Amerikaanse reeksmoordenaar From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Sodiakmoordenaar was ’n reeksmoordenaar wat in die laat 1960's in Noord-Kalifornië bedrywig was. Hy is nooit aangekeer nie en sy identiteit is onbekend. Die saak is al beskryf as die beroemdste onopgeloste moordsaak in die Amerikaanse geskiedenis[1] en het al gelei tot baie pogings deur amateurspeurders om dit op te los.
Sodiakmoordenaar | ||
’n Skets van Sodiak. | ||
Land | VSA | |
Misdaad | Reeks moorde | |
Misdaadbesonderhede | ||
Plek | Noord-Kalifornië | |
Datum(s) | 20 Desember 1968 (moontlik 4 Junie 1966), (briewe 1969) – 11 Oktober 1969 (moontlik 1972), (briewe 1974) | |
Slagoffers | 37, volgens eie bewerings | |
Getal gedood | 5 (bevestig) | |
Getal beseer | 2 (bevestig) | |
Vonnisbesonderhede | ||
Aangekeer | Nooit |
Hy het mense tussen Desember 1968 en Oktober 1969 in Benicia, Vallejo, by die Berryessa-meer en in San Francisco vermoor. Vier mans en drie vroue tussen 16 en 29 jaar oud is aangeval. Twee van sy slagoffers het oorleef. Die Sodiak self het beweer hy het 37 mense vermoor en hy is verbind met verskeie ouer moorde, sommige in Suid-Kalifornië en ander buite Kalifornië. Die moordenaar het self die naam "Sodiak" gebruik in ’n reeks tartende briewe aan koerante in die Baaigebied. Dié briewe het vier geheime kodes bevat – net een hiervan is vir seker ontsyfer.[2]
Verskeie verdagtes is ondersoek, maar geen beslissende bewyse is gevind nie. In April 2004 het die San Francisco-polisie die saak as "onaktief" gemerk, maar dit in 2007 heropen.[3][4] Die saak is ook nog oop in Vallejo en ander gebiede, asook by die Kaliforniese departement van justisie.[5]
Die enigste verdagte wat destyds ooit in die openbaar genoem is, was Arthur Leigh Allen,[6] 'n voormalige laerskoolonderwyser en veroordeelde seksoortreder wat in 1992 dood is.
Hoewel die Sodiakmoordenaar in briewe aan koerante beweer het hy het 37 moorde gepleeg, is net sewe slagoffers bevestig, van wie twee sy aanvalle oorleef het. Hulle is:
Die eerste moorde wat algemeen aan die Sodiakmoordenaar toegeskryf word, is dié op die skoliere Betty Lou Jensen en David Faraday op 20 Desember 1968 net binne die stadsgrense van Benicia. Die twee was op hul eerste afspraak en sou ’n Kerskonsert by die Hoërskool Hogan drie blokke van Jensen se huis af bywoon. Hulle het egter in plaas daarvan ’n vriend besoek, by ’n plaaslike restaurant geëet en toe na ’n gewilde stilhouplek vir paartjies gery. Minder as ’n uur later is hul lyke deur ’n plaaslike inwoner ontdek. Die Solano-sheriffkantoor kon geen leidrade kry nie.[7]
Volgens forensiese getuienis het ’n ander motor by hulle stilgehou. Die moordenaar het na hul motor gestap en die paartjie vermoedelik beveel om uit te klim. Toe Faraday halfpad uit die motor was, is hy doodgeskiet. Jensen is geskiet terwyl sy weggehardloop het. Daarna het die moordenaar weggery.[8]
Net voor middernag op 4 Julie 1969 het Darlene Ferrin en Michael Mageau ’n paar kilometer van daar af parkeer, in die Blue Rock Springs Park in Vallejo. Terwyl hulle in Ferrin se motor gesit het, het ’n ander motor langs hulle parkeer en feitlik dadelik weggery. Tien minute later was die motor terug en het dit agter hulle stilgehou. Die bestuurder het uitgeklim en na die passasierskant van Ferrin se motor gestap met ’n klein flitslig en ’n 9 mm-Luger. Hy het die lig in die paartjie se oë geskyn en hulle vyf keer geskiet. Verskeie skote het deur Mageau getrek en Ferrin getref. Die moordenaar het weggestap, maar toe hy Mageau hoor kreun, het hy teruggeloop en elkeen nog twee keer geskiet voodat hy weggery het.[9] Ferrin was dood met haar aankoms by die hospitaal. Mageau het oorleef, hoewel hy in die gesig, nek en bors geskiet is.[10]
