From Wikipedia, the free encyclopedia
Die NG gemeente Middelburg (Kaap) was 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die teenswoordige provinsie Oos-Kaap wat op 19 Mei 1852 gestig is as die 10de gemeente in die latere Sinode van Oos-Kaapland en die 49ste oudste gemeente in die NG Kerk, maar het op 13 September 2010 met die NG gemeente Middelburg-Uitsig saamgesmelt as die NG gemeente Middelburg-Karoo. Dit is die oudste gemeente wat amptelik ophou bestaan het of opnuut gestig is deur inlywing of samesmelting.
Teen die middel van die 19de eeu het die gemeente Colesberg ook die wyk Rhenosterberg ingesluit. Vanweë swak vervoergeriewe destyds, asook die lang afstande na die kerk op Colesberg, het gemeentelede in hierdie verafgeleë wyk daarna gestreef om 'n afsonderlike gemeente te stig. Hierin is hulle gesteun deur lidmate in die aangrensende uithoeke van die gemeentes Graaff-Reinet, Cradock en Richmond.
Nadat 'n naamlys van persone wat begerig was om 'n nuwe gemeente te stig, voorgelê is, het die kerkraad van Colesberg op 6 April 1852 soos volg besluit: “De Wel-Eerw. Kerkraad van Colesberg geeft met deze een volkomene toestemming tot de nieuwe oprichting op Driefontein en bidt dat die Albestierende Opperhoofd der Kerk de belanghebbers goedgunstig bestieren wil, en hun voornemens spoedig wil doen gelukken.” So het dit dan gebeur dat die nuwe gemeente, Middelburg, op 19 Mei 1852 gestig is op die plaas Driefontein wat vir dié doel aangekoop is deur bemiddeling van die twee here Willem S. Smit en Henning J.H. Coetzee. Die stigtingsvergadering is deur groot geesdrif gekenmerk. Oor die naam van die gemeente was almal dit eens omdat die plaas Driefontein byna in die middel geleë is tussen die naburige dorpe (synde 'n afstand van 10 uur te perd vanaf Colesberg, Cradock en Richmond, 12 uur van Graaff-Reinet en 16 van Burgersdorp). Die lede van die Ringskommissie van Graaff-Reinet deur wie die amptelike stigting plaasgevind is, was ds. Andrew Murray van die NG gemeente Graaff-Reinet, ds. J.F. Berrangé van die NG gemeente Richmond en die ouderlinge Barend Pienaar en J.J. Naudé.
Die eerste konsulent was ds. John Murray, destyds van die leraar van die NG gemeente Burgersdorp en later professor aan die Kweekskool op Stellenbosch, en die eerste leraar ds. William Murray, sy jonger broer. Vir hom moes dit 'n bedroewende ervaring gewees het toe die Gereformeerde kerk Middelburg, Kaap op 1 Desember 1860 gestig word. Hy was nog ongetroud en het ingewoon by een van sy ouderlinge, H.T.J. van der Walt, mede-eienaar van die plaas Grootfontein, waarop die nuwe gemeente gestig is. Hierdie ou vader het ook by die Gereformeerde Kerk aangesluit en is as ouderling verkies. "Van ds. Murray," getuig 'n tydgenoot, "kan ek niet dan goed getuigen. Hij was ons nooit kwaad gezind. Hij klaagde dat de steunpilaren zijner gemeente hem ontvallen waren".
Tydens die eerste eeu van die gemeente se bestaan het die volgende leraars hier gearbei, behalwe hulppredikers wat van tyd tot tyd die vaste leraar bygestaan het: William Murray (1854-'65), ds. C.S. Morgan (1866-'73), ds. J.R. Albertyn (1874-'83), Gerrit van Niekerk (1884-1903), Paul August Winter (1903-'08), Ebbe Dommisse (1909-'1920), Louis Johannes Fourie (1921-'38), G.P. van den Berg (1939-'41), J.L. Nel (1940-'41), G.C. le Roux (1942-'47), I.E. Heyns (1943-'46), J.J. Sieberhagen (1946-'50), P.F. de V. Muller (vanaf 1948) en N. Schreuder (vanaf 1951).
Vrydagoggend 22 Januarie 1909 was Middelburg in rep en roer in afwagting van die koms van die nuwe leraar, ds. Ebbe Dommisse, wat omstreeks tienuur sou aankom. Talle rytuie is al vroeg weg om ds. en mev. Dommisse tegemoet te gaan. Op die plek waar die ontmoeting plaasgevind het, is Psalm 146:1 gesing en 'n gebed deur die heer G. Viljoen gedoen, waarna die stoet dorpwaarts gekeer het. Intussen het die Sondagskoolkinders by die pastorie hul plek ingeneem in rye, waartussen die leraar en sy vrou na die pastorie sou loop. Om tienuur het die lang optog aangekom, met ds. en mev. Dommisse in die eerste rytuig, 'n landau deur vier perde getrek. 'n Hele skare van gemeentelede was teenwoordig toe hulle afklim en plek inneem op die verhoog wat voor die tuinhek van die pastorie opgerig is, en waaroor die woord "Welkom" in groot goue letters gepryk het. Die kinders het Breng mij de oude tijding gesing onderwyl die volgende gaste op die verhoog plekke ingeneem het: die konsulent, ds. J.H. Krige, ds. A.J. Malherbe van Dewetsdorp, eerw. Dekker, ds. J.G.H. van der Walt van die Geref. Kerk, en eerw. A.J. Kropholler. 'n Aantal adresse is toe aangebied van die kerkraad, die Sondagskoolonderwysers en -kinders, die Christelike Strewersvereniging, die Christelike Jongelingsvereniging, die NG sendinggemeente, die publieke skoolkomitee en die munisipaliteit.
