From Wikipedia, the free encyclopedia
Winchester is 'n historiese katedraalstad en die hoofstad van die Suid-Engelse graafskap Hampshire met 'n bevolking van 45 184. Die stad is aan die oewer van die Itchen-rivier en teen die westelike rand van die South Downs, 'n reeks van lae krytheuwels, geleë. Administratief behoort Winchester aan die groter City of Winchester, 'n distrik met 'n bevolking van 116 000.
Winchester het sy oorsprong in 'n Ystertydse oppidum. In die Romeinse tydperk het die nedersetting as Venta Belgarum bekendgestaan en tot 'n florerende nedersetting ontwikkel. Ná die onttrekking van Romeinse troepe was die stad eeue lank aan verval blootgestel. Koning Alfred die Grote van Engeland (omstreeks 849-899) het met die heropbou van Winchester begin en dit tot hoofstad van sy koninkryk verhef. Die heerser lê ook hier begrawe. Die middeleeuse straatrooster in Winchester se historiese middestad dateer nog uit die Angel-Saksiese tyd.[1]
Vandag staan Winchester veral bekend vir sy middeleeuse boukuns, die plaaslike universiteit en Winchester College, 'n befaamde privaat skool. Winchester se katedraal, een van die grootstes in Europa, is die belangrikste besienswaardigheid. Sy kerkskip is die langste van alle Gotiese katedrale, en ook sy totale lengte is ongeëwenaar.
Die eerste katedraal is in 648 gebou. Tussen 852 en 862 was Swithun biskop van Winchester; hy het sy laaste rusplek buite die katedraal gevind. Met die bou van die huidige katedraal is in 1073 begin, die boutyd was sestien jaar. Bekende persoonlikhede, wat hier begrawe lê, sluit Willem II van Engeland en die skryfster Jane Austen in.[2]
Besienswaardighede in Winchester | |||||||||
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.