides in 2013 is vuurballe oor Suid-Kalifornië, Arizona, Nevada en Utah waargeneem.[5]
Die Toengoeska-voorval op 30 Junie 1908 in Siberië kon deur ’n Tauridemeteoor veroorsaak gewees het.[3] [6] Op 11 November 2019 is ’n Tauridevuurbal bo St. Louis, Missouri, gesien.[7]
Die kort flits van ’n impakvoorval op die Maan is op 7 November 2005 deur die Nasawetenskaplike Rob Suggs en die sterrekundige Bill Cooke waargeneem terwyl hulle ’n nuwe teleskoop en videokamera uitgetoets het wat hulle gebou het om die Maan dop te hou vir meteoortrefskote.[8] Nadat hulle sterkaarte bestudeer het, het hulle tot die gevolgtrekking gekom dat die impak moontlik deur die Taurides veroorsaak is. Dit kan die eerste fotografiese bewys van ’n impak wees, hoewel mense al beweer het hulle het sulke seldsame gebeure gesien.[9]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.