Fenisië
ou Semitiese beskawing / From Wikipedia, the free encyclopedia
Fenisië (van die Griekse Φοινίκη, Phoiníkē; Arabies: فينيقية, Fīnīqīyah) was ’n antieke Semitiessprekende, seevarende beskawing in die westelike kusstreke van die Vrugbare Halfmaan wat aan die kuslyn van die moderne Libanon gesentreer was.[1][2] Al die groot Fenisiese stede was aan die kus van die Middellandse See geleë.
| ||||
'n Kaart van die Fenisiese streek in groen. | ||||
Hoofstad | Geen; belangrike stede was Bublos, Tirus en Kartago | |||
Taal/Tale | Fenisies, Punies | |||
Regering | Monargie | |||
Bekende konings van Fenisiese stede | ||||
- ca. 1000 v.C. | Ahiram | |||
- 969–936 n.C. | Hiram I | |||
- 820–774 n.C. | Pigmalion | |||
Historiese tydperk | Mesopotamië | |||
- Gevestig | 2500 v.C. | |||
- Stigting | 2500 v.C. | |||
- Tirus, onder die regering van Hiram I, word die dominante stadstaat | 969 v.C. | |||
- Pigmalion stig Kartago (legendaries) | 814 v.C. | |||
- Pompeius verower Fenisië en die res van die Seleukidiese Ryk | 64 v.C. | |||
- Ontbind | 64 v.C. |
Die gebied van die Fenisiese stadstate het deur die geskiedenis uitgebrei en gekrimp. Die kernstreek waarin die Fenisiese kultuur ontwikkel en floreer het, het gestrek van Bublos in Noord-Libanon tot Karmelberg in die hedendaagse Israel. Op die hoogtepunt van sy bestaan het Fenisië se grondgebied in die oostelike Mediterreense streek gestrek van die Orontesriviermond tot by Ashkelon.[3] Buite sy tuisgebied het die Fenisiese beskawing gestrek tot by die Middellandse See, van Siprus tot die Iberiese Skiereiland.
Die Fenisiërs was 'n Semitiessprekende volk van ietwat onbekende oorsprong wat omstreeks 3000 v.C. in die Levant ontstaan het.[4] Die term "Fenisië" is 'n antieke Griekse, nie-inheemse naam wat waarskynlik een van hulle belangrikste uitvoergoedere beskryf het: 'n kleursel ook bekend as Tiriese pers. Die term beskryf nie nie 'n samehangende kultuur of gemeenskap nie, want antieke bronne dui nie aan dat die Fenisiërs hulself voor die Laat Oudheid as van dieselde identiteit, afkoms of tuisland beskou het nie.[5]
Daar word gedebatteer of die Fenisiërs wel afsonderlik van die breër groep Semitiessprekende volke was wat as die Kanaäniete bekend staan.[6][7] Die historikus Robert Drews glo "Kanaäniete" was die naam van die etniese groep wat deur die antieke Grieke die "Fenisiërs" genoem is,[8] maar volgens die argeoloog Jonathan N. Tubb het die Ammoniete, Moabiete, Israeliete en Fenisiërs elk hulle eie kulturele identiteit gehad, hoewel hulle etnies Kanaäniete was, "dieselfde mense wat hulle in die 8ste millennium v.C. in boerderynedersettings in die streek gevestig het".[9]:13–14
Die Fenisiërs het in die middel 12de eeu v.C. 'n opkoms gemaak ná die agteruitgang van die invloedrykste kulture in die verval van die Bronstydperk. Hulle was onder die mense van hulle tyd bekend as bekwame handelaars en seevaarders, en het deur die grootste deel van die klassieke oudheid die oorheersende kommersiële mag geword. Die Fenisiërs het 'n uitgebreide seehandelsnetwerk ontwikkel wat langer as 'n millennium geduur het. Hulle het gehelp om kulture, idees en kennis uit te ruil tussen groot bakermatte van die beskawing soos Griekeland, Egipte en Mesopotamië. Ná sy hoogtepunt in die 9de eeu v.C. het die Fenisiese beskawing in die oostelike Mediterreense streek stadigaan agteruitgegaan weens buitelandse invloed en mededinging; in die sentrale en westelike Mediterreense streek het sy invloed voortgeduur tot in die middel van die 2de eeu v.C.
Die Fenisiërs was in stadstate georganiseer, nes dié in antieke Griekeland, waarvan die noemenswaardigstes Tirus, Sidon en Bublos was.[10][11] Elke stadstaat was polities onafhanklik, en daar is geen bewyse dat die Fenisiërs aan hulleself as 'n enkele nasionaliteit gedink het nie.[12] Die Fenisiërs het kolonies en handelsposte oor die hele Mediterreense streek gevestig. Kartago, 'n nedersetting in Noordwes-Afrika, het in die 7de eeu v.C. 'n groot beskawing uit eie reg geword. Die Fenisiese gemeenskap en kultuurlewe was gesentreer om handel en seevaart. Terwyl die meeste stadstate deur die een of ander soort koning regeer is, het handelaarsfamilies waarskynlik groot invloed uitgeoefen.
Die Fenisiërs is lank as 'n verlore beskawing beskou weens die gebrek aan inheemse geskrewe rekords. Eers teen die middel 20ste eeu het historici en argeoloë 'n idee begin vorm van die komplekse en invloedryke beskawing.[13] Hulle beste nalatenskap was die wêreld se oudste geverifieerde alfabet, waarvan die oorsprong verbind word aan dié van die Hebreeuse skrif via die Proto-Sinaïtiese alfabet.[14] Dit is deur die Mediterreense streek versprei en gebruik om die Arabiese en Griekse alfabet te ontwikkel en daarna weer die Latynse alfabet en Cyrilliese skrif.[15][16]
Hulle kry ook die eer vir innovasies in skeepsbou, navigasie, nywerheid, landbou en regering. Daar word geglo hulle internasionale handelsnetwerk het die ekonomiese, politieke en kulturele fondamente gelê van die klassieke Westerse beskawing.[17]