From Wikipedia, the free encyclopedia
Hampstead [ˈhæmpstɪd of -stɛd], algemeen bekend as Hampstead Village, is 'n stadsdeel van Londen, Engeland, sowat 4 myl of 6,4 km noordwes van Charing Cross. Hampstead, wat deel uitmaak van die Londense distrik Borough of Camden, het oor die eeue heen sy dorpskarakter bewaar. Skoon lug en die uitsig, wat 'n mens van hier af oor die stadsgebied en tot by die heuwellandskap van Surrey het, maak van Hampstead 'n gewilde woonplek. Hier is van die duurste eiendomme in die Britse hoofstad geleë, en die getal miljoenêrs, wat hier woonagtig is, is groter as in enige ander gebied in die Verenigde Koninkryk.[1]
Hampstead | |
---|---|
Voorstad | |
Hampstead | |
Koördinate: 51°33′15″N 0°10′28″W | |
Land | Verenigde Koninkryk |
Land | Engeland |
Graafskap | Groter Londen |
Borough | Camden |
Tydsone | UTC±00:00 (MGT) |
• Somertyd | UTC+01:00 (BST) |
Poskode | NW3 |
Skakelkodes | 020 |
In die Tudor-tydperk het welvarende koopmanne hulle hier begin vestig, en in die 18de eeu was die gebied so gewild soos Islington. Sy rustige ligging buite die woelige middestad van Londen en die mineraalbronne, wat hier ontspring, het van Hampstead 'n elegante ontspanningsplek en herstellingsoord gemaak. Die lys van bekende inwoners sluit die staatsman William Pitt en die skrywers Robert Louis Stevenson en John Galsworthy in.[2] Keats House, die woning van die Romantiese digter John Keats, is hier geleë.
Naas literêre persoonlikhede word Hampstead vandag ook met ander kunstenaars, musici, intellektueles en liberales verbind. Hampstead Heath, 'n uitgestrekte heuwelagtige parklandskap, is een van die bekendste groen ruimtes in Londen.
'n Groot busterminus, Hampstead Heath, is in South End Green geleë. Die belangrikste gereelde busdiens is Roete 24 wat die gebied al meer as 100 jaar lank met die West End, Victoria en Grosvenor Road in Pimlico verbind. Hampstead word tans deur die Londense Busroetes 24, 46, 168, 210, 268, 603, C11 en N5 bedien.
Die naaste moltreinstasies is Hampstead en Belsize Park op die Noordelike lyn (Northern line), en Swiss Cottage en Finchley Road op die Jubileumslyn (Jubilee line). Alle stasies is in Travelcard Zone 2 geleë. Hampstead, weens die heuwelagtige terrein een van die diepste ondergrondse stasies van Londen se moltreinnetwerk waarvan die platvorms per hysbak bereik kan word, is op die grens tussen Travelcard Zone 2 en 3 geleë.
Die Hampstead Heath-treinstasie is in South End Green geleë. Daar is 'n tweede stasie, Finchley Road & Frognal, aan die westelike kant van Hampstead. Albei stasies maak deel uit van die London Overground-netwerk.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.