Op 5 Julie 1969 het ’n man die Vallejo-polisie gebel en verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar, asook vir die moord op Jensen en Faraday ses en ’n half maande tevore. Die oproep is nagespeur na ’n telefoonhokkie net ’n paar blokke van die polisiekantoor af.[11]
Op 1 Augustus 1969 is drie briewe van die moordenaar ontvang deur die koerante Vallejo Times Herald, San Francisco Chronicle en San Francisco Examiner. In die drie byna identiese briewe het die skrywer verantwoordelikheid aanvaar vir die aanvalle in Benicia en Vallejo. Elk van die briewe het ook ’n derde van ’n geheime kode van 408 simbole bevat wat die moordenaar beweer het sy identiteit bevat. Hy het geëis dat die koerante dit op hul voorblad plaas, anders sou hy die hele naweek rondry en ’n dosyn mense doodmaak.[13]
Die Chronicle het sy derde van die kode op bl. 4 van die volgende dag se uitgawe geplaas. In ’n artikel daarby het die koerant Vallejo se polisiehoof aangehaal wat sê hulle is nie oortuig dit kom van die moordenaar af nie, en dat hy nog ’n brief met meer inligting moet stuur om sy identiteit te bewys.[14] Die moorde het nie plaasgevind nie en eindelik is al drie dele van die kode gepubliseer.
Nog ’n brief is op 7 Augustus 1969 deur die San Francisco Examiner ontvang waarin die moordenaar hom "die Sodiak" noem. Dit was in antwoord op die versoek dat hy nog inligting stuur. Daarin was besonderhede van die moorde wat nog nie bekend gemaak is nie, sowel as ’n boodskap aan die polisie dat as hulle die kode ontsyfer, hulle hom sou kon vang.[15]
Op 8 Augustus 1969 het Donald en Bettye Harden van Salinas, Kalifornië, die kode ontsyfer. Dit was ’n boodskap met spelfoute waarin die Sodiak beweer het hy maak slawe bymekaar vir die hiernamaals. Geen naam verskyn in die teks nie en die moordenaar het gesê hy sal nie sy naam bekend maak nie, want dit sal sy versameling van slawe belemmer.[12]
Op 27 September 1969 het die studente Bryan Hartnell en Cecelia Shepard piekniek gehou op ’n klein eiland in die Berryessa-meer wat met ’n strook sand aan die land verbind was. ’n Man met ’n laksman-tipe swart masker met donkerbrilglase aan die ooggate vasgemaak, het hulle genader. Hy het ’n soort borslap aangehad met ’n wit sirkel-en-kruissimbool daarop. Hy het beweer hy het uit ’n psigiatriese hospitaal ontsnap en het ’n motor en geld nodig gehad om na Mexiko te gaan. Hy het ’n wapen by hom gehad, asook stukke wasgoedlyn. Hy het Shepard beveel om Hartnell vas te maak voordat hy haar ook vasgemaak en Hartnell se toue stywer getrek het. Hartnell het aanvanklik gedink dis ’n vreemde rooftog, maar toe haal die man ’n mes uit en steek albei herhaaldelik. Hy het daarna teruggeloop na Hartnell se motor en die sirkel-en-kruissimbool op die kar getrek met ’n swart viltpen. Daaronder het hy geskryf: "Vallejo/12-20-68/7-4-69/Sept 27–69–6:30/by knife."[16][17]
