From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Eastman Kodak Company, algemeen bekend as Kodak, is 'n Amerikaanse tegnologiemaatskappy wat fokus op beeldprodukte, met sy historiese basis in fotografie. Die maatskappy se hoofkwartier is in Rochester, New York, Verenigde State van Amerika en geïnkorporeer in New Jersey.[3] Dit is deur George Eastman gestig in 1888.
Eastman Kodak Company | |
Tipe | Aandelemaatskappy |
---|---|
Gestig | 4 September 1888 |
Hoofkantoor | Rochester, New York, Verenigde State |
Sleutelpersone | Jeffrey J. Clarke (hoof uitvoerende beampte) James V. Continenza (voorsitter) |
Gebied bedien | Wêreldwyd |
Industrie | Digitale beelde, fotografie, mobiele toestelle |
Produkte | Digitale beelde en fotografiese materiaal, toerusting en dienste |
Inkomste | VS$1,798 miljard (2015)[1] |
Bedryfsinkomste | VS$2 miljoen (2015)[1] |
Netto inkomste | VS$–211 miljoen (verlies)(2015)[1] |
Bates | VS$2,138 miljard (2015)[1] |
Werknemers | 6 500 (2015)[2] |
Webwerf | kodak.com |
Kodak bied verpakking, funksionele druk, grafiese kommunikasie en professionele dienste vir besighede regoor die wêreld. Sy vernaamste besigheidsegmente is digitale druk & onderneming en grafika, vermaak en kommersiële films.[4][5] Dit is die bekendste vir hul fotografiese filmprodukte. Vir die grootste deel van die 20ste eeu het Kodak 'n dominante posisie gehandhaaf in die fotografiese filmmark. Die maatskappy se alomteenwoordigheid was so groot dat sy leuse "Kodak oomblik" in die gemeenskaplike leksikon beskryf is as 'n persoonlike gebeurtenis wat aangeteken moes bly vir die nageslag.[6]
Die Japannese mededinger Fujifilm het die Amerikaanse mark (via Fuji Photo Film U.S.A.) met goedkoper film en ander voorraad betree, maar Kodak het geglo dat die Amerikaanse verbruikers nooit sy handelsmerk in die steek sal laat nie.[7] Kodak kon nie daarin slaag om die amptelike filmverskaffer van die 1984 Los Angeles Olimpiese Spele te word nie, en Fuji het hierdie borgskapregte bekom, wat aan hulle 'n permanente vastrapplek in die mark gegee het. Fuji het 'n filmfabriek in die VSA geopen, en deur sy aggressiewe bemarking en prysverlagings begin om markaandeel van Kodak weg te rokkel. Fuji het van 'n 10%-aandeel in die vroeë 1990's tot 17% in 1997 gegroei. Fuji het ook vordering getoon in die professionele mark met spesiale deursigtigheidsfilms soos Velvia en Provia, wat suksesvol meegeding het met Kodak se handtekening professionele produk, Kodachrome. Hulle maak egter gebruik van die meer ekonomiese en algemene E-6 verwerkingsmasjiene wat standaard in die meeste verwerkingslaboratoriums was, eerder as die toegewyde masjiene deur Kodachrome vereis. Fuji se films het ook spoedig 'n mededingende voordeel behaal in die hoëspoed negatiewe films, met 'n verbeterde greinstruktuur.
Hoewel beide Fuji en Kodak sedert die 1970's die opkomende bedreiging van digitale fotografie herken het, en hoewel beide diversifikasie benodig het as 'n versagtende strategie, was Fuji meer suksesvol met hul diversifikasie.[7]
Hoewel Kodak reeds in 1975 'n digitale kamera ontwikkel het, die eerste van sy soort, is die produk laat vaar uit vrees dat dit Kodak se fotografiese filmbesigheid sou bedreig.[8][9] In die 1990's het Kodak 'n dekade-lange reis beplan om oor te skakel na digitale tegnologie. Algeheel was daar egter min implementering van die nuwe digitale strategie. Kodak se kernbesigheid het geen druk van mededingende tegnologie ervaar nie, en Kodak se bestuurders kon hulself nouliks 'n wêreld sonder die tradisionele film voorstel. Dus was daar min aansporing om af te wyk van die normale gang van sake in fotografie. Verbruikers het egter geleidelik oorgeskakel na die digitale aanbiedinge van maatskappye soos Sony.[10]