From Wikipedia, the free encyclopedia
C/2012 S1, ook bekend as Komeet Ison, was ’n sonskeerderkomeet wat op 21 September 2012 ontdek is.[3] Die ontdekking is gedoen deur Witali Nefski (Виталий Невский; Witebsk, Belarus) en Artjom Nowitsjonok (Артём Новичонок; Kondopoga, Rusland) met behulp van ’n weetkaatsingsteleskoop van 0,4 meter in deursnee in die International Scientific Optical Network (ISON of Ison) naby Kislowodsk, Rusland. Kort ná die ontdekking is die komeet ook gevind op foto’s van die Mount Lemmon Survey (op 28 Desember 2011) en Pan-STARRS (op 28 Januarie 2012).[4] Die ontdekking is op 24 September 2012 deur die Minor Planet Center aangekondig.[4] Waarnemings deur Swift het in Januarie 2013 daarop gedui C/2012 S1 se kern het ’n deursnee van sowat 5 km.[5] Latere ramings het gedui op ’n deursnee van sowat 2 km.[6]
Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
C/2012 soos afgeneem deur TRAPPIST. | |
Ontdekking | |
---|---|
Ontdek deur: | Witali Nefski en Artjom Nowitsjonok[1] |
Ontdekkingsdatum: | 21 September 2012 |
Wenteleienskappe | |
Epog: | J2000 |
Perihelium: | 28 November 2013 (0,01244 AE)[2] |
Eksentrisiteit: | 1,0000020[2] |
Wentelperiode: | Hiperboliese baan (J2050) |
Baanhelling: | 62,39°[2] |
Ison het op 28 November 2013 sy perihelium (naaste punt aan die Son), bereik en op dié dag is die eerste keer vermoed dit het gedisintegreer.[7][8] Later in die dag is ’n koma-agtige voorwerp opgemerk wat daarop gedui het dat ’n stukkie van die komeet kon oorleef het.[7][9][10] Op 29 November het die koma egter dowwer geword tot ’n skynbare magnitude van 5.[11] Teen die einde van 30 November het dit verder verdof tot ’n magnitude van 7.[12] Teen 2 Desember het die CIOC aangekondig dat Ison heeltemal gedisintegreer het,[13] hoewel Nasa steeds die moontlikheid onderdoek het dat ’n stukkie van die komeet sy perihelium kon oorleef het.[14]
C/2012 S1 het op 28 November 2013 sy perihelium bereik toe dit 0,012 AE (1 800 000 km) van die middelpunt van die Son af was.[2][15] Die Son het ’n straal van 695 500 km en dus was die komeet sowat 1 100 000 km van die Son se oppervlak af. Sy baan is feitlik parabolies, wat aandui dat dit waarskynlik ’n dinamiese nuwe komeet vars uit die Oort-wolk is.[16][17] Dit het op 1 Oktober 2013 op sy naaste aan Mars verbybeweeg: sowat 0,0724 AE (10 830 000 km). As dit oorleef het, sou dit op 26 Desember op ’n afstand van sowat 0,429 AE (64 200 000 km) verby die Aarde beweeg het.[15]
Kort ná sy ontdekking is gemerk dat baie van sy wenteleienskappe ooreenstem met dié van die Groot Komeet van 1680 en daar is vermoed die twee komete is stukke van dieselfde oorspronklike voorwerp. Verdere waarnemings het egter gewys die komete is nie verwant nie.[18]
Die Aarde sal op 14–15 Januarie 2014 naby die wentelbaan van C/2012 S1 verbybeweeg, lank nadat die komeet weg is, en klein stofdeeltjies wat agtergebly het, kan dalk ’n meteoorreën of ligtende nagwolke veroorsaak.[19][20] Die waarskynlikheid is egter baie klein omdat die Aarde nie deur die baan beweeg nie.[21] Boonop is meteoorreëns van komete wat net een keer deur die binneste Sonnestelsel beweeg het, baie seldsaam.[22] Ook ligtende nagwolke ná so ’n lang tyd is nog nooit in soortgelyke omstandighede aangeteken nie.[22]
Toe dit ontdek is, was C/2012 S1 se skynbare magnitude sowat 18,8 – heeltemal te dof om met die blote oog te sien, maar helder genoeg dat dit deur ’n groot amateurteleskoop sigbaar was.[23][24] Dit het nes ander komete helderder geword namate dit die Son genader het en sou weer dowwer word terwyl dit na die buitenste wyke van die Sonnestelsel terugkeer.
Van 5 Junie tot 29 Augustus 2013 het C/2012 S1 ’n elongasie van minder as 30º van die Son af gehad.[25] Die Spitzer-ruimteteleskoop het die komeet op 13 Junie waargeneem en sy koolstofdioksied-produksie op sowat ’n miljoen kilogram per dag geraam.[26] Omdat die komeet stadiger helderder geword het as wat verwag is, was dit eers in Oktober 2013 helder genoeg om sigbaar te wees deur klein teleskope of verkykers.[16][24] Dit kon egter eers van middel November af met die blote oog gesien word.[25][27]
In Oktober het C/2012 S1 deur die sterrebeeld Leeu en naby die Leeu se helderste ster, Regulus, verbybeweeg en was dit in die naglug naby Mars – dié helder voorwerpe het dit makliker gemaak om die komeet op te spoor.[23] In die tweede helfte van November het dit naby nog ’n helder ster, Spica in die sterrebeeld Maagd, verbybeweeg en daarna naby nog ’n planeet, Saturnus.[28]
Daar is aanvanklik voorspel die komeet sal helderder as die volmaan word,[16][17] maar volgens latere waarnemings sou dit hoogstens ’n magnitude van -3 tot -5 bereik, omtrent die helderheid van Venus.[29][27] Die helderste komeet sedert 1935 was Komeet Ikeya-Seki in 1965, wat ’n magnitude van -10 gehad het – heelwat helderder as Venus[30] (hoe laer die magnitude, hoe helderder is ’n voorwerp). Nadat C/2012 S1 egter verbrokkel het, het dit op 29 November verdof tot ’n magnitude van 5[11] en teen die volgende dag tot ’n magnitude van 7.[12]
Ison was van middel tot einde November op sy beste vanaf die Suidelike Halfrond sigbaar.[31]
Die komeet se amptelike naam is C/2012 S1. Die "C" dui aan dit was nie-periodiek en word gevolg deur die jaar van ontdekking. Die "S" stel die halfmaand voor waarin dit ontdek is (in dié geval die tweede helfte van September) en die "1" dui daarop dat dit die eerste komeet is wat in dié halfmaand ontdek is.[32] Ison of ISON is bloot die naam van die organisasie waar dit ontdek is, die International Scientific Optical Network in Rusland. Die naam Komeet Ison word egter meestal in die media gebruik[33][34][35] en dit sal waarskynlik so bly, al sal dit verwarring veroorsaak wanneer nog ontdekkings deur die ISON-organisasie gedoen word.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.