Om 19:40 het die moordenaar die sheriffkantoor van ’n openbare telefoon af gebel en sy laaste misdaad aangemeld. Toe ’n radioverslaggewer minute later by die telefoon kom ’n paar blokke van die sheriffkantoor maar ver van die misdaadtoneel af, was die gehoorbuis nog van die mikkie af. Die polisie het ’n palmafdruk wat nog nat was, op die telefoon gekry, maar kon nooit bepaal aan wie dit behoort nie.[18] Toe die polisie op die misdaadtoneel kom, was Shepard nog by haar bewussyn en sy het die aanvaller in detail beskryf. Sy is twee dae later dood, maar Hartnell het oorleef en die gebeure vir die pers beskryf.[19][20]
Twee weke later, op 11 Oktober 1969, het ’n passasier Paul Stine se taxi in San Francisco gehaal en gevra om na Presidio Heights geneem te word. Naby hul bestemming het die man Stine in die kop geskiet, sy beursie en motorsleutels gevat en ’n stuk van Stine se bebloede hemp afgeskeur. Drie tieners het dit sien gebeur en die polisie gebel. Hulle het die moordenaar in die rigting van die Presidio, ’n blok van daar, sien loop.[21]
Twee blokke van die misdaadtoneel af het konstabel Don Fouke op die polisie-oproep gereageer. Hy het ’n wit man op die sypaadjie sien loop.[22] Daar is egter oor die radio gewaarsku die polisie moet uitkyk vir ’n swart verdagte, en Fouke het verbygery. Dis steeds onseker hoe dié fout ingesluip het. ’n Soektog is gelas, maar geen moontlike verdagtes is aangekeer nie. Die drie tieners het daarna ’n skets van die verdagte saam met die polisie saamgestel.
Op 14 Oktober 1969 het die Chronicle nog ’n brief van die Sodiak ontvang, dié keer met ’n deel van Paul Stine se bebloede hemp as bewys dat hy die moordenaar is. In die brief was ook ’n dreigement dat hy kinders op ’n skoolbus sou vermoor. Op 20 Oktober het iemand wat beweer het hy is Sodiak, die polisie in Oakland, Kalifornië, gebel en geëis dat twee bekende regsgeleerdes, F. Lee Bailey en Melvin Belli, op die televisieprogram A.M. San Francisco verskyn. Belli was op die program en die kykers is gevra om die telefoonlyne oop te hou. Eindelik het iemand gebel, beweer hy is die Sodiak en gesê sy naam is "Sam". Belli het ingestem om hom iewers te ontmoet, maar die verdagte het nie opgedaag nie.
Die Sodiak het op 8 November 1969 ’n kaartjie met nog ’n geheime kode gestuur wat uit 340 karakters bestaan het. Dit is nooit ontsyfer nie.[23]
Op 9 November het hy ’n brief van sewe bladsye gepos waarin hy beweer twee polisiemanne het met hom gepraat drie minute nadat hy Stine geskiet het.[24][25] Op 20 Desember, presies ’n jaar ná die moord op David Faraday en Betty Lou Jensen, het die Sodiak ’n brief aan Belli gepos wat nog ’n stuk van Stine se hemp bevat het. Hy het beweer hy wil hê Belli moet hom help.
Die volgende moorde is moontlik deur die Sodiakmoordenaar gepleeg, hoewel nie een bevestig is nie.
Nog ’n vermeende slagoffer het oorleef:
Op die aand van 22 Maart 1970 het Kathleen Johns van San Bernardino, Kalifornië, na Petaluma gery om haar ma te besoek. Sy was sewe maande swanger en het haar dogtertjie van 10 maande by haar gehad.[29] Op die snelweg naby Modesto het ’n motor agter hare sy toeter begin druk en sy ligte geflits. Sy het van die pad afgetrek. ’n Man het agter haar stilgehou en gesê haar regteragterwiel wikkel heen en weer. Hy het gesê hy sal die boute stywer vasmaak, en daarna het hy weggery. Toe Johns wegtrek, het die wiel egter feitlik dadelik van die motor afgeval. Die man het teruggery en aangebied om haar na die naaste vulstasie te neem.
