Soria is 'n Sentraal-Spaanse provinsie in die ooste van die outonome gewes Kastilië en León (Spaans: Castilla y León) met 'n oppervlakte van 10 303 vierkante kilometer en 'n bevolking van 89 752 van wie sowat 41 persent in die gelyknamige hoofstad saamgetrek is. Soria grens aan die provinsies La Rioja, Zaragoza, Guadalajara, Segovia en Burgos.

Thumb
Die Laguna Negra de Urbión
Soria
Thumb Thumb
Vlag Wapen
Thumb
Land Vlag van Spanje Spanje
Outonome Gemeenskap Kastilië en León
Hoofstad Soria
Oppervlak
 – Totaal
  % van Spanje
Gelys 23ste
 10 303 km²
 2,04%
Bevolking
 – Totaal (2018)
  % van Spanje
 Bevolkingsdigtheid
Gelys 50ste
 89 752
0,2%
 8,7/km²
dipsoria.es

Soria is die mees yl bevolkte provinsie van Spanje met 'n bevolkingsdigtheid van slegs 9,1 inwoners per vierkante kilometer – een van die laagstes in die Europese Unie. Die provinsie behels meer as 500 nedersettings wat oor 183 munisipaliteite versprei is. Sowat die helfte hiervan het minder as eenhonderd bewoners. Slegs dertien munisipaliteite het 'n bevolking van meer as 1 000 mense, en net in Almazán, El Burgo de Osma-Ciudad de Osma en die hoofstad Soria oorskry die inwonertal die 5 000-kerf.

Soria bestaan uit twee groot landskappe: Die Tierra de Ágreda met die hoofstad Ágreda in die ooste, 'n gebied wat deur landbou- (vrugte) en bosgebiede oorheers word, en die Meseta Soriana, 'n streek waar graan en groente langs die oewers van die Duero-rivier verbou word.

Die noorde van Soria langs die grens met La Rioja is 'n arm en barre landstreek, wat egter met gefossiliseerde voetspore pronk, terwyl die Zona de Pinares die Picos de Urbión behels. Hierdie bergreeks is die bron van die Duero-rivier, en hier is ook die mitiese Laguna Negra de Urbión geleë – 'n meer wat die digter Antonio Machado tot sy gedig La tierra de Alvar González geïnspireer het.

Geskiedenis

Vroeë geskiedenis

Thumb
'n Gerekonstruuerde Keltiberiese huis in Numantia
Thumb
Gormaz

Rotstekeninge in die kalk- en sandsteengrotte van die gebied getuig van die eerste menslike beskawings wat hier sowat 5 000 jaar gelede ontstaan het, terwyl die gefossiliseerde dinosourus-voetspore, wat op talle argeologiese plekke besigtig kan word, selfs uit die tydperk van 140 miljoen jaar gelede dateer. Die sogenaamde "Roete van die Dinosourusse" loop langs die beduidenste vindplekke.

Die Keltiberiese beskawing

Die Keltiberiese bewoners het omstreeks 300 v.C. versterkte dorpe op heuwels bo-oor die vlaktes van Soria opgerig. Numancia (Latyns: Numantia), die beduidenste van hierdie nedersettings, het die Romeinse troepe tydens die verowering van die Iberiese Skiereiland meer as twintig jaar lank die hoof gebied voordat sy bewoners gemeenskaplik selfmoord gepleeg en net 'n brandende dorp aan die Romeine oorgehandig het. Numancia het 'n simbool vir die bewoners van Soria geword.

Die Romeinse periode

Die Romeinse heerskappy oor die gebied het in 133 v.C. begin. Die belangrikste argitektoniese erfenis uit hierdie tydperk is die magtige Romeinse boog in Medinaceli, die enigste van sy soort in Spanje. Tydens argeologiese opgrawings is daarnaas ook van die indrukwekkendste Romeinse mosaïeke in Spanje ontdek. Die Romeine het ook die eerste wingerde in die gebied aangelê.

Die Middeleeue

Tydens die Arabiese heerskappy oor die Iberiese Skiereiland het die indrukwekkende kastele en atalayas, 'n soort kommunikasietorings, ontstaan. Soria spog vandag naas die oorblyfsels van hierdie torings oor 'n buitengewoon hoë digtheid Middeleeuse kastele waarvan sommige met die Orde van die Tempeliers verbind word; die kastele van Ágreda en Castillejo de Robledo is bekende voorbeelde van burge wat deur die orde opgerig is.

Die kasteel van Gormaz was destyds die langste van sy soort in Wes-Europa, en in hierdie streek het die nasionale held van Kastilië, El Cid, talle slagte vir sowel die konings van Kastilië asook die Arabiese heersers van Zaragoza geveg. As 'n soort van grensgebied tussen die Christelike en Islamitiese dele van die Iberiese Skiereiland het die streek 'n beduidende rol by die reconquista, die Christelike herowering van Spanje, gespeel.