Ds. Dommisse het kortliks op die verskillende adresse geantwoord en gesê dat hy baie klein voel om te dink dat hy die voetstappe van 'n groot man soos wyle ds. Winter moes druk. Van die Here sou egter die krag kom om die stryd op hom te neem. Hy was veral bly dat die eerste adres van die kerkraad was, want hy verwag veel van hulle. Hulle moes die Aärons en die Hurs wees om sy arms te sterk; hulle moes die oë van die gemeente wees en hom help om sy weg te baan tot die hart van die lede. Sy antwoord op die ander adresse was ook kernagtig en welsprekend, en met 'n "God seën u almal" het die verrigtinge afgeloop.
Enige susters van die gemeente het die nuwe leraar en sy gesin, die besoekende predikante, die kerkraadslede en hul eggenotes, en die sendelinge 'n eetmaal aangebied wat deur almal geniet is. Ook hier was daar toesprake waarop ds. Dommisse gepas geantwoord het. In die namiddag was daar 'n baie aangename tuinparty op die landboutentoonstellingsterrein. Die musiekkapel is verander in 'n resepsiekamer en die gemeentelede en gaste is aan ds. en mev. Dommisse deur die heer G.N.A. Theunissen voorgestel.
Saterdagoggend was die groot kerk vol toe ds. Dommisse bevestig is. Ds. Van der Walt en sy kerkraad en nog baie ander lede van die Gereformeerde Kerk was teenwoordig. Die feesredenaar was ds. A.J. Malherbe van Dewetsdorp, 'n boesemvriend van ds. Dommisse. Hy het na aanleiding van Joh. 1:6 gepreek: "Daar was 'n man van God gestuur, wie se naam Johannes was."
Ná die bevestiging het die gebruiklike seënwense plaasgevind. In die namiddag was die kerk weer stampvol toe ds. Dommisse sy intreepreek lewer; sy teks was "Ga met ons en wy zullen u weldoen" (Num. 10:29). Die verrigtinge is Sondagaand afgesluit met 'n konferensie met die gemeente oor Bekering, waaraan al die besoekende predikante deelgeneem het. Daarna is afskeid geneem van ds. Krige as konsulent. Hy het veral die kerkraad, eerw. Dekker en eerw. Kropholler bedank vir hulle hulp wat sy werk lig gemaak het. 'n Adres vergesel van 'n beurs is aan ds. Krige, uit naam van die kerkraad, aangebied. Ds. Dommisse, wat as voorsitter vir die aand opgetree het, het almal weer bedank vir die hartlike ontvangs en die feestelikhede het tot 'n end gekom met die sing van Gesang 96 en die uitspreek van die seën deur ds. Krige.
Gedurende die vakature, voor ds. Dommisse se koms, het die sektes taamlik opgang gemaak op Middelburg, maar die getroue arbeid en evangelieprediking van die nuwe leraar het al die sektes binne 'n jaar 'n natuurlike dood laat sterwe. Dié bearbeiding was nie maklik nie, want die gemeente was groot en die predikant het in daardie dae nog kar en perde of 'n ryperd gebruik. So uitgebrei was die werk dat eerw. Dekker, die plaaslike sendeling, gevra is om teen 'n vaste vergoeding die leraar behulpsaam te wees met besoek op die dorp en met buitekerke waar nodig.
Ds. Dommisse het baie belang getel in die opvoeding van die kinders van die gemeente. Tydens sy bediening is deur sy arbeid, bemoediging en die oprig van 'n kerkkoshuis al die kinders van die twee gemeentes (NG en Geref. kerk) op skool gebring. Die twee kerke het gewoonlik besonder goed saamgewerk in belang van die opvoeding op Middelburg. Die NG kerk het ook 'n studiefonds gestig om hulpbehoewende seuns en dogters te help om hul studies voort te sit; hierdie geleende gelde moes terugbetaal word sodra hulle begin verdien sodat die fonds 'n voortdurende bron van hulp kon word. Die lange jare van droogte het groot armoede in die gemeente veroorsaak, en om 'n goeie verdienste te besorg aan baie huisgesinne, het die kerkraad en die ACVV onder leiding van mev. Dommisse 'n wasinrigting opgerig wat 'n groot sukses was. Baie seuns en dogters is ook in hierdie jare na nywerheidsinrigtings weggestuur om later goeie en nuttige burgers te word.
In 1911 het mnr. en mev. Johannes van Jaarsveld 'n mooi nuwe rostrum in die kerk laat plaas, die galery laat verander en drie nuwe hanglampe as geskenk gegee. Die ou preekstoel is afgestaan aan die gemeente Steynsrust in die Vrystaat.
In 1912 het die kerkraad, in samewerking met die Vrouesendingbond en die ACVV, besluit dat daar in die vervolg net een groot jaarlikse basaar in die gemeente gehou sal word, naamlik die dankfeesbasaar, en dat uit die opbrengs die som van minstens £60 aan die VSB en ACVV elk betaal sou word vir hul werksaamhede. Hierdie besluit is jare lank volgehou en die somme aan die twee liggame deur die kerkraad uitbetaal het gewissel van £60 tot £85 elk per jaar. Eindelik, egter, is in 1923 die gedagte in die kerkraad uitgespreek dat albei liggame voortaan niks meer uit die dankfeesfondse behoort te kry nie maar vir eie fondse moes sorg.