Hy het ’n uur en ’n half met haar en haar dogter rondgery en geweier om by ’n vulstasie stil te hou. Eindelik het Johns by ’n kruising uit die motor gespring, weggehardloop en na ’n polisiekantoor geryloop.[28] Terwyl sy ’n verklaring afgelê het, het sy die Sodiak se polisieskets gesien en gesê dit is die man wat haar ontvoer het.[30] Toe die polisie by haar motor kom, was dit verniel en aan die brand gesteek.[30]
Die Sodiak het deur die res van 1970 met die polisie gekommunikeer deur middel van briewe en kaartjies aan die pers. In ’n brief van 20 April skryf hy: "My naam is _____," gevolg deur ’n kode van 13 karakters.[31] Daar was ook ’n skets van ’n bom wat hy glo sou gebruik om ’n skoolbus op te blaas. Onderaan het hy geskryf: " = 10, SFPD = 0."[31]
Op 28 April het hy ’n groetekaartjie na die Chronicle gestuur met die sirkel-en-kruissimbool onderaan geteken. Hy het geskryf hy sou binnekort ’n bus opblaas tensy die koerant alles publiseer wat hy skryf. Hy wou ook hê mense moes "mooi Sodiak-knopies" dra.[32]
In ’n brief van 26 Junie het hy geskryf hy is ontsteld omdat hy niemand sien wat Sodiak-knopies dra nie. Hy het bygevoeg: "Ek het ’n man in ’n geparkeerde motor met ’n .38 geskiet."[33] Hy het moontlik verwys na die skietdood van sers. Richard Radetich ’n week vantevore. Radetich het vir iemand ’n kaartjie uitgeskryf toe hy met ’n .38-pistool geskiet is. Hoewel die polisie ontken het dat die Sodiak by die moord betrokke was, is die saak nooit opgelos nie.[34]
In ’n brief van 24 Julie het die Sodiak verantwoordelikheid aanvaar vir die ontvoering van Kathleen Johns – vier maande ná die voorval.[35] ’n Brief van 26 Julie was onderteken met ’n groot sirkel-en-kruissimbool, asook " = 13, SFPD = 0."[36]
Op 27 Oktober het die verslaggewer Paul Avery van die Chronicle, wat oor die Sodiak-geval verslag gedoen het, ’n Halloween-kaartjie ontvang wat met die letter "Z" geteken was, asook die Sodiak-teken. Op die kaartjie is geskryf: "Peek-a-boo, you are doomed." Kort daarna het Avery ’n naamlose brief gekry waarin hy gewys is op die ooreenkomste tussen die Sodiak se bedrywighede en die onopgeloste moord op Cheri Jo Bates vier jaar vantevore in Riverside, Kalifornië, ’n paar honderd kilometer suid van San Francisco.[37]
Cheri Jo Bates, ’n student, het die aand van 30 Oktober 1966 in die biblioteek van haar kollege deurgebring. Sy is die volgende oggend naby die biblioteek dood aangetref. Sy is wreed geslaan en met ’n mes doodgesteek. ’n Man se Timex-horlosie met ’n stukkende bandjie is daarnaby ontdek.[38]
’n Maand later het die Riverside-polisie en die Riverside Press-Enterprise feitlik identiese briewe gekry met die titel "Die Bekentenis". Die skrywer het verantwoordelikheid aanvaar vir die Bates-moord en inligting genoem wat nie aan die publiek bekend gemaak is nie.[39] Ses maande ná die moord het Bates se pa, Joseph, die Press-Enterprise en die polisie feitlik identiese briewe gekry met die woorde: "Bates/Sy moes sterf daar sal nog wees". Dis onderteken met iets wat soos die letter "Z" lyk. Die verband tussen Cheri Jo Bates, Riverside en die Sodiak is steeds onseker.
