Poerim
From Wikipedia, the free encyclopedia
Poerim (Hebreeus: פּוּרִים, Pûrîm, luister (hulp·inligting), afgelei van פור poer, letterlik: "lot", verwant aan Akkadies: pūru; Jiddisj: Purim of Pirem) is 'n Joodse fees wat die redding van die Jode uit die hande van Haman herdenk. Haman was volgens die Hebreeuse Bybel van plan om al die Jode binne die Achaemenidiese Ryk te vermoor. Die hele Bybelse boek Ester (Hebreeus: מגילת אסתר, Megillat Ester) beskryf dié verhaal en die jaarlikse viering van dié fees word in Ester 9,20–23 bepaal.[2] Dit word op 14 Adar in die Joodse kalender gevier en val daarmee in die vroeë lente van Israel. In skrikkeljare word dit op 14 Adar II gevier.[3] In stede wat in die tyd van die Tweede Tempel ommuur was, word Poerim een dag later, op 15 Adar – die sogenaamde Sjoesjan Poerim – gevier; hedendaags is dit net in Jerusalem en 'n paar ander stede die geval.
Nes Chanoeka is Poerim een van die kleiner (na-Bybelse) Joodse feeste en bedags is dit 'n gewone werkdag.