In die loop van 1914 het die kerkraad besluit om die leraar se werk te vergemaklik deur 'n motorkar vir hom te koop — vir 'n som van £250 nie te bowegaande nie! Vroeg in 1915 het mev. Dommisse ernstig siek geword en het die kerkraad ter wille van haar herstel verlof aan ds. Dommisse verleen om met 'n ander leraar vir drie maande werkkringe te ruil. Ds. Dommisse het vir talle beroepe bedank in die loop van sy bediening op Middelburg, maar in 1920 het hy 'n beroep na Caledon aangeneem.
'n Groot afskeidsresepsie is op 28 Augustus 1920 gehou op die tentoonstellingsterrein om die gemeente die geleentheid te gee om van ds. en mev. Dommisse afskeid te neem. Elke deel van die samelewing is daar verteenwoordig en eerw. Andries Dreyer was seremoniemeester, terwyl mnr. G. Viljoen 'n adres aangebied het. Aan mev. Dommisse is ook 'n adres, onderteken deur al die vrouelede van die gemeente, aangebied. Die gevoelvolle toesprake deur die predikante van ander kerkgenootskappe, asook van die openbare liggame, het getuig van die liefde en agting wat deur almal gekoester is vir die leraar en sy gade, wat blykbaar baie aangedaan was deur die blyke van gevoel wat die vergadering getoon het.
Sondagoggend het ds. Dommisse sy afskeidsrede gelewer en in die aand het hy van die jongmense afskeid geneem. Dinsdagaand is aan ds. en mev. Dommisse 'n afskeidsdinee, waaraan sowat 60 mense deelgeneem het, in die Commercial Hotel aangebied. Die verrigtings was van baie aangename aard en is afgesluit met 'n gebed deur die leraar. Woensdagoggend het ds. en mev. Dommisse vertrek en 'n groot skare het hulle by die stasie kom groet.
Die eerste kerkgebou het bekend gestaan as die “Noodkerk” en is opgerig op die hoek van Van Reenen- en Loopstraat. Reeds in 1853 het die kerkraad besluit om 'n vleuel van 42 x 21 voet aan dié kerkie te laat aanbou. Later is die “Noodkerk” gebruik as 'n skoolgeboutjie. Dit was in die tyd van ds. William Murray dat die kerkraad besluit het om 'n nuwe kerkgebou op te rig. Die hoeksteen van hierdie nuwe kerk is op 22 Oktober 1855 deur die siviele kommissaris van Colesberg gelê. Dit het die bouaannemers (volgens sommige bronne argitekte) Cormack en Pringle vier jaar geneem om die gebou te voltooi. Op 9 Oktober 1858 is die nuwe kerk plegtig ingewy. Ds. Andrew Murray sr. het na aanleiding van II Kor. 6:16 die wydingsrede gelewer.
In 1860 het die afskeiding plaasgevind en is 'n Gereformeerde gemeente gestig. Nieteenstaande het die gemeente se werksaamhede snel uitgebrei en moes van tyd tot tyd van hulppredikers gebruik gemaak word. In 1940 is vir die eerste maal 'n medeleraar beroep. In dieselfde jaar is die ou pastorie in Kerkstraat gesloop en 'n nuwe gebou opgerig. Op dieselfde grond is 'n ruim saal, veral met die oog op Sondagskooldoeleindes, gebou. In die ou kerksaal op die kerkgrond het destyds Volkskas ingetrek. In 1943 het die gemeente 'n tweede pastorie aangekoop en in 1963 stig Middelburg-Uitsig af. Die sieletal van die gemeente het in 1952 op 2 230 gestaan en die lidmaattal op 1 450. Van hulle was ongeveer 150 destyds by die spoorwegdiens betrokke. Buitedienste is indertyd op gesette tye op Rosmead, Conway, Sherborne en Schoombie gehou.
In 1903 is besluit om die kerk te vergroot deur 'n vleuel aan die westekant aan te bou wat 450 sitplekke op die vloer alleen sou bied, terwyl die ruimte onder die toring voorheen as konsistorie gedien het, is toe ook 'n klein konsistorie teen die toring aangebou. 'n Nuwe orrel is toe ingesit en in 1911 'n nuwe preekstoel. Op 2 April 1904 is die vergrote kerk ingewy. Nog later is 'n nuwe orrel geïnstalleer wat op 5 Maart 1938 in gebruik geneem is, terselfdertyd as die nuwe banke. 'n Algemene opknapping van die kerk is gedurende 1962/’63 gedoen en daarby is die konsistorie verder vergroot en ander geriewe soos 'n moederskamer, ens., is aangebring. Op 19 Mei 1963 is die hernieude kerk ingewy.
In 1967 het krakies in die toring begin verskyn en op 23 Maart daardie jaar merk ds. Mentz op dat fyn stof geval het op die platform terwyl die klok gelui is. 'n Kommissie sou aangestel word op 29 Maart om 17:00 om te besluit sou verantwoordelik wees vir die sloping van die toring. Die vergadering was toe nie nodig nie omdat die toring om 15:35 daardie dag ineengestort het. Dit het soveel skade aan die gebou aangerig dat dit gesloop moes word. Die predikante in daardie stadium, was di. P.K. Mentz en P.A. Loots.