Op ’n poskaart van 22 Maart 1971 aan die Chronicle, wat aan "Paul Averly" geadresseer was en vermoedelik van die Sodiak af kom, neem hy verantwoordelikheid vir die verdwyning op 6 September 1970 van Donna Lass.[27] Lass was ’n verpleegster van die Sahara Tahoe-hotel en -casino. Sy het tot tweeuur die oggend van 6 September gewerk. Haar werkgewer en die eienaar van haar woonstel het oproepe ontvang van ’n man wat valslik beweer het sy is uitstedig weens ’n familienoodgeval.[40] Lass is nooit gevind nie. Geen bewyse verbind haar verdwyning met die Sodiak nie.
In ’n berig van die Vallejo Times-Herald op 13 November 1972 het die sheriffkantoor van Santa Barbara voorgestel die moord op ’n jong paartjie in dié stad kon die werk van die Sodiakmoordenaar gewees het. Robert Domingos en sy verloofde, Linda Edwards, is op 4 Junie 1963 doodgeskiet op ’n strand naby Lompoc, Kalifornië. Die polisie glo iemand het hulle probeer vasbind, maar hulle het losgekom en gevlug; die moordenaar het hulle toe herhaaldelik in die rug en bors geskiet met ’n .22-wapen.
Nadat geen korrespondensie drie jaar lank van die Sodiak af ontvang is nie, het die Chronicle ’n brief ontvang wat op 29 Januarie 1974 gepos is en waarin die skrywer die rolprent The Exorcist prys as "die beste satiriese komedie wat ek nog gesien het". Dit het ’n ongewone, onbekende simbool onderaan gehad met ’n nuwe telling: "Ek = 37, SFPD = 0".[41]
Nog briewe is daarna deur onder meer die Chronicle ontvang, maar daar is twyfel of die Sodiak hulle geskryf het.
In Robert Graysmith se boek Zodiac word Arthur Leigh Allen, wat in 1992 dood is, 'n moontlike verdagte genoem, gebaseer op omstandigheidsgetuienis. Allen is van die vroeë dae van die ondersoek na die Sodiakmoorde al deur die polisie ondervra en is oor 'n tydperk van 20 jaar aan verskeie lasbriewe onderwerp. In 2007 het Graysmith genoem verskeie speurders beskou Allen as die waarskynlikste verdagte.[42] In 2010 het die polisieman Dave Toschi verklaar alle getuienis teen Allen "was op die ou end negatief".[43]
Toschi se dogter het in 2018 gesê haar pa het altyd gedink Allen is die moordenaar, maar hulle het nie die bewyse gehad nie. Mark Ruffalo, wat die rol van Toschi vertolk het in die 2007-rolprent Zodiac, het gesê: "As jy weet hoe dié polisiemanne was, besef jy hulle moet van hulle eie vermoedens en persoonlike menings vergeet. Dave Toschi het vir my gesê: 'Die oomblik toe daardie man by die deur instap, het ek geweet dit is hy.' Hy het egter geen bewyse gehad nie en moes dus ander leidrade bly opvolg."[44]
Op 6 Oktober 1969 is Allen deur speurder John Lynch van die Vallejo-polisiekantoor ondervra. Daar is aangemeld dat Allen in die omgewing van die Berryessa-meer was met die aanval op Hartnell en Shepard op 27 September 1969; volgens hom het hy op die dae van die aanvalle geskubaduik.[45] Allen het weer in 1971 onder die polisie se aandag gekom toe sy vriend Donald Cheney aan die polisie in Manhattan Beach, Kalifornië, gesê het Allen het gepraat van sy begeerte om mense te vermoor, dat hy die naam Sodiak gebruik en 'n flitslig vir 'n vuurwapen aangeskaf het sodat hy in die nag kan sien om te skiet. Volgens Cheney het sy gesprek met Allen nie later as 1 Januarie 1969 plaasgevind nie.[46]
Jack Mulanax van die Vallejo-polisiekantoor het daarna geskryf Allen is in 1958 oneervol uit die Amerikaanse vloot ontslaan en dat hy in Maart 1968 uit sy werk as laerskoolonderwyser ontslaan is ná bewerings van seksuele wangedrag met skoliere. Die mense wat hom geken het, het van hom gehou, maar daar is ook genoem "dat hy op kinders fikseer en kwaad vir vroue is".