Demografie

Alhoewel Soria 2,4 persent van die totale oppervlakte van Spanje beslaan, verteenwoordig sy inwonertal slegs 0,21 persent van Spanje se totale bevolking. Die gemiddelde jaarlikse aantal geboortes beloop net 292. Die ongunstige demografiese ontwikkeling word daarnaas deur veroudering (tien persent van die inwoners is ouer as 80 jaar - meer as die nasionale gemiddeld van ses persent) en binnelandse migrasie na ander Spaanse provinsies gekenmerk. Intussen woon die meeste Sorianos in die provinsie Zaragoza, en die bevolkingsdigtheid is selfs laer as in yl bevolkte lande soos Mali of Angola.

Die owerhede het die isolasie van Soria nog bevorder aangesien daar min aandag aan die ekonomiese ontwikkeling van die provinsie geskenk, spoorlyne gesluit en nie na die opvoedkundige belange van die bevolking omgesien is nie.

Koronaviruspandemie van 2019-20

Soria is een van die gebiede in Spanje wat die ergste getref is deur die Koronaviruspandemie van 2019-20, met sowat 500 sterfgevalle in April 2020.[1]

Kultuur

Argitektuur

Thumb
Die kluis van die Jonkvrou van Mirón in die hoofstad Soria

Die hoofstad Soria het gedurende die Middeleeue sy bloeitydperk beleef en selfs as die hoofstad van Ou Kastilië gedien, die geografiese bakermat van moderne Spaans. Die ekonomiese welvaart van die streek was op die skaapteelt gegrond en word nog steeds in sy ryk argitektoniese erfenis van Romaanse geboue weerspieël. Die kerk van Santo Domingo pronk met een van die pragtigste fasades in die Romaanse boustyl in Spanje. 'n Ander sakrale besienswaardigheid is die geskilderde fresko's in die 11de eeuse kluis van San Baudelio.

Fiestas en tradisies

Soria se tradisies en fiestas is eeue lank bewaar. Die dorp San Pedro Manrique is een van min plekke op aarde waar die outydse ritueel van vuurloop op brandende kole in die sogenaamde Paso de Fuego nog steeds lewendig is. Die stad Soria se beduidendste e kleurrykste fees, wat op die bul gegrond is en ses dae lank gevier word, is dié van San Juan. Elkeen van die ses dae word deur sy eie spesifieke feesvierings gekenmerk, en op die vyfde dag vind 'n pragtige optog in tradisionele kostuums plaas. Die kostuums dateer oorspronklik uit die 13de eeu en het feitlik onveranderd gebly.

Literêre lewe

Alhoewel die digters Antonio Machado (1875–1939) en Gerardo Diego (1896–1987) nie boorlinge van Soria was nie, het die landskap van Soria hulle tot sommige van die beste lirieke werke van Middeleeuse Spaans geïnspireer. Die bekendste Kastiliaanse heldedig Cantar del mio Cid ("Die Heldedig van Cid") oor die groot Kastiliaanse volksheld het omstreeks die 12de of 13de eeu in Soria ontstaan.

Kookkuns

Thumb
El Burgo de Osma huisves eersterangse restourante wat op die plaaslike kookkuns fokus

Soria se kookkuns baseer hoofsaaklik op vleis met bok-, lam- en varkensvleis as die hoofbestanddele van die meeste plaaslike geregte wat hier volgens 'n ander metode berei word as in die res van Kastilië en León. Braaivleisgeregte met die bogenoemde vleissoorte is eweneens gewild.

Naas vleis is ook sampioene en worsies belangrike bestanddele van 'n verskeidenheid geregte. Wilde sampioene is volop in Soria en lok selfs kopers uit ander Europese lande na Soria. Die provinsie se uitstekende swart truffels is gesogte lekkernye vir Franse en Italiaanse fynproewers en word ook na ander wêrelddele uitgevoer.

Soria se klimaat en geografiese besonderhede is uiters geskik vir die vervaardiging van die plaaslike variant van chorizo, 'n gewilde Spaanse worsspesialiteit wat met gedroogde paprika verfyn word. Beesvleis is 'n verdere bestanddeel wat tot die plaaslike chorizo-wors se kenmerkende tekstuur en smaak bydra. Die soet bloedworsies van Soria is een van die mees ongewone spesialiteite in die provinsie. Die worsies word met rosyntjies en suiker verfyn en dikwels in die oond gebak om as 'n gewilde nagereg bedien te word.

Die plaaslike kaassoorte word merendeels van bokmelk gemaak; veral kaassoorte uit die sierra (bergland) is danksy die bergbokmelk 'n gewilde spesialiteit. Ook botter uit Soria is van hoë gehalte en verskil vanweë sy soetheid en laer vetgehalte van gewone bottersoorte.

Stokvis, wat veral van kabeljou gemaak is, was vroeër die grondslag van 'n beduidende plaaslike visbedryf wat voordeel getrek het uit die hoogte en klimaat van Soria. Alhoewel die ou tradisionele droogskure lankal deur moderne fabrieke vervang is, neem gedroogde kabeljou nog steeds 'n belangrike plek in die plaaslike kultuur en kookkuns in.

Die tipiese plaaslike geregte word gewoonlik deur Soria se eersterangse wyne van oorsprong (Ribera del Duero) vergesel wat onder die bestes in Spanje gereken en veral in die weste van die provinsie verbou word. Die bodegas of tradisionele wynkroeë bewaar die erfenis van Soria se wynkultuur.

Verwysings

Eksterne skakels

Wikiwand in your browser!

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.

Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.