Mariepskop
bergtop in Suid AfrikaMariepskop, ook Marepe of Maripekop genoem, is met sy hoogte van 1 947 m bo seevlak een van die hoogste pieke in die noordelike Drakensberg, en die hoogste punt van die Blyderivierspoort, Suid-Afrika. Dit is geleë by die aansluiting van drie bewaringsgebiede, naamlik die Mariepskop-bosreservaat, Mariepskop-staatsbos, en die Blyderivierspoort-natuurreservaat. Die bergtop word aan verskillende kante deur loodregte kranse begrens, en bestaan uit Proterosoïese sedimentêre gesteentes van die Transvaalse supergroep. Die berg is vernoem na die 19de eeuse Poelana-hoofman, Maripe Mashile, wie se stam die berg eens as 'n vesting teen aanvalle gebruik het. Infrastruktuur en paaie is tydens die 1950's aangebring om 'n militêre radarstasie te bedien. Weerskante van Mariepskop is Tshwateng (1 628 m) oorkant die Blyderivier, en Hebronberg (1 767 m) aan die suidekant.