In September 1972 het San Francisco se polisie 'n lasbrief gekry om Allen se huis te deursoek.[47] In 1974 is Allen in hegtenis geneem vir seksuele aanranding op 'n 12-jarige seun;[48] hy het skuld beken en twee jaar gevangenisstraf uitgedien.
Die Vallejo-polisie het in Februarie 1991 weer 'n lasbrief gekry om Allen se huis te deursoek.[49] Twee dae ná Allen se dood in 1992 het hulle nog 'n lasbrief gekry en beslag op van sy besittings gelê.[50] In Julie 1992 het die slagoffer Mike Mageau vir Allen van foto's af uitgeken as die man wat hom in 1969 geskiet het.[51][52] Die polisieman Donald Fouke, wat die Sodiak vermoedelik gesien het toe hy van die Stine-moord gevlug het, het egter in die dokumentêr van 2007 His Name Was Arthur Leigh Allen gesê Allen was sowat 45 kg swaarder as die man wat hy gesien het en dat sy gesig "te rond" was.
Ander getuienis teen Allen bestaan ook, al is dit omstandigheidsgetuienis. 'n Brief wat deur Bates se moordenaar aan die Riverside-polisiekantoor gestuur is, was getik op 'n Royal-tikmasjien met 'n Elite-lettertipe, waarvan dieselfde soort in Februarie 1991 in Allen se huis gevind is toe dit deursoek is. Hy het 'n Zodiak-polshorlosie besit en gedra. Het het in Vallejo gewoon en minute weg gewerk van waar een van die Sodiak se slagoffers (Ferrin) gewoon en waar een van die moorde plaasgevind het.[53]
In 2002 het die San Francisco-polisie 'n gedeeltelike DNS-profiel gekry van die spoeg op seëls en koeverte van Sodiakbriewe. Hulle het dié gedeeltelike DNS met die DNS van Arthur Leigh Allen vergelyk,[54][55] asook met dié van Don Cheney, Allen se eertydse goeie vriend en die eerste persoon wat voorgestel het Allen kan die Sodiakmoordenaar wees. Die toetse het niks opgelewer nie.[56]
Lloyd Cunningham, 'n afgetrede handskrifkenner van die polisie wat dekades lank aan die Sodiaksaak gewerk het, het gesê hy het bokse vol voorbeelde van Allen se handskrif gekry, "en nie een het naastenby soos die Sodiak se handskrif gelyk nie".[57]
In Oktober 2021 het die Case Breakers, 'n span van meer as 40 ondersoekers wat bestaan uit voormalige polisiemanne, militêre-intelligensie-offisiere en joernaliste, beweer hulle het die Sodiakmoordenaar geëien as Gary Francis Poste, wat in 2018 op 80-jarige ouderdom dood is. Die span het beweer hulle het forensiese bewyse en foto's uit Poste se donkerkamer gekry en gesien letsets aan Poste se voorkop stem ooreen met dié wat volgens hulle aan die moordenaar se gesig voorgekom het. Hulle het ook beweer die verwydering van die letters van Poste se naam van een van die Sodiak se kriptogramme, het 'n alternatiewe boodskap onthul.[58] Die FBI het daarna verklaar die saak bly steeds oop en dat daar geen inligting is om te verklaar nie, terwyl plaaslike polisiemanne gesê het hulle is skepties oor die span se bevindings.[59] Die Riverside-polisieman Ryan Railsback het gesê die Case Breakers se bewerings berus grootliks op omstandigheidsgetuienis[6][60] en die skrywer Tom Voigt, 'n ondersoeker van die Sodiaksaak, het gesê die bewerings is onsin. Volgens Voigt het nie een getuie in die saak gesê die Sodiak het littekens aan sy voorkop gehad nie.[61]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.