Die kerkraad op 19 April 1967 besluit om die beskadigde kerk geheel en al te sloop en 'n nuwe gebou in die plek daarvan op te rig. As argitek is benoem O. van Schalkwyk en die boukontrak is toegestaan aan bouaannemer B.F. Lutz van Cradock wat toevallig besig was met die bou van Old Mutual-gebou net skuins oorkant die kerk. (Hy het gesien hoe die ou toring geval het.) In die plek van die gebruiklike sooispitseremonie, het die gemeente op Sondag, 19 Mei 1968 (sy 116de verjaardag), na afloop van die Nagmaal in optog na die kerkterrein gegaan waar ds. P.K. Mentz met Skriflesing en gebed voorgegaan het. So is die seën van die Here op die bouprojek afgebid. Die hoeksteen is onthul op 19 Mei 1969, dit wil sê presies 117 jaar na die stigting van die gemeente op 19 Mei 1852. Die inwydingsplegtigheid het plaasgevind op 6 September 1969 by welke geleentheid dr. J.D. Vorster die wydingsrede gehou het na aanleiding van Eks. 25:8-9.
Aan ’n kerraadsvergadering, gehou op 27 April 1966, het die gebouekommissie, by monde van oudl. D.D. du Plessis gerapporteer dat 'n groot bars besig is om aan die toring te ontwikkel waar dit aan die westekant by die dak aansluit. Die kommissie het dus aanbeveel dat die dienste van 'n ingenieur bekom word om die saak te ondersoek. Die bevindings van die raadgewende ingenieur was dat die toring ernstige verwering toon, die bars reeds aansienlike afmetings aangeneem het en die moontlikheid glad nie uitgesluit is dat die toring kan ineenstort nie. Hy het dus aanbeveel dat die toring afgebreek word en planne voorgelê vir die heropbou daarvan. Aangesien 'n aansienlike bedrag geld hierby betrokke sou wees en die gemeente se geldsake in daardie stadium nie juis gunstig was nie, het die kerkraad met die oog op besparing op 11 Oktober 1966 besluit om dit aan die geboue- en uitvoerende kommissie op te dra om 'n alternatiewe konstruksie te oorweeg. Nadat die uitvoerende kommissie die saak deeglik ondersoek het en gedagtig aan die finansiële toestand van die gemeente, het hy op 23 November 1966 die volgende aanbeveling by die kerkraad gemaak: (a) Dat die toring afgebreek word tot by dakhoogte, en (b) dat die toring voorlopig nie opgebou sal word nie. Maar omdat daar twyfel bestaan het oor die dringendheid van die hele aangeleentheid, is besluit om die aanbeveling van die uitvoerende kommissie voorlopig te laat oorstaan en om die raadgewende ingenieur opdrag te gee om ses maande later weer verslag oor die toestand van die toring te doen.
Die uitvoerende kommissie het volmag ontvang om verder te handel in die lig van die ingenieur se bevindings, maar daar is besluit om die slag van die toringklok te staak. Die klok is dan ook kort daarna verwyder en op 'n afsonderlike stellasie langs die kerk gemonteer, waar dit diens gedoen het tot dit weer teruggeplaas is in die toring van die nuwe kerkgebou. Die maande Januarie en Februarie van 1967 was besonder nat. Altesaam 138 mm reën is in hierdie twee maande aangeteken. Die uitvoerende en gebouekommissie het 'n inspeksie van die toring gedoen en bevind dat die proses van verwering onder die nat toestande vinnig besig was om te vorde. Die ingenieur is ontbied en op sy bevinding dat die toring nie stabiel is nie, het die uitvoerende kommissie op 1 Maart 1967 aan die kerkraad kennis gegee dat die toring so spoedig moontlik afgebreek moes word. Op 15 Maart 1967 is tenders daarvoor gevra. Die tenders sou sluit om 12:00 op 29 Maart 1967 en die uitvoerende kommissie sou die tenders om 17:00 dieselfde dag oorweeg.
Maar om 15:35 het die toring ineengestort en die res van die gebou, asook die dakkonstruksie dermate beskadig dat besluit is om die gebou in sy geheel te sloop. Die orrel het egter onbeskadig behoue gebly en kon dus weer in die nuwe kerk geïnstalleer word.
Met die inwyding van die nuwe kerk in 1969 het ds. P.K. Mentz sy herinnerings aan die aanloop tot die toring se val soos volg in die gedenkbrosjure gedeel:
Donderdagaand 23 Maart 1967 is die Nagmaal gevier met die oog op Goeie Vrydag, die volgende dag. Niemand wat daardie aand die kerkgebou binnegestap het, het ooit daaraan gedink dat dit die laaste diens in hierdie historiese kerkgebou sou wees nie. Toe die laaste gelui lui, val daar gelyktydig fyn gruis op die plafon in die konsistorie. Dit trek die aandag van die predikant en van 'n diaken. Die verband is duidelik. Die trilling van die klokgelui het alreeds 'n uitwerking op die verswakte toring. Ná die Nagmaalsdiens vergader die uitvoerende kommissie om spoedeisend aandag aan die saak te gee. Die kerkgebou sou liewer nie verder vir dienste gebruik word voordat die toring afgebreek is nie.
