Remove ads
From Wikipedia, the free encyclopedia
Zoltán Kocsis (Hongaarse uitspraak: zoltaːn ˈkot͡ʃiʃ; 30 Mei 1952 - 6 November 2016) was 'n Hongaarse virtuoospianis, dirigent en komponis.[1]
Kocsis is gebore in Boedapest. Hy het op vyfjarige leeftyd met musieklesse begin en in 1963 daarmee voortgegaan aan die Béla Bartók Konservatorium waar hy klavier en komposisie studeer het.[2] In 1968 is hy toegelaat tot die Franz Liszt Musiekakademie. Hy was 'n leerling van Pál Kadosa, Ferenc Rados en György Kurtág, en het in 1973 aldaar gegradueer.
Kocsis het in 1970 die Hongaarse-radio Beethoven-kompetisie gewen en die volgende jaar sy eerste konserttoer in die Verenigde State meegemaak.[3] Hy het die Liszt-prys in 1973 ontvang, en die Kossuth-prys in 1978.[4]
Kocsis is beskou as 'n briljante pianis,[5] en het saam met die Berliner Philharmoniker, Chicago Simfonieorkes, San Francisco Simfonieorkes, New York Filharmoniese Orkes, Staatskapelle Dresden, die Philharmonia van Londen en die Weense Filharmoniese Orkes opgetree. [6] Kocsis het die volledige solo-klavierwerke en klavier-en-orkes werke van Béla Bartók opgeneem. [7] In 1990 het sy opname van Debussy se Images[8]die Gramophone Klassieke Musiek-toekenning vir die Beste Instrumentale Opname vir daardie jaar gewen. Hy het in 2013 'n soortgelyke prys gewen saam met die violis Barnabás Kelemen in die kamermusiek kategorie vir die opname van Bartók se Vioolsonates Nos 1 & 2.[9]
Die Amerikaanse kritikus Harold C. Schonberg het Kocsis se buitengewone tegniek en fyn klaviertoon geprys.[10] Volgens Grove Music Online het hy "'n indrukwekkende tegniek gehad, maar is sy sterk ritmiese spel nietemin diepgevoel en nooit meganies nie. Kocsis het 'n natuurlike aanvoeling vir Bach gehad. Hy was egter ook 'n liefhebber van kontemporêre musiek, en het die eerste uitvoerings van die werke van Kurtág gegee."[11]
Kocsis het in 1983 saam met Iván Fischer die Boedapest Fees-orkes gestig en daarmee 'n nuwe epog in die geskiedenis van Hongaarse orkestrale spel begin. Kocsis het vanaf die stigting daarvan 'n bepalende rol gespeel in die rigting en die ontwikkeling van die orkes se programbeleid, en het vanaf 1987 ook as dirigent daarvan opgetree. Hy het in 1997 die musikale direkteur van die Hongaarse Nasionale Filharmoniese Orkes geword en die amp tot sy dood in 2016 behou.
Kocsis is op 6 November 2016 op 64-jarige ouderdom in sy geboortestad Boedapest aan kanker oorlede.[12]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.