Suid-Afrikaanse skrywer From Wikipedia, the free encyclopedia
Willem (Petrus) van der Berg (1916–1952) was ’n Suid-Afrikaanse skrywer. Deur die loop van sy loopbaan publiseer hy verskeie romans en kortverhale.
Willem van der Berg | |
Willem van der Berg (1916–'52). | |
Geboortenaam | Willem Petrus van der Berg |
---|---|
Geboorte | 11 April 1916 Fauresmith |
Sterfte | 19 Junie 1952 Johannesburg |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep | Skrywer |
Huweliksmaat | Suzanne van Wijk |
Kind(ers) | 2 |
Willem Petrus van der Berg is op 11 April 1916 in die distrik Fauresmith in die Vrystaat gebore. Die eerste paar maande van sy lewe bly hy in Johannesburg, waar sy vader hom ontval terwyl hy slegs tien maande oud is. Sy moeder, Johanna van der Berg, verhuis hierna met hom en sy ouer broer, John van der Berg, wat self 'n bekende skrywer is, na Edenburg in die Vrystaat. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Edenburg en studeer dan vanaf 1933 aan die Grey-universiteitskollege in Bloemfontein, waar hy die B.A.-graad verwerf. Aan die Universiteit van Kaapstad behaal hy daarna die M.A.-graad in Filosofie.[1]
Vanaf 1937 is hy verbonde aan die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) as omroeper-regisseur, eers in Kaapstad en later in Durban. In 1938 word hy na Kaapstad verplaas en daarna is hy na Johannesburg waar hy diens doen aan die hoofkantoor van die SAUK.[2] Willem is die eerste omroeper wat in Afrikaans verslag doen oor rugbywedstryde.[3] Hy het ook in Engels kommentaar gelewer wanneer daar nie 'n Engelse omroeper beskikbaar was nie. In 1947 word hy hoof van die Afrikaanse radioprogramme, maar lê hierdie betrekking in 1950 neer om 'n lektoraat aan die Universiteit van die Witwatersrand te aanvaar en sy aandag aan studie en skryfwerk te wy.[4]
Hy is getroud met Suzanne van Wijk, wat self bekendheid verwerf as aktrise en later as omroeper by die SAUK vir haar redigering van veral radiodramas.[5] Die egpaar het twee kinders.[6] Hy is op 19 Junie 1952 in Johannesburg oorlede ná 'n lang siekte.
Reeds as skoolseun begin hy om kortverhale te skryf en hy verower op die Vrystaatse kunswedstryd pryse in hierdie afdeling.[7] As student publiseer hy ook gereeld in die studenteblad waarvan hy die redakteur was. Nadat hy by die SAUK aansluit begin hy om radiodramas en sketse te skryf en konsentreer dan vir 'n aantal jare slegs hierop.
Hy debuteer egter met 'n roman, Reisigers na nêrens. Dit is een van die eerste stadsromans in Afrikaans, waar 'n aantal jong intellektuele Afrikaners in Kaapstad uitgebeeld word. Die karakters maak hulleself doelbewus los van tradisie en geloof en voer 'n doellose bestaan, vasgevang in hulle eie slimheid en ontkenning van betekenis. Hulle bring hulle tyd deur in partytjies en byeenkomste waar hulle eindeloos filosofeer oor alles en nog wat, terwyl hulle wel deeglik besef dat hulle op hierdie wyse doelloos aan’t ronddobber is, duidelik reisigers na nêrens nie.Die roman bring indertyd iets nuuts in Afrikaans deur sy keuse van karakters, tema en milieu en die gebruik van die sogenaamde simultane-tegniek, waar gelyktydige, oënskynlik onbelangrike en onverwante gebeurtenisse tog eindelik inmekaargevleg word. Die boek maak veral opslae met sy verskyning omdat dit vermoedelik gebaseer is op 'n werklike groep Afrikaanse intellektuele, wat volgens J.C. Steyn in sy biografie van N. P. van Wyk Louw die groep insluit waaraan Louw in die dertigerjare behoort het. Kritiek word egter uitgespreek teen die eenselwigheid van die karakters soos dit uitgebeeld word, sodat hulle nie werklik mense word met eie persoonlikhede en eienaardighede nie en eerder verteenwoordigend is van 'n eenderse denkrigting.
Die roman Tema en variasies is soortgelyk van aard maar hegter van bou, met maatskaplike problematiek wat bygewerk word om meer substansie te bied, en in die episodes 'n ontginning van variasies op die neergelegde patroon. Die onwaarskynlike afloop doen egter afbreuk aan die gehalte daarvan.
Die spanningsroman Ruwe ontwaking en die novelle Groen oewers bring nie kwalitatiewe vooruitgang in sy werk teweeg nie.
Van sy beste werk is te vinde in die bundels korter werk 'n Profeet in die Boland, Asvaal ou Karoo en ander essays en Solitêrspel by kerslig.
Drie novelles word in 'n Profeet in die Boland saamgebundel, naamlik Lewensdrang, 'n Profeet in die Boland en In die reën. Die titel stuk (apart gepubliseer in 1961[8]) ontroer deur sy tekening van 'n waardige ou boerefiguur wat tydens die Anglo-Boereoorlog gevange gehou word.[9] In die essay bundel Die asvaal ou Karoo is veral treffend die essays waar 'n kind se primitiewe kyk op dinge uitgebeeld word. Elize Botha neem die titel stuk op in Afrikaanse essayiste. Sewentien van sy kortverhale word gebundel in Solitêrspel by kerslig, die titelverhaal wat vertel[10] van 'n ontnugterde man wat die vrede van die dood begeer, maar by die koms van die daeraad met sy skoonheid en belofte van 'n nuwe begin tog besluit om eerder te lewe. Ook Mit lege hande, Geluk, Plaasvendusie en Die eerste loesing is hoogtepunte. Die verhale weerspieël 'n juiste sielkundige ontwikkeling en is deurspek met humor.[11]
Sy kortverhale en essays word in verskeie weekblaaie gepubliseer en in verskeie versamel bundels opgeneem, insluitende Borde borde boordevol onder redaksie van Hennie Aucamp, Soort soek soort onder redaksie van Johann de Lange, Flitse van die Afrikaanse Pers-Boekhandel,[12] P.J. van der Watt se Die slagter van Samaria[13] en P.J. Nienaber se Uit ons letterkunde.
Werke wat uit sy pen verskyn sluit in:[14]
1946 - Reisigers na nêrens
1947 - Tema en variasies
1948 - ‘n Profeet in die Boland
1949
1950 - Groen oewers
1951 - Die asvaal ou Karoo en ander essays
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.