Sondag 26 Maart draai die kerkgangers, sommige verbaas en ander gesteurd, by die toe hekke van die kerkterrein om, om die diens in die Klaasensaal by te woon. Baie mense daag by die pastorie op om die predikant en andere daarvan te probeer oortuig dat die toring nie werklik in so 'n gevaarlike toestand is nie en dat die kerkraad onnodig bekommerd is. Twyfel ontstaan – is ons nie miskien te haastig nie – dit is so 'n besonderse toring.
Woensdag, 29 Maart 1967. Lyk dit net so of is dit 'n bult wat in die pleister so teen die toring vertoon? Vier van ons gaan kyk. Die tuinjong tel 'n stuk pleisterklei onder die toring op, dit moes so pas afgeval het. Ons sou later die middag self die toring gaan ondersoek. Oudl. Johan Terblanche wat die groepie onder die kerktoring gesien staan het, skakel pastorie toe en dring daarop aan dat ons dit nie binne die toring moet waag nie – dit is te gevaarlik. Het hy 'n voorgevoel gehad of is hy maar net onnodig bang? Later sou ons dankbaar wees dat hy wel gebel het. Om 3.35 nm. is daar 'n onnatuurlike gerammel. 'n Groot vragmotor laai iewers gruis af – so klink dit. Kinders het op die grasperke voor die saal gespeel. Hulle skree en mense hardloop na buite. 'n Geweldige stofwolk oordek alles, die geluid van vallende klip en hout wat kraak, is duidelik hoorbaar. Volgens ooggetuies het die massiewe toring (76 voet hoog, 28 voet in vierkant met 33 duim dik mure) soos 'n stuk koerantpapier in twee geskeur en toe kon hulle, vanweë die stof niks meer sien nie. Die beoogde vergadering, 'n geruime tyd tevore belê vir 5.00 nm., was nie meer nodig nie. Die toring het self ineengestort.
Dadelik moes reëlings getref word teen brand en die polisie moes die verdwaasde skare kom weghou van die oorblywende stuk toring wat hoog in die lug gevaarlik gekantel het. Om 4.00 nm. kon ons dit eers waag om versigtig die kerkgebou binne te gaan. Deur die stof heen was die gat in die dak duidelik sigbaar. Meer as die helfte van die toring het daardeur geval en op en rondom die kansel gelê. Die nagmaalstafel en vier stoele is dwarsdeur die vloer gedruk en was onherkenbaar beskadig. Die nagmaalsbeker en leë bordjies het opgefrommel onder die puin uitgesteek. Die voorste ry banke was byna toegeval. Groot en sterk mans het die kop weggedraai om die trane te verberg. Buite het mense openlik gestaan en huil. Dit was maar 'n gebou van klip en steen – maar oor meer as 'n eeu ingeweef in die lewe van baie mense. So dikwels het ons gehoor: ‘My oupa is hier in die kerk gedoop waar sy ouers in die huwelik bevestig is. Ek het hier opgegroei en my kinders het hier belydenis afgelê.’ Geslagte lank was dit vir ons die Huis van die Here.
Duidelik spreek die verwarring en verdwaasdheid uit die bedrae wat genoem is om die gat in die dak voorlopig toe te maak en die gevaarlike stuk toring af te breek. Die laagste tender beloop R380 en die hoogste R5 980 vir dieselfde werk. Maar ook in hierdie verwarring sou God duidelik lei. Mnre. Pieter Joubert, Karel de Kock en andere kom na vore en bied aan om die werk gratis te doen. Die aanbod sou later uitgebrei word en hulle sou die sloping van die hele kerkgebou behartig. 'n Besparing van minstens R10 000.
Die gemeenskap van Middelburg het die skade aan die gebou as persoonlike verlies aangevoel. Bydraes het ingekom van susterkerke, Engelssprekendes en buurgemeentes. 'n Brief waarin meegevoel betuig word en R20 ingesluit het, is van die Kleurling-gemeenskap van Willemburgersrivier ontvang. Die Sakekamer het 'n insameling begin onder voorsitterskap van mnr. W.C. Putter en byna R4 000 is so byeengebring. Die Meimaand-basaar het die rekordbedrag van R3 650 opgelewer. Ongeëwenaarde samewerking is ondervind en 10 maande nadat die toring ineengestort het, is die R27 000 wat nog op die restourasie van die ou kerkgeboue verskuldig was, afbetaal.
Nou kon met volle ywer aan die Boufonds aandag gegee word. So vinnig het dit gegaan met die geldinsameling dat die kerkraad verplig is om 'n komitee te benoem wat die insamelings sou koördineer om enersyds oorvleueling uit te skakel en andersyds ontoelaatbare inisiatief aan bande te lê. Die susters het bussies laat maak en by kerkdeure geplaas vir vrywillige bydraes. Hulle het die kanselhout laat verwerk in skinkborde en ander bruikbare voorwerpe. Met koevertjies is baie geld ingesamel. Die KJV het gereeld groot bedrae in die boufonds gestort en die kinders het in die Sondagskool hul sente gebring vir die meublement van die voorgenome moederskamer. Bejaardes het persoonlik gekom en met bewende hand hul bydraes gebring wat gewissel het van 10c tot R100.
