Max Theiler
From Wikipedia, the free encyclopedia
Max Theiler is op 30 Januarie 1899 in Pretoria gebore as seun van sir Arnold Theiler (die bekende veearts wat die Onderstepoort-dierehospitaal gestig het) en Emma (née Jegge). Hy het by die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Londen in die medisyne studeer en in tropiese medisyne gespesialiseer.
Max Theiler | |
Gebore | (1899-01-30)30 Januarie 1899 Pretoria, Zuid-Afrikaansche Republiek (tans Suid-Afrika) |
---|---|
Oorlede | 11 Augustus 1972 (op 73) New Haven, Connecticut, Verenigde State |
Blyplek | Verenigde State van Amerika |
Nasionaliteit | Suid-Afrika Verenigde State |
Vakgebied | Virologie |
Bekend vir | die ontwikkeling van 'n entstof teen geelkoors |
Toekennings | Lasker-DeBakey Kliniese Mediese Navorsingsprys (1949) Nobelprys vir Fisiologie of Geneeskunde (1951) |
In 1922 is hy by die departement van tropiese medisyne by Harvard aangestel en het hy met navorsing oor die geelkoorsvirus begin. In 1930 het hy 'n aanbod van die internasionale gesondheidsdepartement van die Rockefeller Stigting in New York aanvaar om te help met die stryd teen geelkoors. Eers het hy 'n toets ontwerp waardeur dié dele van die wêreld waar geelkoors inheems is, akkuraat afgebaken word.
Laastens, in 1937, het hy 'n effektiewe entstof teen geelkoors ontwikkel, na hy in 1930 ontdek het watter virus die siekte veroorsaak. Hierdie entstof was geskik vir massaproduksie en sedert die uitvinding daarvan is miljoene mense teen geelkoors ingespuit. Ter herkenning van sy briljante werk is die 1951 Nobelprys vir Fisiologie of Geneeskunde aan Theiler toegeken.[1] Hy het ook belangrike navorsing gedoen oor denguekoors, Japannees-enkefalitis en kinderverlamming.
Theiler is in 1928 met Lillian Graham getroud en hulle het een dogter gehad. Hy is in 1972 in New Haven, Connecticut, oorlede.