Khalistan-beweging
Sikh-separatistiese beweging in die Punjab -streek / From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Khalistan-beweging is 'n separatistiese beweging wat poog om 'n tuisland vir Sikhs te skep deur 'n etno-godsdienstige soewereine staat genaamd Khalistan (Punjabi: ਖ਼ਾਲਿਸਤਾਨ, lit. 'land van die Khalsa') in die Punjab-streek te vestig.[2] Die voorgestelde grense van Khalistan verskil tussen verskillende groepe; sommige stel die geheel van die Indiese deelstaat Punjab voor, terwyl ander aansprake die Pakistanse Punjab en ander dele van Noord-Indië soos Chandigarh, Haryana en Himachal Pradesh insluit.[3] Shimla en Lahore is voorgestel as die hoofstad van Khalistan.[4][5]
Die oproep vir 'n aparte Sikh-staat het gedurende die 1930's begin, toe Britse heerskappy in Indië sy einde begin nader het.[6] In 1940 is die eerste eksplisiete oproep vir Khalistan gemaak in 'n pamflet getiteld "Khalistan”. [7][8] Met finansiële en politieke ondersteuning van die Sikh-diaspora, het die beweging in die Indiese deelstaat Punjab – wat 'n Sikh-meerderheidsbevolking het – gefloreer, wat deur die 1970's en 1980's voortgeduur het en in die laat 1980's sy hoogtepunt bereik het. Die Sikh-separatistiese leier Jagjit Singh Chohan het beweer dat die Pakistanse Eerste minister Bhutto (tydens samesprekings met Chohan) "alle denkbare hulp" aan die Khalistan-beweging belowe het, om wraak te neem teen Indië nadat diè land Pakistan verslaan het tydens die Indo-Pakistanse Oorlog van 1971. Hierdie steun het egter nooit gerealiseer nie.[9] In die 1990's het die opstand gekwyn,[10] en die beweging het om verskeie redes nie sy doelwit bereik nie, as gevolg van onder andere hewige polisie-onderdrukking teen separatiste, faksie-binnegevegte en die Sikh-bevolking se ontnugtering.
Daar is 'n mate van steun binne Indië en die Sikh-diaspora, met jaarlikse betogings uit protes teen diegene wat tydens Operasie Blou Ster vermoor is.[11][12][13] Vroeg in 2018 is sommige militante groepe deur die polisie in Punjab, Indië, gearresteer. [14] Die voormalige hoofminister van Punjab, Amarinder Singh, het beweer dat onlangse ekstremisme gerugsteun word deur Pakistan se Inter-Dienste Intelligensie (ISI) en "Khalistan simpatiseerders" in Kanada, Italië en die Verenigde Koninkryk.[15] Simranjit Singh Mann, wat in 2022 vir Sangrur verkies is, is tans die enigste parlementslid wat die Khalistan-beweging openlik ondersteun en sy party, Shiromani Akali Dal (Amritsar), is tans die enigste pro-Khalistan-party in die Indiese parlement.[16][17]