From Wikipedia, the free encyclopedia
Zlín ([zliːn], Duits: Zlin) is 'n Tsjeggiese stad in die suidooste van Morawië, geleë aan die Dřevnice-rivier. Die ontwikkeling van die moderne stad is nou verbonde aan die Bata-skoenfabriek wat in die laaste dekade van die 19de eeu hier deur Tomáš Baťa (1876–1932), 'n boorling van Zlín, gevestig is en, volgens sy beleid van korporatiewe sosiale verantwoordelikheid, ná die Eerste Wêreldoorlog moderne behuising en ander geriewe soos sportfasiliteite en vermaaklikheidsgeriewe aan sy personeel verskaf het - as deel van 'n "totale omgewing".
Kaart | Vlag |
Wapen | |
Land | Tsjeggië |
Streek | Zlinský kraj |
Distrik | Okres Zlín |
Koördinate | 49°13′37″N 17°40′08″O |
Stigting (eerste verwysing) | 1322 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 102,83 vk km |
Hoogte bo seevlak | 230 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2015) | 75 112 |
- Bevolkingsdigtheid | 730/km² |
Tydsone | UTC+01:00 |
Burgemeester | Miroslav Adamek |
Die onderneming het moderne vervaardigingsprosesse ingevoer wat deur Henry Ford se motoraanlegte geïnspireer is en tot 'n wêreldleier in die skoenbedryf gegroei. Bata het ook in Suid-Afrika bekendheid verwerf met sy skoene vir skoolkinders, die befaamde Toughees wat in 1954 as handelsmerk ingevoer is.[1] Bata se hoofkwartier, die wolkekrabber "Bata gebou nr. 21", was in sy ontstaanstyd die hoogste gebou in Europa.
Met die kommunistiese magsoorname in Tsjeggo-Slowakye in 1948 is Bata se plaaslike aanlegte en bates genasionaliseer, terwyl die onderneming in westerse lande voortbestaan het as 'n privaatmaatskappy in familiebesit. Ná 'n kort herlewing in die post-kommunistiese markekonomie is die laaste skoenfabrieke, wat lankal nie meer met mededingers op die wêreldmark tred kon hou nie, in die 1990's gesluit. Zlín is tussen 1949 en 1990 hernoem as Gottwaldov, ter ere van die kommunistiese politikus Klement Gottwald.
Naas sy funksionalistiese 20ste eeuse boukuns en skoenvervaardiging staan Zlín bekend as filmstad. Meer as 2000 rolprente het hier ontstaan, waaronder rolprente vir kinders en klassieke Tsjeggiese tekenrolprente. Een van die grootste en belangrikste filmfeeste ter wêreld, wat aan kinderrolprente gewy is, word in Zlín gehou.[2] 'n Universiteit, wat na die entrepreneur Tomáš Baťa genoem is, het sy deure in 2001 geopen.
In die nuwe nywerheidsone oos van Zlín, wat in 2001 gevestig is, het - naas fabrieke wat voedsel verwerk - aanlegte van Tsjeggiese en buitelandse ondernemings ontstaan wat huishoudelike toestelle, motoronderdele, plastiekprodukte en metaalverwerkingsmasjiene ontwikkel en vervaardig.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.