From Wikipedia, the free encyclopedia
Mustafa Kemal Pasha (Ottomaanse Turks: مصطفى كمال پاشا Muṣṭafâ Kemâl Paşa; 1881 – 10 November 1938) was ’n Turkse weermagoffisier, revolusionêre staatsman en stigter en eerste president van die Republiek van Turkye. Hy het later die bynaam Atatürk, "Vader van die Turke", gekry.[1]
Mustafa Kemal Atatürk | |
1ste President van Turkye | |
Ampstermyn 29 Oktober 1923 – 10 November 1938 | |
Eerste minister | Ali Fethi Okyar İsmet İnönü Celâl Bayar |
---|---|
Voorafgegaan deur | Amp geskep |
Opgevolg deur | İsmet İnönü |
1ste eerste minister van Turkye | |
Ampstermyn 3 Mei 1920 – 24 Januarie 1921 | |
Voorafgegaan deur | Amp geskep |
Opgevolg deur | Fevzi Çakmak |
1ste Speaker van die Groot Nasionale Vergadering van Turkye | |
Ampstermyn 24 April 1920 – 29 Oktober 1923 | |
Voorafgegaan deur | Amp geskep |
Opgevolg deur | Ali Fethi Okyar |
Leier van die Republikeinse Volksparty | |
Ampstermyn 9 September 1923 – 10 November 1938 | |
Voorafgegaan deur | Amp geskep |
Opgevolg deur | İsmet İnönü |
Persoonlike besonderhede | |
Gebore | 1881 Salonica, Ottomaanse Ryk (tans Griekeland) |
Sterf | 10 November 1938 Dolmabahçe-paleis, Istanboel, Turkye |
Politieke party | Republikeinse Volksparty |
Eggenoot/-note | Latife Uşaklıgil (1923–1925) |
Handtekening | |
Militêre Diens | |
Lojaliteit | Ottomaanse Ryk (1893–1919) Turkye (1921–1927) |
Diens/Tak | Ottomaanse weermag Turkse weermag |
Rang | Mareşal |
Eenheid | 19de Divisie 16de Korps 2de leër 7 leër Yildirim weermaggroep Weermag van die Groot Nasionale Vergadering |
Oorloë/Veldslae | Slag van Tobruk Landing by Anzac Cove Slag van Chunuk Bair Slag van Scimitar Hill Slag van Sari Bair Slag van Bitlis Slag van Sakarya Slag van Dumlupınar |
Mustafa Kemal het bekend geword as ’n uiters bekwame militêre offisier deur die enigste onoorwonne Ottomaanse aanvoerder te wees tydens die Eerste Wêreldoorlog.[2] Ná die neerlaag van die Ottomaanse Ryk het hy die Turkse nasionale beweging in die Turkse Onafhanklikheidsoorlog gelei. Hy het die magte van die Geallieerdes verslaan en dit het gelei tot die bevryding van die land en die stigting van Turkye. Tydens sy bewind het hy ’n program van politieke, ekonomiese en kulturele hervormings deurgevoer. Hy het die voormalige Ottomaanse Ryk in ’n moderne, demokratiese en sekulêre staat verander. Vroue het byvoorbeeld stemreg gekry, en Arabiese skrif is deur die Romeinse alfabet vervang.
Atatürk is gebore as Mustafa. Sy tweede naam, Kemal (wat "volmaaktheid" of "volwassenheid" beteken), is deur sy wiskunde-onderwyser aan hom gegee uit erkenning van sy akademiese prestasies.[3] Mustafa se pa was ’n Albaniër en sy ma Macedonies.[4] In sy vroeë jare het sy ma, ’n toegewyse Moslem, hom aangemoedig om ’n godsdienstige skool by te woon. Dit was teen sy sin en hy het nie lank gebly nie. Later het sy pa hom na die Şemsi Efendi- private skool gestuur. In 1896 het Mustafa by ’n militêre hoërskool in die Ottomaanse stad Manastır (die huidige Bitola in Macedonië) ingeskryf. In 1899 het hy by die Oorlogskollege in Istanboel ingeskryf, waar hy in 1902 gegradueer het. Op 11 Januarie 1905 het hy aan die Oorlogsakademie gegradueer.
Ná sy graduering het hy luitenant en later kaptein geword. In 1908 het hy ’n rol gespeel in die Jong-Turke-revolusie wat die mag van Abdülhamid II oorgeneem het. Nadat hy in ’n paar oorloë geveg het, is hy in 1913 aangestel as militêre attaché in Sofia en in 1914 bevorder tot Luitenant-Kolonel.
