Hans Strijdom
Eerste Minister van Suid-Afrika (1893-1958) / From Wikipedia, the free encyclopedia
Adv. Johannes Gerhardus (Hans) Strijdom (plaas Sandvlakte, distrik Willowmore, Kaapkolonie, 14 Julie 1893 – Kaapstad, Suid-Afrika, 24 Augustus 1958) was Suid-Afrika se vyfde eerste minister en die derde premier wat behoort het tot die Nasionale Party ná genl. J.B.M. Hertzog (1924–'38) en dr. D.F. Malan (1948–'54). Hy was, ná genl. Louis Botha, premier van 1910 tot 1919, die tweede eerste minister wat in die amp oorlede is. Die derde en enigste ander was dr. Hendrik Verwoerd, Strijdom se opvolger.
Johannes Gerhardus Strijdom | |
Ampstermyn 30 November 1954 – 24 Augustus 1958 | |
Monarg | Elizabeth II |
---|---|
Goewerneur-generaal | E.G. Jansen |
Voorafgegaan deur | Daniël François Malan |
Opgevolg deur | Hendrik Verwoerd |
Persoonlike besonderhede | |
Gebore | (1893-07-14)14 Julie 1893 Sandvlakte, distrik Willowmore, Kaapkolonie |
Sterf | 24 Augustus 1958 (op 65) Kaapstad, Kaapprovinsie, Unie van Suid-Afrika |
Politieke party | Nasionale Party |
Eggenoot/-note | Marda Vanne Susan de Klerk |
Kind(ers) | Johannes Gerhardus, Estelle |
Alma mater | Universiteit Stellenbosch |
Religie | Nederduitse Gereformeerde Kerk |
Sy tweede vrou, Susan, het in 1973 van hom gesê: "Daar was iets vreemd gedistingeerds in Hans Strijdom. Hy was in hart en siel 'n volksmens, maar uit die skares wat hom op die hande gedra het, het niemand hom ooit familiêr op die skouers geklop met 'n gemeensame "dag, ou Hans!" nie. Hy was vir almal wel Hans Strijdom, maar in 'n mistieke hoogagting, wat geen familiariteit geken het nie."
Van al Suid-Afrika se premiers tussen 1910 en 1961 was die "Leeu van die Noorde" moontlik die vurigste republikein. Al het hy nie lank genoeg geleef om republiekwording in 1961 te beleef nie, het hy belangrike simboliese voorbereidings vir dié staatkundige verandering getref. Hy was 'n harde politieke werker wat, volgens sy tydgenote, hom doodgewerk het. Sommige waarnemers het hom ná sy dood as 'n Bybelse Moses beskryf wat die beloofde land ('n republiek) kon sien, maar nie binne kon gaan nie.[1]