From Wikipedia, the free encyclopedia
Fobos (Grieks: Φόβος; ook Mars I[7]) is die grootste en naaste van die twee mane van die planeet Mars, die ander is Deimos. Dit is vernoem na Fobos, 'n seun van Ares (Mars) en Afrodite in die Griekse mitologie, wat "angs" of "paniek" beteken.[7] Fobos se wentelbaan is die naaste van enige ander maan van 'n planeet in die sonnestelsel, minder as 6000 km bo die oppervlak van Mars. Dit is ook een van die kleiner mane in die sonnestelsel.
Fobos, soos waargeneem deur die Mars Reconnaissance Orbiter-wenteltuig op 23 Maart 2008. | |
Ontdekking | |
---|---|
Ontdek deur | Asaph Hall |
Datum | 18 Augustus 1877 |
Alternatiewe name | Mars I |
Wentelbaaneienskappe | |
Epog J2000 | |
Periapside | 9 518,8 km 5 914,7 myl |
Apoapside | 9 377;2 km 5 826,7 myl |
Halwe lengteas | 9 235,6 km 5 738,7 myl[1] |
Wentelperiode | 0,31891023 dae 7 h 39,2 min |
Gem. omwentelingspoed | 2,138 km/s 1,328 myl/s |
Baanhelling | 1,093° (tot Mars se ewenaar) 0,046° (tot onveranderbare vlakte) 26,04° (tot Ekliptika) |
Satelliet van | Mars |
Fisiese eienskappe |
|
Afmetings | 26,8 × 22,4 × 18,4 km (11,4 myl[2]) |
Gem. radius | 11,1 km 6,9 myl[3] (0,002 Aardes) |
Oppervlakte | 6 100 km² 2 400 myl² (11,9 µ-Aardes) |
Volume | 5 680 km³ 1 360 mi³[4] (5,0 n-Aardes) |
Massa | 1,072×1016 kg (1,8 n-Aardes) |
Gem. digtheid | 1,876 g/cm3[5] |
Oppervlak- aantrekkingskrag | 0,0084–0,0019 m/s2 (8,4–1,9 mm/s2) (860–190 µg) |
Ontsnapping- snelheid | 11,3 m/s 40 km/h |
Rotasieperiode | sinchronies |
Rotasiespoed by ewenaar | 11,0 km/h 6,8 mph |
Ashelling | 0° |
0,071[3] | |
Temperatuur | ~233 K |
Skynmagnitude | 11,3[6] |
Fobos is die eerste keer waargeneem deur die Amerikaanse sterrekundige Asaph Hall op 18 Augustus 1877 by die Amerikaanse marine-sterrewag in Washington, D.C. om 09:14 MGT.[8] Asaph Hall het ook Deimos, Mars se ander maan, ontdek.
Die name is voorgestel deur Henry Madan (1838–1901), natuurwetenskapmeester by Eton, vanuit Boek XV van die Ilias, waar Ares sy twee seuns (Phobos en Deimos) oproep.[7][9]
Fobos is van naderby gefotografeer deur Mariner 9 in 1971, Viking 1 in 1977, Fobos 2 in 1988, Mars Global Surveyor in 1998 en 2003, en deur die Mars Express in 2004 en 2008.
Fobos se wentelbaan is so naby aan Mars, dat dit vinniger beweeg as Mars se eie rotasiespoed. Dus styg Fobos in die weste, beweeg in 4 uur 15 minute oor die lugruim van Mars en sak weer in die ooste. Hierdie siklus word ongeveer twee keer per Marsdag (11 uur 6 minute) herhaal. Dit is so naby aan die oppervlak van Mars, dat dit nie gesien kan word van punte bo die 70,4'ste breedtegraad van Mars nie.
Hierdie lae wentelbaan beteken dat Fobos uiteindelik vernietig sal word. Getykragte is besig om die wentelbaan al verder te erodeer, op die oomblik teen 1,8 meter per eeu, en binne die volgende 50 miljoen jaar sal Fobos of op Mars val of, meer waarskynlik, opbreek om 'n ring te vorm. Indien Fobos gemodelleer word as 'n puinhoop, volgens die Mohr-Coulombteorie en gegewe die onreëlmatige vorm van Fobos, word dit bereken dat dit tans stabiel is in terme van getykragte, maar dat dit sal val binne sy Rochelimiet wanneer die wentelbaanradius val onder 8400 km. Dit sal waarskynlik in hierdie stadium, of kort daarna, opbreek.[10]
Gesien vanaf Fobos is Mars 6400 keer groter en 2500 keer meer helder as die maan soos gesien vanaf die aarde. Dit neem 'n volle kwart van die wydte van die lugruim op.
Gesien vanaf Mars se ewenaar is Fobos 'n derde van die hoekdeursnit van 'n vol maan soos gesien vanaf die aarde. Waarnemers by hoër lengtegrade (minder as 70,4°) sal 'n kleiner hoekdeursnit sien aangesien hulle verder weg is vanaf Fobos. Hierdie verskil is opmerkbaar as gevolg van Fobos se klein wentelbaan. Fobos se waarneembare grootte sal verskil met tot 45%. Vir 'n waarnemer by die ewenaar sal Fobos 'n hoekdeursnit het van 0,14° op die horison, terwyl dit toeneem tot 0,20° by sy toppunt. Daarteenoor is die son se hoekdeursnit vanaf Mars ongeveer 0,35°.
Fobos is taamlik donker en die oppervlakmateriaal is klaarblyklik uit C-tipe saamgestel. Dit is soortgelyk aan die C-tipe (swart) asteroïde van die buitenste asteroïdegordel. Fobos se digtheid is egter te laag om van soliede rots te wees. Dit is waarskynlik saamgestel uit 'n mengsel van rots en ys. Die Sowjetruimtetuig, Fobos 2, het 'n geringe maar konstante gasstroom vanaf Fobos waargeneem. Die aard van hierdie gas kon nie vasgestel word nie, maar dit is waarskynlik water. Onlangse beelde vanaf die Mars Global Surveyor dui aan dat Fobos bedek is met 'n fyn laag stof, soortgelyk aan dié van die aarde se maan.
Fobos is uiters onbolvormig, met afmetings van 27 × 21,6 × 18,8 km. Dit het verskeie kraters en die opmerklikste terreinvorm is die Stickneykrater, genoem na Asaph Hall se vrou, Angeline Stickney (nooiensvan). Soortgelyk aan die Herschalkrater op Mimas moes die impak wat die Stickneykrater veroorsaak het, amper Fobos versplinter het. Die groewe op Fobos se oppervlak, tipies 30 m diep, 100 – 200 m wyd en tot 20 km lank, is waarskynlik ook tydens die Stickneyimpak gemaak.
Fobos en Deimos is rotsagtige, koolstofryke mane, en vanweë hierdie eienskappe word daar algemeen geglo dat albei oorspronklik asteroïdes was wat 'n lang tyd ná hul ontstaan in Mars se gravitasieveld vasgevang is.[11] Daar is ook sprake dat hulle van 'n verafgeleë deel van die sonnestelsel kom en nie van die hoof-asteroïdegordel nie.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.