Arameërs
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Arameërs (Aramees: ܐܪ̈ܡܝܐ) is 'n Semitiese etnies-godsdienstige groep inheems aan lande van die Midde-Ooste. Die meeste Arameërs praat 'n Nieu-Aramese taal, wie se ondergroepe Noordoostelike, Sentraal- en Wes-Nieu-Aramees insluit, sowel as ander tale, afhangend van die land van verblyf.
Arameërs Sūryoye / Oromoye | |
---|---|
Siries-Aramese vlag. | |
Totale bevolking: | ca. 4 miljoen[1] |
Belangrike bevolkings in: | Sirië 400 000[2] Irak 300 000[3] |
Taal: | Nieu-Aramees, Turoyo ook kennis van Arabies, Koerdies, Turks en Persies |
Geloofsoortuiging: | Siriese Christendom (Galdees-Katolieke Kerk) • Siries-Ortodokse Kerk • Siries-Katolieke Kerk • Antieke Kerk van die Ooste • Sommige sekulêre of ongebonde |
Verwante etniese groepe: | Ander Semitiese en Afro-Asiatiese volke soos Arabiere en Jode |
Die Arameërs; hulle het onafhanklike koninkryke gestig in dele van die Nabye Ooste, veral die hedendaagse Sirië, Libanon, Jordanië, Israel, Palestina, die noordwestelike Arabiese Skiereiland en Suidsentraal-Turkye. Dié state is teen die 9de eeu v.C. heeltemal in die Nieu-Babiloniese Ryk opgeneem. In dié tydperk kon Galdeërs, Arameërs, Suteërs en inheemse Babiloniërs in ’n groot mate nie van mekaar onderskei word nie.[34]
Aramees het die omgangstaal van die hele Nabye Ooste en Klein-Asië geword nadat dit in die middel 8ste eeu v.C. saam met Akkadies een van die twee amptelike tale van die uitgestrekte Nieu-Assiriese Ryk gemaak is uit erkenning van die hoofsaaklik Aramese bevolking in streke wat Assirië wes van die Eufraat verower het. Hierdie ryk het gestrek van Siprus en die oostelike Middelandse See-gebied in die weste tot Persië en Elam in die ooste, en van Armenië en die Kaukasus in die noorde tot Egipte en Arabië in die suide.
Die gebruik van Wes-Aramees het egter geleidelik afgeneem ten gunste van Arabies sedert die Arabies-Islamitiese verowering van die gebied en die taal is in gevaar om uit te sterf, veral weens herhaalde volksmoorde op die Arameërs, hoewel Aramese voorname en vanne steeds aangetref word onder Siriese Christene in die Levant. Baie van hulle maak steeds aanspraak op ’n Aramese erfenis en afstamming, veral in die moderne Sirië, Libanon, Suidsentraal-Turkye en Israel.