In 1914, in die Eerste Wêreldoorlog, het hy tydens die Slag van Gallipoli die voorste aanvoerder geword deur korrek te skat waar die Geallieerdes sou aanval en sy posisie te verdedig tot hulle terugtrek. Daarna het hy in Edirne gedien tot in Januarie 1916. Hy is toe na die Kaukasus gestuur, waar hy dapper teen die Russe geveg het tot met die uitbreek van die Russiese Rewolusie in 1917.
Op 13 November 1918 het Mustafa Kemal teruggekeer na ’n beleërde Konstantinopel (hedendaagse Istanboel), die Ottomaanse hoofstad. Britse, Italiaanse, Franse en Griekse magte het begin om Anatolië te beset met die doel om die Ottomaanse Ryk te verdeel. Die beleg van Konstantinopel en İzmir het gelei tot die stigting van die Turkse nasionale beweging en die uitbreek van die Turkse Oorlog vir Onafhanklikheid.
Mustafa Kemal het ’n weerstandsbeweging op die been gebring teen die okkuperende magte. Op 8 Julie het hy uit die Ottomaanse weermag bedank. Hy het ’n beroep gedoen dat ’n nuwe Turkse parlement verkies word met sy setel in Ankara.[5] In Februarie 1920 het die Britse magte die Ottomaanse parlement ontbind. Kemal het die geleentheid gebruik om die Groot Nasionale Vergadering (GNV) uit te roep. Op 23 April 1920 het die GNV geopen met Kemal as speaker. Op 10 Augustus 1920 het die Ottomaanse grootvisier Damat Ferid Pasha die Verdrag van Sèvres onderteken wat sou lei tot die verdeling van die Ottomaanse Ryk. Kemal het aangedring op algehele onafhanklikheid en die beskerming van die belange van die Turkse meerderheid. Hy het die GNV oorreed om ’n leër op die been te bring. Dié het aan drie fronte teen die Geallieerdes geveg: in die Frans-Turkse, die Grieks-Turkse en die Turks-Armeense Oorlog. Op 5 Augustus 1921 het die GNV Kemal bevorder tot bevelvoerder van die leër, wat die Geallieerdes verslaan het.[6] Op 24 Julie 1923 is die Verdrag van Lausanne onderteken en op 29 Oktober 1923 is die Republiek van Turkye gestig.
Van hierdie oomblik af het Kemal begin om sy land kragdadig te hervorm. Turkye was 'n ouderwetse en ondoeltreffende Oosterse land, wat spottend die "siek man van Europa" genoem is. Atatürk sou sy land in 'n moderne Westerse nywerheidstaat verander. Kemal het eers baie van die tradisionele instellings van die Turkse regeringstelsel afgeskaf. Met die republiek is die gesag van die sultans beëindig.
Vroue het meer regte gekry en die gebruik om hul gesigte met sluiers te bedek, is verbied. Die ingewikkelde Arabiese alfabet is deur 'n Latynse alfabet vervang, en 'n algemene onderwysstelsel is ingevoer. Die hoofstad is van Istanboel (Konstantinopel) na Ankara verskuif. Hierdie hervormings het Kemal opgevolg met 'n aantal praktiese maatreëls om die land se voorspoed te verseker.
Die nywerheid en handel is aangemoedig en doeltreffender boerderymetodes is ingevoer. Hoewel Kemal drie keer tot president herkies is, het hy nooit al sy hervormingsplanne deurgevoer nie. Hy het byvoorbeeld nie toegelaat dat die demokratiese grondwet, wat reeds opgestel was, volledig deurgevoer word nie. Maar toe hy in 1938 op agt-en-vyftigjarige leeftyd sterf, was dit met die wete dat hy Turkye binne enkele jare omvorm het tot'n volwaardige staat volgens die standaarde van die twintigste eeu.
Op 29 Januarie 1923 het Mustafa Kemal met Latife Uşaklıgil getrou en op 5 Augustus 1925 is hulle geskei.[7] Hy het nooit weer getrou nie. In sy leeftyd het hy sewe dogters en ’n seun aangeneem.
In 1937 het dit duidelik geword dat sy gesondheid agteruitgaan. Vroeg in 1938 het hy ernstig siek geword. Hy is na Istanboel vir behandeling en is gediagnoseer met sirrose van die lewer weens alkohol.[8][9] Hy is op 10 November 1938 op 57-jarige ouderdom in die Dolmabahçe-paleis dood.[10] Hy is aanvanklik in die Etnografiese Museum in Ankara begrawe, maar op 10 November 1953, 15 jaar ná sy dood, is sy oorskot na ’n enorme mausoleum verskuif met ’n uitsig oor Ankara.[11]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.