Saterdagoggend, 17 Junie om 7.00 vm. trek 19 vragmotors op die terrein saam op die puin weg te ry. Die volgelaaide vragmotors wat in 'n ry wegtrek, herinner aan 'n lykstoet wat die laaste taak verrig. Die aand om 7.00 nm. vertrek die laaste vragmotor en 'n stilte sak toe op die leë kerkterrein neer. Waar die eens statige kerkgebou gestaan het, is nou niks en dit maak seer om daarna te kyk,
Op 26 Julie 1967 word die finale planne van die argitek goedgekeur. Op Vrydag, 19 April 1968 is die kontrak vir die oprigting van die gebou onderteken. Daar was gedurende hierdie hele tyd van krisis en spanning so 'n hartlike samewerking in die kerkraad dat dit deurgewerk het na die gemeente. Almal was besiel met net die beste vir die gemeente en die Koninkryk. Daarom kon moeilike en uiteenlopende probleme broederlik opgelos word. Daar was ook tye van beproewing. Die argitek moes vir twee maande behandeling in die hospitaal ontvang as gevolg van ernstige siekte. Onverwags is een van die boukommissielede, oudl. Malherbe van Heerden, deur die dood weggeneem. Noudat ons kan terugkyk op die lang pad wat die voltooiing van die sierlike nuwe kerkgebou voorafgegaan het, wil ons nie anders as om aan God al die eer toe te bring, waarlik: Die God van die Hemel, Hy HET ons dit laat geluk!”
Aan 'n buitengewone vergadering van die kerkraad, gehou op 7 April 1967, het die uitvoerende kommissie gerapporteer dat die beraamde koste om die beskadigde kerkgebou te herstel 'n bedrag van ongeveer R56 000 sou beloop. Die algemene gevoel was dat dit beter sou wees om 'n geheel nuwe gebou op te rig eerder as om so 'n reusebedrag te bestee aan die herstel van 'n gebou wat 'n ernstige knou weg gehad het en ook reeds ander tekens van verval getoon het. Die kerkraad het gevolglik op 19 April 1967 besluit om die ou kerkgebou te sloop en 'n nuwe gebou op te rig. Daar is voorts besluit om hierdie taak aan 'n boukommissie op te dra wat sou bestaan uit vyf permanente lede (nie noodwendig dienende kerkraadslede nie), deur die kerkraad gekies plus ses lede wat dienende kerkraadslede moes wees en wat deur die geboue- en uitvoerende kommissie aangewys moes word. Die boukommissie is gevolglik soos volg saamgestel: J.C. Mentz, P.F. Joubert, W.J. Hugo, D. Howe, P.F. Schultz, W.T. van der Merwe, P.J. Pretorius, dr. K.M. van Heerden, K. de Kock, T.F.P. Theron, C.W.P. Steenkamp. Die twee leraars, di. P.K. Mentz en ds. P.A. Loots, sou ampshalwe lede van die kommissies wees. Dr. K.M. van Heerden is op 23 September 1968 onverwags deur die dood weggeneem. Sy plek is geneem deur J. Laubscher.
Die Boukommissie het sy eerste van 22 formele vergaderings, benewens talryke informele vergaderings op die bouperseel, gehou op 3 Mei 1967 toe oudl. W.J. Hugo as voorsitter en diak. C.W.P. Steenkamp as sekretaris van die kommissie aangewys is. O. van Schalkwyk is as argitek benoem met die opdrag om so spoedig moontlik konsepplanne voor te lê. Nadat verskillende planne oorweeg is, is 'n finale plan aan die kerkraad voorgelê op sy vergadering van 26 Julie 1967 wat op voorstel van diak. J.A.A. Baard en gesekondeer deur diak. N. Smit aanvaar is. Die boukommissie kon toe opdrag aan die argitek gee om die werkstekeninge in gereedheid te bring. Die werk is in hierdie stadium aansienlik vertraag deurdat die argitek, weens 'n ernstige siekte, twee maande in die bed moes deurbring.
B.F. Lutz is as bouaannemer aangewys en die boukontrak is op 19 April 1968 onderteken vir 'n bedrag van R89 945. Die boukommissie het 'n subkomitee benoem om al die afvalmateriaal so voordelig moontlik van die hand te sit. Hierdie subkomitee het 'n groot en moeilike taak met groot onderskeiding afgehandel. 'n Bedrag van kort duskant R5 000 is so geïn.
Die aanvanklike plan was om soveel moontlik gebruik te maak van nog bruikbare materiaal wat uit die gesloopte kerkgebou herwin kon word. Sekere deure, lampskerms en vensters is dan ook op hierdie manier benut. Dit het egter spoedig geblyk dat dit nie lonend of selfs wenslik sou wees om sulke items soos die banke, vensters, leiklip, sierstene ensovoorts in die nuwe gebou te gebruik nie. Enersyds sou die koste verbonde aan die omwerking van sulke materiaal te hoog wees en andersyds sou dit vereis dat die ontwerp van die kerk gewysig sou moes word om aan te pas by die ou materiaal. Die orrel het onbeskadig behoue gebly. Hierdie besonder goeie instrument kon dus weer in die nuwe kerkgebou geïnstalleer word.
Daar is gestrewe na 'n ontwerp wat die nodige atmosfeer van stigting en formaliteit sou ontleen aan die eenvoud en skoonheid van lyn. Die kleurskema moes die nodige gevoel van warmte en eenheid bevorder terwyl die indruk van ruimte nie versteur moes word deur behangsels van die plafon nie. Die akoestiek en beligting moes noodwendig doeltreffend wees. Elke duim oppervlakte moes optimaal aangewend word sonder om nodige fasiliteite in te boet of beknoptheid in die hand te werk. Boweal moes die gebou, sierlik in gestalte, uittroon bo sy onmiddellike omgewing.
