Fabergé-eier
Juweel Paaseier meestal in opdrag van die tsaar van Rusland vervaardig / From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Fabergé-eier (Russies: яйцо Фаберже; jaitso Faberzje) is een van ’n beperkte getal juweliersware in die vorm van ’n eier wat tussen 1885 en 1917 deur Peter Carl Fabergé en sy maatskappy vervaardig is.[1] Die beroemdstes is dié wat vir die Russiese tsaars Aleksander III en Nikolaas II gemaak is as Paasgeskenke vir hul vroue en ma's; dit word dikwels die "keiserlike" Fabergé-eiers genoem. Die Huis van Fabergé het meer as 50 keiserlike eiers gemaak, waarvan 43 bewaar gebly het.[2] Nog twee is vir Paasfees van 1918 beplan, maar het nooit hul bestemming bereik nie weens die Russiese Rewolusie.
Ná die rewolusie het die Fabergé-familie Rusland verlaat. Die handelsmerk is sedertdien verskeie kere verkoop en verskeie maatskappye het eierverwante produkte onder die Fabergé-naam vervaardig. Van 1998 tot 2009 het die Victor Mayer-juweliersmaatskappy ’n beperkte getal Fabergé-eiers van erfstukgehalte vervaardig onder Unilever se lisensie. Die handelsmerk behoort nou aan Fabergé Beperk, wat juweliersware met ’n eiertema maak.[3]