From Wikipedia, the free encyclopedia
Hélène Serafia (Hella) Haasse (2 Februarie 1918, Batavia – 29 September 2011, Amsterdam) was 'n Nederlandse skryfster, met bekende titels soos Oeroeg (novelle, 1948), Het woud der verwachting (roman, 1949) en Heren van de Thee (roman, 1992) wat uit haar pen verskyn het. In 1983 is die P.C. Hooft-prys aan haar toegeken, en in 2004 die Prijs der Nederlandse Letteren. Sy was een van die eerste Nederlandse skrywers wat hul werk aktief in die buiteland bevorder het en is een van die mees geleesde Nederlandse skrywers in die buiteland.
Hella Haasse | |
---|---|
Hella Haasse, 19 Julie 2007. | |
Gebore | Hélène Serafia Haasse 2 Februarie 1918 |
Sterf | 29 September 2011 |
Beroep | Skrywer |
Bekend vir | Romans |
Webwerf | hellahaasse.nl |
Haasse was die dogter van Willem Hendrik Haasse, wat boeke onder die skuilnaam W.H. van Eemlandt geskryf het, en die konsertpianiste Katharina Diehm Winzenhöhler.
Haasse het na 'n tweejarige verblyf (1920–1921) in Nederland die kleuterskool en Katolieke laerskool in Soerabaja, Nederlands-Indië bygewoon. In 1924 het sy na Europa teruggekeer omdat haar moeder in 'n sanatorium in Davos opgeneem is. Haasse het agtereenvolgens by haar ouma in Heemstede, Noord-Holland, en in 'n kinderhuis in Baarn gewoon. In 1928 het die familie na Nederlands-Indië teruggekeer waar Haasse haar hoërskool deurgeloop het. Daarna het hulle in 1938 na Nederland verhuis sodat sy Skandinawiese taal- en letterkunde kon bestudeer. In 1941 het Haasse haar studies gestaak en met haar opleiding aan die Amsterdamse Toneelschool begin. Op 18 Februarie 1944 trou sy met Jan van Lelyveld (1918–2008), wie sy in 1939 leer ken het aan Propria Cures, en beëindig terselfdertyd haar toneelloopbaan. Sy het nietemin kabarettekste bly skryf, onder andere vir Wim Sonneveld. Haasse en Van Lelyveld het tussen 1944 en 1951 drie dogters in die lewe gebring. Die oudste, Chrisje, is in 1947 oorlede. In 1981 verhuis Haasse met haar man na Frankryk.
Hella Haasse is te Amsterdam na 'n kort siekbed op Donderdag, 29 September 2011 op die ouderdom van 93 oorlede.[1]
'n Aantal van Haasse se boeke het as onderwerp die lewe in Nederlands-Indië, so ook die roman Oeroeg, haar deurbraak, wat vir die veldtog "Nederland Leest" in 2009 gekies is, en haar allergrootste suksesroman in Nederland: Heren van de Thee.
Oor haar boek Bij de Les = Schoolplaten van Nederlands Indië, wat handel oor veertig skoolboekillustrasies, haal sy herinneringe uit Indië op. Oor haar verblyf daar skryf sy die volgende: "Die hawe-illustrasie (in Indië) is, soos baie ander in Bij de les, gemaak deur Frits van Bemmel." Hella Haasse noem die illustrasies wat sy ingesamel het vir Bij de les nie in die eerste instansie nostalgies nie. Sy skryf: "Ek kan nie onthou dat ek hulle ooit gesien het in die skole in Batavia, Buitenzorg en Bandoeng nie, waar ek as kind in die jare twintig en dertig van die vorige eeu gewoon het. Illustratief is die plaat Achtererf, met in die tuin 'n wasgoedlyn met daaragter 'n heining". "Was Frits van Bemmel self ooit 'n 'Indiese' kind?" vra Haasse haarself af op die bladsy langs die illustrasie. "Sy 'Achtererf' sou jy eerder in Blaricum of Doorn of in 'n ander dorp verwag".
Daarbenewens het sy 'n paar historiese romans geskryf, waarvan die bekendste Het woud der verwagting is. Met Schaduwbeeld het sy die min of meer vergete baron Joan Derk van der Capellen tot den Pol weer aan die lewe gebring.
Die karakters in haar boeke kom sy nog dikwels teë in haar drome, sê sy. "Ek het 'n hele familie vir myself geskep waaraan ek nog dikwels aan dink (…) jy raak hulle nooit kwyt nie".
In die lente van 2007 ontdek Hella Haasse by haar huis ou koerantstukke met 'n avontuurroman, Sterrenjacht, wat sy in 1949 geskryf het en in 1950 as "feuilleton" onder die skuilnaam "CJ van der Sevensterre" in Het Parool verskyn het. Dit het eers in 2007 bekend geword dat Haasse onder hierdie skuilnaam geskryf het.[2]
Kort na die verskyning van Sterrenjacht in Junie 2007 is bekend gemaak dat asteroïde 10250 die naam Hellahaasse kry. Die asteroïde is ontdek deur sterrekundiges uit Leiden en hulle is daarom toegelaat om die naam te kies. Asteroïde (10250) Hellahaasse het 'n deursnee van ongeveer 4km en voltooi in 3,57 jaar 'n volledige omloop rondom die son. Die gemiddelde afstand tot die son beloop 350 miljoen km.
Hella Haasse het 'n eie virtuele museum op die internet. Op 5 Februarie 2008, drie dae na haar negentigste verjaardag, het sy die museum tydens 'n feestelike vergadering vir genooide gaste geopen deur eerste aan te teken.
Die museum openbaar die persoonlike argief van Haasse. Benewens haar eie dokumente soos familiefoto's, briewe en dagboeke, word in die museum ook boekfragmente, onderhoude en dokumentêre geskrifte gehuisves.
Die skryfster, hoewel tegnologies ongeletterd, het nie soos haar tydgenoot, die Nobelpryswenner Doris Lessing, oor die internet as een groot hol vat sonder wesenlike inligting gepraat nie. Haasse beskou ontlesing as 'n tydelike gebeurtenis. Daarby deel sy die mening dat mense weer sal ontdek hoe belangrik en onontbeerlik lees is.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.