Die nuwe kerkgebou sou in die naweek van 16 Augustus 1969 ingewy word. Almal het uitgesien na daardie dag wanneer die gemeente weer in 'n kerkgebou kan aanbid. En toe gebeur dit . . . Op 20 Junie berig die firma wat die orrel moes installeer dat dit heeltemal onmoontlik sal wees om die orrel betyds gereed te kry. Daar moes vinnig opgetree word, want die wintervakansie was op hande en van die uitvoerende komitee se lede staan op vertrek. Ds. Loots se motor was reeds gepak om 'n paar weke van welverdiende rus in Windhoek te gaan geniet. 'n Dringende vergadering van die uitvoerende komitee word belê. Daar is besluit dat dr. Vorster, wat die wydingsrede sou lewer, eers genader word om 'n geskikte datum te vind. Die groot vraag wat in almal se gedagte gehuiwer het, is: “Sal 'n ander datum op hierdie late stadium vir dr. Vorster geskik wees?" Daar moes ook rekening gehou word met ds. Mentz en ds. Smit. Verder moes die argitek ook onmiddellik in kennis gestel word. Een van die ouderlinge het opdrag ontvang om telefonies al die nodige reëlings te tref. Oor hierdie onverwagte vertraging was daar tog 'n mate van teleurstelling: “Waarom moes dit nou juis so gebeur?" Die antwoord sou vier dae later kom toe 'n brand gedurende die nag van 24 Junie in die nuwe kerk uitbreek het. Hoewel die skade nie baie ernstig was nie, het dit tog aansienlike vertraging tot gevolg gehad.
Die voltooiing van die kerkgebou het vinnig genader. Die afwerking binne die gebou was feitlik klaar, die paneelwerk teen die mure en agter die preekstoel was reeds aangebring, die ruite was reeds in hul rame en die werksopsigter was besig om die vloer te skuur voordat die banke en preekstoel aangebring sou word. Die blye dag van inwyding het vinnig genader en tentatiewe planne vir hierdie groot gebeurtenis was reeds opgestel.
Toe gebeur die onverwagte. In die nag van 24 Junie 1969 het 'n brand op onverklaarbare wyse ontstaan onder die vloer by die plek waar die preekstoel geplaas sou word. 'n Hopie vloerskuursels het vermoedelik spontaan ontbrand en namate die hitte toegeneem het, het die stygende warm lug 'n trek veroorsaak wat die gloeiende hopie vloerskuursels aangeblaas het tot lekkende vlamme wat verder onder die vloer in en teen die paneelwerk op gereik het. Toe die berig die kragsentrale bereik, het Willie Joubert sonder aarseling handelend opgetree en met die brandweer na die terrein gehaas. Hy en sy paar helpers het daarin geslaag om spoedig die brand te blus.
Die toring van die ou kerkgebou was 76 voet hoog. Die reisiger na Middelburg kon van ver af die massiewe toring sien. Die toring van die nuwe gebou is 90 voet vanaf die grondvlak tot by die spits en sal dus nog meer uitstaan as die ou toring.
In die eerste kerkgebou, wat in 1858 ingewy is, het die ruimte onder die toring as konsistorie gedien. Toe die gebou in 1903/’04 vergroot is, is 'n klein konsistorie by die toringkant aangebou maar selfs dit was se beknop dat dit verder vergroot is toe die gebou in 1962/’63 opgeknap is. Selfs toe was dit so klein dat vergaderings van die kerkraad nie daarin gehou is nie. Die nuwe konsistorie bied ruim sitplek vir die hele kerkraad en by geleentheid van gekombineerde vergaderings is daar ook sitplek vir rustende kerkraadslede. 'n Gedeelte van die ou kerkmat is teruggehou en in die konsistorie geplaas.
Die twee sydeure is voorsien van net twee lae trappies, spesiaal vir mense wat dit moeilik vind om die hoë trappies by die hoofingang te bestyg. Die argitek het dit onwenslik geag om trapreëlings by die hoofingang aan te bring hoofsaaklik omdat dit die voorkoms van die hoofingang sou bederf.
Die kanselkleedjie is gemaak van Merino-skaapvel. Dit is dus heeltemal uniek en besonder gepas aangesien Middelburg in die hartland van die wolskaapbedryf geleë is. Die woorde op die kleedjie lui: DIE MEESTER ROEP JOU. Die twee kanselstoele wat in die ou kerk op die kansel gestaan het en wat met die instorting van die toring heelwat beskadig is, is mooi herstel deur Laurie Greeff en is dus weer gebruik.
'n Moederskamer is 'n baie belangrike fasiliteit in enige kerkgebou. So het die kerkraad dit ook ingesien toe die kerkgebou in 1962/’63 opgeknap is, want 'n moederskamer is toe ook aangebou. Afgesien van doopgeleenthede, waarvoor die moederskamer primêr bedoel is, is daar dikwels ouers wat met kleuters graag die eredienste wil bywoon. Die moederskamer bied die nodige geriewe daarvoor. Hierdie kamer is geleë aan die linkerkant van die voorportaal. Dit is voorsien van eenigtingglas sodat die okkupeerders die prediker en die gemeente sal kan sien en dus sal voel asof hulle deel van die vergadering is sonder om self gesien te word. Dit is klankdig en van 'n luidspreker voorsien wat met die kanselmikrofoon verbind is. Krippies is aangebring waarin die babas geplaas kan word en rustig kan slaap tot hulle vir die bediening van die doop ingebring word. Die feit dat die moederskamer aan die teenoorgestelde kant van die kansel geplaas is, is nie sonder rede nie. Dit bring mee dat die kindertjies vanuit die gemeente na die liturgiese sentrum en doopvont gebring sal moet word, soos dit eintlik behoort te wees, in plaas van agter die kansel uit die konsistorie.
