From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Kontakdubbelvoorwerp of kontakbinêr is ’n klein Sonnestelselliggaam soos ’n kleinplaneet of komeet wat uit twee liggame bestaan wat na mekaar toe beweeg het totdat hulle aan mekaar geraak en saamgesmelt het. Dit beteken hulle het vreemde vorms, amper soos ’n grondboontjie. Kontakdubbelvoorwerpe is iets anders as ’n dubbelvoorwerp soos ’n dubbelasteroïde, wat twee aparte liggame is. Die term word ook vir kontakdubbelsterre gebruik.
’n Voorbeeld van ’n liggaam wat as ’n kontakdubbelvoorwerp beskou word, is die Kuipergordelvoorwerp 486958 Arrokoth.[1]
Die komete 67P/Churyumov-Gerasimenko en 8P/Tuttle is waarskynlik kontakdubbelvoorwerpe.[2][3] Asteroïdes wat vermoedelik kontakdubbelvoorwerpe is, is die ongewoon lang 624 Hektor, asook 216 Kleopatra en 4769 Castalia. 25143 Itokawa, wat deur die ruimtetuig Hayabusa afgeneem is, lyk ook soos ’n dubbelkontakvoorwerp; dit het ’n lang, krom vorm. 4179 Toutatis met sy lang vorm, wat deur Chang'e-2 afgeneem is, is ook ’n kandidaat vir ’n kontakdubbelliggaam.[4].
Onder die verafgeleë kleinplanete is die ysige Kuipergordelvoorwerp 486958 Arrokoth as ’n kontakdubbelvoorwerp bevestig toe die New Horizons-tuig in 2019 verby die liggaam gevlieg het.[1]
Hoewel daar nie voldoende waarnemingsdata beskikbaar is nie, word vermoed dié soort liggame is algemeen[1] en dat sowat 10 tot 15% van alle naby-aarde-asteroïdes groter as 200 m kontakdubbelvoorwerpe is.[5]
’n Dubbelster kan ook ’n kontakdubbelvoorwerp wees. Die meeste sulke sterre is verduisterende dubbelsterre, wat beteken hul wentelvlakke is so naby aan mekaar in die siglyn van die waarnemer dat hulle mekaar verduister.[6] Algol, ’n driedubbele sterstelsel in die sterrebeeld Perseus, bevat die beste bekende voorbeeld van ’n verduisterende dubbelster.
Die tabel onder bevat naby-aarde-voorwerpe wat deur radar waargeneem is en moontlik kontakdubbelvoorwerpe is.[7]
Voorwerp | Afmetings (km) (benader) | Rotasieperiode (uur) |
---|---|---|
2063 Bacchus | 2,6×1,1×1,1 | 14,9 |
4450 Pan | 1,0 | 60 |
4486 Mithra | 1,6 | 67,5 |
4769 Castalia | 0,6 | 4 |
11066 Sigurd | 3,0 | 8,5 |
(179806) 2002 TD66 | 0,3 | 9,5 |
2007 TU24 | 0,3 | 36 |
8P/Tuttle | 4,5 | — |
2014 HQ124 | 0,4 | 20+ |
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.