Huis van Fabergé
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Huis van Fabergé (Russies: Дом Фаберже, Dom Faberzje) is ’n juweliersmaatskappy wat in 1842 in Sint Petersburg in die Russiese Ryk gestig is deur Gustav Faberge; hy het sy van "Fabergé", met ’n akuut op, gespel. Gustav is opgevolg deur sy seun, Peter Carl Fabergé, totdat die maatskappy in 1918 deur die Bolsjewiste genasionaliseer is.
Die maatskappy was beroemd vir die uitspattige juweliersware in die vorm van eiers wat hulle vir die Russiese tsaars vervaardig het asook ’n reeks ander artikels van ’n hoë standaard en met fyn detail. In 1924 het Peter Carl se seun Alexander en sy halfbroer, Eugène, die maatskappy Fabergé et Cie in Parys, Frankryk, gestig en dieselfde soort juweliersware gemaak, maar onder die handelsnaam Fabergé, Paris.
In 1937 is die handelsnaam Fabergé verkoop en in 1964 weer verkoop aan die kosmetiekmaatskappy Rayette Ingelyf, wat sy naam verander het na Rayette-Fabergé Ingelyf. Terwyl die naam verskeie kere verander is, het maatskappye soos Fabergé Ingelyf klere, die reukwater Brut (wat die beste verkoper van sy tyd was), die parfuum Babe en haarprodukte verkoop en rolprente vervaardig.