From Wikipedia, the free encyclopedia
Nemesis was 'n hipotetiese rooidwerg[1] of bruindwerg[2] wat aanvanklik in 1984 voorgestel is[3] as 'n ster wat om die Son gewentel het op 'n afstand van sowat 95 000 AE (1,5 ligjare),[2] iewers anderkant die Oortwolk. Die doel was om 'n veronderstelde patroon van massauitsterwings in die geologiese rekord te verduidelik, wat gelyk het of dit elke 26 miljoen jaar voorkom.[2][4] In 'n verhandeling van 2017 argumenteer Sarah Sadavoy en Steven Stahler die Son was waarskynlik deel van 'n dubbelster toe dit gevorm het, en hulle het voorgestel "daar was moontlik 'n Nemesis, 'n lang tyd gelede".[5][6]
So 'n ster sou meer as 4 miljard jaar gelede van die dubbelstelsel geskei geraak het, wat beteken dit sou nie vir die onlangser veronderstelde siklus massauitsterwings verantwoordeelik kon gewees het nie.[7]
Volgens onlangser teorieë het ander kragte, soos sterre wat naby die Son verbybeweeg het, dalk 'n rol gespeel in versteurings van sommige voorwerpe in die buitenste Sonnestelsel.[8] In 2010 het A.L. Melott en R.K. Bambach bewyse in die fossielrekord gevind vir die tempo van massauitsterwings soos oorspronklik in 1984 bepaal, maar oor 'n langer tydperk (amper twee keer so lank).[9] In 2011 het Coryn Bailer-Jones kraters op die oppervlak van die Aarde ontleed en tot die gevolgtrekking gekom die kraterrekord wys geen aanduiding van 'n Nemesis nie.[10] Die Infrarooi Astronomiese Satelliet (IRAS) kon Nemesis nie in die 1980's ontdek nie. Die 2MASS-sterrekunde-opname, wat van 1997 tot 2001 geduur het, het nie 'n bykomende ster of bruindwerg in die Sonnestelsel waargeneem nie.[11]
Die WISE-teleskoop met sy kragtiger infrarooiregnologie wat bruindwerge van so koel as 150 kelvin kan opspoor op 'n afstand van tot 10 ligjare van die Son af,[12] het ook nie Nemesis bespeur nie.[13][14] In 2011 het David Morrison, 'n senior wetenskaplike van Nasa wat bekend is vir sy werk in die risikobepaling van naby-aarde-voorwerpe, geskryf daar is geen vertroue in die bestaan van 'n voorwerp soos Nemesis nie, want infrarooi lugopnames sou dit opgespoor het.[13][15][16][17]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.