Menmaatre Seti I was ’n farao van die 19de Dinastie van Antieke Egipte. Hy was die seun van Ramses I en Sitre, en die pa van Ramses II. Nes met ander farao's is die presiese datum van sy bewind nie seker nie, maar datums wat dikwels aangegee word, is 1294-1279 v.C.[1] en 1290-1279 v.C.[2]
Die naam Seti beteken "van Set", wat verwys na die god Set. Nes ander farao's het hy verskeie name gehad. Met sy troonbestyging het hy die praenomen of troonnaam "mn-m3‘t-r‘ " aangeneem, wat gewoonlik Menmaatre uitgespreek en as "Gevestig is die Regverdigheid van Ra" vertaal word.[3] Sy nomen of geboortenaam, wat beter bekend was, was "sty mry-n-ptḥ" of Seti Merenptah, wat beteken "Man van Set, gelief by Ptah". Die Griekse priester Manetho het hom verkeerdelik beskou as die stigter van die 19de Dinastie en het gemeen hy het 55 jaar lank regeer, maar geen bewyse van so ’n lang bewind is al gevind nie.