Spesiale aandag is aan die akoestiek van die gebou gegee en die mikrogolf luidsprekers van die ou gebou is ook teen die paneel-werk aan weerskante van die kansel aangebring. Tog bestaan die behoefte om spesiale voorsiening te maak vir hardhorende persone wat van gehoortoestelle gebruik moet maak. Die stelsel wat aangebring is, staan bekend as die sogenaamde "Loop system". Dit werk op die beginsel van 'n transistor-uitsaaistelsel, met ander woorde deur die opvangtoestelletjie in sy oor te plaas, kan so 'n persoon die preek opvang wat vanaf die kansel uitgesaai word. Dit skakel alle bedrading na die gehoortoestelle uit.
Vanaf die hoofingang tot by die liturgiese sentrum val die vloer met 18 duim. Dit bring mee dat prediker en toehoorder 'n onbelemmerde uitsig sal hê, ondanks die feit dat die preekstoel nie baie hoog is nie.
Die onderstaande tabel toon die afname in die lidmaattal van NG gemeentes op die groot dorpe van die Oos-Kaapse binneland. In gevalle waar 'n gemeente by 'n ander ingelyf is of twee gemeentes saamgesmelt het, word hulle syfers van 1933 af saam aangedui. Dit geld Middelburg en Middelburg-Uitsig, Grahamstad, Grahamstad-Grenspos en Albanie, Somerset-Oos en Visriviervallei (Kookhuis) asook Queenstown, Queenstown-Oos en Queenstown-Noord (laasgenoemde twee 'n ruk lank as Queenstown-Tuine). Elke dorp of gemeente se hoogste lidmaattal word in vet skrif aangedui. Hieruit blyk dat al die gemeentes hul hoogtepunt ná die middel van die 20ste eeu bereik het, behalwe Burgersdorp wat sedert 1933 'n afname in sy lidmaattal ervaar. Ondanks 'n opflikkering in die middel jare 90, is Middelburg se lidmaattal nou die laagste die afgelope sowat honderd jaar. Die gemeentes van Aliwal-Noord, Cradock, Grahamstad en Queenstown is al met meer belydende lidmate in 2014 as sowat 'n eeu vantevore.
Gemeente/Dorp | 1916 | 1933 | 1952 | 1960 | 1973 | 1979 | 1985 | 1990 | 1995 | 2000 | 2005 | 2010 | 2012 | 2014 | 2015 | 2016 | 2021 |
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Aliwal-Noord | 750 | 950 | 1145 | 1150 | 1250 | 1338 | 1242 | 1300 | 1595 | 1593 | 1378 | 1117 | 1114 | 1131 | 1043 | 1043 | 1043 |
Burgersdorp | 1100 | 1461 | 1274 | 1260 | 1008 | 937 | 945 | 941 | 850 | 710 | 677 | 605 | 573 | 539 | 517 | 507 | 462 |
Cradock | 1878 | 2164 | 2858 | 2914 | 2399 | 2421 | 2464 | 2288 | 2024 | 1934 | 1931 | 1697 | 1662 | 1892 | 1894 | 1575 | 1382 |
Graaff-Reinet | 2125 | 2211 | 2536 | 2573 | 2115 | 2055 | 1917 | 1758 | 1699 | 1657 | 1242 | 1347 | 1077 | 1088 | 1075 | 1130 | 701 |
Grahamstad/Albanie | 576 | 860 | 1640 | 1341 | 1479 | 1289 | 1115 | 1105 | 1122 | 1090 | 836 | 794 | 751 | 727 | 620 | 620 | 523 |
Middelburg | 1100 | 1307 | 1430 | Onbekend | 1372 | 1391 | 1158 | 992 | 1147 | 970 | 953 | 829 | 829 | 702 | 648 | 592 | 470 |
Queenstown | 566 | 1195 | 2060 | 2153 | 2115 | 1966 | 1866 | 1779 | 1572 | 1337 | 1190 | 1045 | 876 | 876 | 876 | 663 | 578 |
Somerset-Oos | 1652 | 1400 | 1800 | 1864 | 1657 | 1511 | 1246 | 1210 | 1201 | 1281 | 1122 | 917 | 959 | 967 | 967 | 958 | 828 |
Totaal | 9747 | 11548 | 14743 | 14655 | 13395 | 12908 | 11953 | 11373 | 11210 | 10572 | 9329 | 8351 | 7841 | 7922 | 7640 | 7088 | 5987 |
Die gesamentlike lidmaattal van dié dorpe het reeds in 1952 'n hoogtepunt van 14 743 bereik, waarna dit teen 1995 teruggesak het tot 11 373, minder as die totaal in 1933 van 11 548. Tussen 1990 en 2000 het die totaal met net 1 381 afgeneem tot 10 572, maar in die daaropvolgende 15 jaar het die afname versnel toe die gemeentes 2 932 lidmate verloor het en te staan gekom het op 'n totaal van slegs 7 641. Dis 'n verlies van meer as 'n kwart van die lidmate.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.