sigbare oppervlak, steroppervlaklae (ster se buitenste dop) waaruit optiese straling ontsnap; streek waaruit ekstern ontvang lig afkomstig is; diepste gebied van 'n ligte voorwerp, wat deursigtig is vir fotone van sekere golflengtes From Wikipedia, the free encyclopedia
Die fotosfeer is 'n ster se buitenste skil waaruit lig oënskynlik straal.
Die term kom van die antieke Griekse wortels φῶς, φωτός/phos, photos, "lig" en σφαῖρα/sphaira "sfeer", omdat dit oënskynlik die sfeer is waaruit lig gestraal word. Dit strek tot by 'n ster se oppervlak, waar die plasma deursigtig raak. Dit is ekwivalent aan 'n optiese diepte van sowat 2⁄3,[1] of 'n diepte waarvandaan 50% van die lig sal ontsnap sonder om verstrooi te raak.
Die Son se fotosfeer het 'n temperatuur van tussen 4 400 en 6 600 K (4 130 en 6 330 °C), met 'n effektiewe temperatuur van 5 772 K (5 499 °C).[2][3] Ander sterre se fotosfeeer kan warmer of koeler wees.
Die fotosfeer, die sigbare deel van 'n ster, is die laag onder die een waar die ster se lig deurskynend word.[4] Fotone wat in dié laag geskep word, ontsnap van hier deur die deurskynende atmosfeer daarbo en word sterlig. Die verandering in deursigtigheid is vanweë die afname van die hoeveelheid H--ione, wat sigbare lig maklik absorbeer.[4] Die omgekeerde hiervan is die sigbare lig wat ons sien wat geskep word wanneer elektrone met waterstofatome reageer om H--ione te vorm.[5][6]
Die Son se fotosfeer is tienhonderde kilometers dik en is effens minder ondeursigtig as lug op Aarde. Omdat die boonste deel van die fotosfeer koeler as die onderste deel is, lyk 'n foto van die Son helderder in die middel as aan die rand van die sonskyf; die verskynsel is bekend as randverdonkering.[4] Die spektrum van sonlig is min of meer gelyk aan dié van 'n swartliggaam wat teen 5 777 K (5 504 °C) uitstraal, onderbreek deur absorpsielyne van die atome in die yl lae bo die fotosfeer. Die fotosfeer is nie ten volle geïoniseer nie (ionisasie is sowat 3%), en daarom is feitlik al die waterstof in atoomvorm.[7]
In vroeë studies van die optiese spektrum van die Son se fotosfeer is absorpsielyne ontdek wat nie ooreenstem met enige chemiese element op Aarde nie. In 1868 het die Engelse sterrekundige Norman Lockyer die hipotese ontwikkel dat dié absorpsielyne veroorsaak word deur 'n nuwe element, wat hy "helium" genoem het, na die Griekse songod Helios. Eers 25 jaar later is helium op Aarde geïsoleer.[8]
In die Son se fotosfeer is die opvallendste verskynsel die korrelrige voorkoms van die plasma, met warm plasma wat na bo styg, afkoel en daal en dan weer warmer word en styg. Elke korrel het 'n lewensduur van net sowat 20 minute, en dit lei tot 'n aanhoudend veranderende "kookpatroon".
Ander magneetveldverwante verskynsels in die Son se fotosfeer sluit in sonvlekke en sonvlamme tussen die korrels.[9] Hulle is te fyn om regstreeks op ander sterre waar te neem, maar stervlekke is al onregstreeks waargeneem.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.