From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Kleinplaneet (Engels: minor planet) is ’n hemelliggaam wat in ’n direkte wentelbaan om die Son is en wat nie óf ’n hoofplaneet is óf oorspronklik as ’n komeet geklassifiseer is nie. Voor 2006 het die Internasionale Sterrekundige Vereniging (IAU) die term "kleinplaneet" amptelik gebruik, maar tydens sy 2006-byeenkoms het die vereniging kleinplanete en komete herklassifiseer in twee kategorieë: dwergplanete en klein Sonnestelselliggame (KSSL's).[1]
Kleinplanete kan dwergplanete, asteroïdes, trojane, sentoure, Kuipergordelvoorwerpe en trans-Neptunus-voorwerpe wees.[2] In 2022 was daar 1 131 201 bekende voorwerpe, wat verdeel word in 611 678 genommerde (bevestigde) en 519 523 ongenommerde kleinplanete, waarvan net vyf amptelik as dwergplanete erken word.[3]
Die eerste kleinplaneet wat ontdek is, was Ceres in 1801. Die term "kleinplaneet" word sedert die 19de eeu gebruik om hierdie voorwerpe te beskryf.[4] Die term planetoïde is ook gebruik, veral vir groter voorwerpe[5] wat sedert 2006 dwergplanete genoem word. Histories is die name "asteroïde", "kleinplaneet" en "planetoïde" min of meer as sinonieme gebruik,[5][6] maar die saak het ingewikkelder geraak nadat talle kleinplanete anderkant die wentelbaan van Jupiter en veral Neptunus ontdek is wat gewoonlik nie as asteroïdes beskou word nie.[6] Sommige kleinplanete word dubbel geklassifiseer as komete ook as gasvrystelling waargeneem word.
Voorwerpe word dwergplanete genoem as hulle voldoende massa besit vir hul eie swaartekrag om rigiede liggaamskragte te oorwin, sodat diie liggaam in hidrostatiese ewewig is ('n amper sferiese vorm aanneem). Alle ander kleinplanete word "klein Sonnestelselliggame" genoem.[1] Volgens die IAU mag die term "kleinplaneet" vir laasgenoemde voorwerpe "nog gebruik word, maar in die algemeen word die term 'klein Sonnestelselliggaam' verkies".[7] Vir nommer- en naamdoeleindes word die tradisionele onderskeid tussen kleinplanete en komete steeds gevolg.
Honderdduisende kleinplanete is al in die Sonnestelsel ontdek – en nog duisende word elke maand opgespoor. Meer as 541 000 het wentelbane wat bekend genoeg is dat permanente amptelike nommers aan hulle toegeken is,[8][9] en 21 922 het amptelike name.[8]
In 2021 was die naamlose kleinplaneet met die laagste nommer (4596) 1981 QB.[10] Die kleinplaneet met die hoogste nommer is 594913 ꞌAylóꞌchaxnim.[11]
Daar is verskeie breë indelings van kleinplanete:
’n Kleinplaneet wat pas ontdek is, kry ’n voorlopige naam soos 2002 AT4 wat afhang van die jaar van ontdekking en ’n alfanumeriese kode wat die halfmaand van sy ontdekking en die volgorde in daardie halfmaand aandui. Sodra ’n asteroïde se wentelbaan bevestig is, kry dit ’n nommer en later dalk ’n naam (bv. 433 Eros). Amptelik staan die nommer tussen hakies, maar dit word dikwels uitgelaat. Nie-amptelik kan die nommer ook weggelaat word, of ten minste nadat die volle naam eers genoem is.
Kleinplanete wat ’n nommer gekry het, maar nie ’n naam nie, behou die voorlopige nommer, bv. (29075) 1950 DA. Namate al hoe meer asteroïdes gevind word, kry al hoe minder van hulle name. Die voorlopige nommers bestaan nou al uit ses syfers.
’n Paar voorwerpe word as beide asteroïdes en komete geklassifiseer, soos 4015 Wilson–Harrington, wat ook gelys word as 107P/Wilson–Harrington.
Die eerste paar asteroïdes is genoem na figure uit die Griekse en Romeinse mitologie, maar later is bekende mense, letterkundige karakters, ontdekkers se vroue en kinders en selfs televisiekarakters se name gebruik.
Die eerste asteroïde wat ’n niemitologiese naam gekry het, is 20 Massalia, wat die Griekse naam vir die stad Marseille is. Die eerste een wat ’n heeltemal nieklassieke naam gekry het, is 45 Eugenia, wat genoem is na keiserin Eugénie de Montijo, die vrou van Napoléon III van Frankryk.
Selfs die troeteldiere van ontdekkers is vernoem, soos 482 Petrina, 483 Seppina en 2309 Mr. Spock. Hoewel dié praktyk later verbied is, word vreemde name steeds voorgestel en aanvaar, soos 4321 Zero, 6042 Cheshirecat, 9007 James Bond, ensovoorts.
Name wat in verskillende tale vertaal is, is ook van die begin af algemeen. 1 Ceres, die Latynse/Engelse naam, was aanvanklik Italiaans, Cerere. In Duits, Frans en Arabies is die Engelse naam gebruik, maar Tserera is in Russies gebruik, soos die oorspronklike Italiaanse naam. In Grieks is die naam vertaal as Demeter, die Griekse ekwivalent van die Romeinse godin Ceres. Aanvanklik, voor dit verwarring veroorsaak het, is die name van Romeinse figure gewoonlik in Grieks vertaal – ander voorbeelde is Hera vir 3 Juno, Hestia vir 4 Vesta, Chloris vir 8 Flora en Pistê vir 37 Fides.
Alle name is nie vrylik te gebruik nie; vir sekere liggame is daar konvensionele reëls oor watter name toelaatbaar is. So word sentoure na mitologiese sentoure genoem, Jupitertrojane na helde uit die Trojaanse Oorlog en trans-Neptunus-voorwerpe na onderwêreldse geeste.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.