Hoofstad
primêre regerende stad van 'n topvlak (land) of eerstevlak en tweedevlak onderafdeling (land, staat, provinsie, regentskap, ens.) politieke entiteit / From Wikipedia, the free encyclopedia
'n Hoofstad is 'n belangrike stad in 'n gebied (soos 'n land of 'n provinsie) wat sentraal staan in 'n sekere sin (gewoonlik 'n politieke sin). Die hoofstad van 'n land verwys gewoonlik na die setel van die regering van die land.
Luister +? |
Daar kan ook verwys word na 'n stad as die ekonomiese of kulturele hoofstad van 'n gebied. Dit kan daarop dui dat die stad die meeste ekonomiese of kulturele aktiwiteit beleef of as sodanige middelpunt gesien word deur meeste mense.
In party gevalle het lande meer as een hoofstad, of die setel is in 'n ander stad as die hoofstad:
- In Suid-Afrika is Pretoria die uitvoerende hoofstad met die regeringskantore by die Uniegebou. Kaapstad is die wetgewende hoofstad met die parlement van Suid-Afrika wat daar vergader en Bloemfontein is die geregtelike hoofstad met die Appèlhof van Suid-Afrika.
- Yamoussoukro is in 1983 as die hoofstad van die Ivoorkus verkies, maar baie van die staatskantore en ambassades is steeds in Abidjan.
- Sucre is steeds die grondwetlike hoofstad van Bolivië, maar meeste van die nasionale regering het reeds verhuis na La Paz.
- Amsterdam, die hoofstad van Nederland, is nie die setel van die regering nie. Dié is in Den Haag.