Die Voortrekkers het tydens die Groot Trek vanaf 1835 uit die Kaapkolonie na die binneland van suidelike Afrika getrek. Meeste trekkers het met hulle hele gesin en al hulle besittings, vee en werkers ingesluit, met ossewaens getrek.

Hierdie artikel handel oor die deelnemers aan die Groot Trek. Vir ander gebruike, sien Voortrekkers (dubbelsinnig).
Thumb
Illustrasie van Voortrekkers
Thumb
Die Voortrekkervlag
Thumb
Die Voortrekkerleier Andries Pretorius.
Thumb
Die Bloukrans-monument ter herdenking van die Boere wat op 17 Februarie 1838 hul lewens op Moordspruit verloor het
Thumb
Afskrif van die verdrag tussen Piet Retief en Dingane wat gelei het tot die stigting van die Republiek Natalia

Twee strome trekkers

Twee strome Afrikanertrekkers het die Kaapkolonie in die tweede kwart van die 19de eeu verlaat. Die eerste was die mense wat trekboere genoem is. Hulle het as individuele gesinne oor die grens getrek op soek na beter weiveld; die tweede stroom het saam in groepe vertrek en het politieke kwessies vir hul trek aangevoer. Hulle is later Voortrekkers genoem, en hul trek uit die kolonie die Groot Trek.

Hul trek was 'n dapper en dramatiese reaksie op 'n politieke krisis in die oostelike en noordoostelike distrikte van die Kaapkolonie van die middel 1820’s tot die einde van die 1830’s. Dit was 'n betreklik ordelike massa-rebellie teen die verbrokkeling van veiligheid en 'n situasie wat die trekkers as onhoudbaar beskou het. Teen 1845 het sowat 2 300 gesinne of 15 000 wit mense saam met sowat 5 000 knegte vertrek.

Wit veeboere as voorgangers van die Voortrekkers

Wit veeboere uit die Kaapkolonie het nog voor 1700 begin om stadigaan noord- en later ooswaarts die binneland in te beweeg op soek na beter weiveld vir hul kuddes. Nadat die veeboere teen omstreeks 1780 deur die Groot-Visrivier en die Bantoesprekende gemeenskappe gestuit is, het die migrasiestroom na die noorde geswaai. Een kenmerk van hierdie uitbreidingsproses was dat die Kaapse regering voordurend en stelselmatig die grens moes verskuif om die wit bevolking binne sy grense te hou.

Die trekboere het hierdeur 'n mobiliteit ontwikkel. Op die trekpad was hul waens hul woning en skuiling teen wind en weer, asook 'n toevlug teen vyandige aanvalle. Omdat hul seisoenale migrasie hoofsaaklik ekonomies gemotiveerd was, wou hulle aanvanklik nie permanent in die Transoranje gaan woon nie en het deurgaans gestreef om bande met die Kaapkolonie te behou. Mense sonder vaste eiendom was onder die eerste gesinne om afskeid van die kolonie te neem en hulle permanent in die Transoranje te vestig. Talle ander trekboere met grond in die kolonie het egter ook in die 1830’s begin om die Transoranje hul permanente tuiste te maak, hoewel hulle nie hul burgerskap graag wou prysgee nie.

Teen 1834 was daar ongeveer 1 000 wit trekboerfamilies in die Transoranje. Sommige van hulle kon nog seisoentrekkers wees, maar 'n groot persentasie was reeds permanent daar gevestig. 'n Jaar of twee later was sommige van die boere in die Transoranje reeds só sterk anti-Britsgesind dat hulle by die verbytrekkende Voortrekkers aangesluit het.

Die invloed van die Mfecane

As gevolg van die Mfecane was gedeeltes van die Transoranje en noord van die Vaalrivier redelik onbewoon. Die Mfecane kan kortliks beskryf word as die transformasieproses onder swart gemeenskappe tussen omstreeks 1750 en 1835 – 'n reeks uitkringende vlae van geweld waartydens een gemeenskap 'n naburige groep aanval, onderwerp en/of laat vlug. Die vlugtendes is uit hul tradisionele woongebiede verjaag en moes om te oorleef ander gemeenskappe aanval. Op hierdie wyse het 'n ketting van botsings en stropery plaasgevind wat uiteindelik tot die verskuiwing van woonplekke, die vorming van nuwe gemeenskappe en die ontstaan van nuwe magsblokke gelei het.

Reisigers se verslae, en veral Erasmus Smit se dagboek, skets die verwoesting wat daar plaasgevind het. Die intrekkende trekboere en daaropvolgende Voortrekkers se vestiging in baie gebiede het dus sonder enige noemenswaardige teenstand plaasgevind in gebiede wat die voorafgaande paar eeue die woonplek was van swart groepe wat nou in die berge en klowe skuiling gesoek het. Vanuit die swart groepe se standpunt het hulle egter nooit dié gebiede permanent prysgegee nie.

Verskillende motiverings

Die trekboerkultuur van die Afrikaner in die 18de en vroeë 19de eeu, naamlik die gewoonte om sy besittings herhaaldelik op 'n ossewa te laai, sy vee te laat aanjaag, op sy perd te klim en na beter weiveld te soek, was ook kenmerkend van die latere Voortrekkers. Maar die Groot Trek was nie bloot 'n versnelde voortsetting van die trekboerbeweging nie – die motivering het heeltemal verskil. Een van die verskille was ingrypend van aard: Omdat die Voortrekkers sonder toestemming van die regering die landsgrense in groot geselskappe oorgesteek het, getrek het om nooit weer terug te keer nie en 'n selfstandige republiek onafhanklik van die Britse regering opgerig het, was hulle inderdaad deel van 'n rebellie, hoewel vreedsaam van aard.

In die meeste gevalle was dit 'n kombinasie van griewe wat die Afrikanerboere laat besluit het om te trek. In die vyftien jaar voor die aanvang van die Groot Trek het die Afrikaneroorgrensboere 'n reeks ervarings gehad wat hulle al hoe meer oortuig het dat hulle op ekonomiese gebied nie langer ʼn bestaan in die Kaapkolonie kon maak nie. Insgelyks is hulle blootgestel aan politieke en sosiale veranderinge wat hul status en veiligheid bedreig en hul vryheid beperk het. Al die faktore het gekulmineer in 'n gevoel van vervreemding jeens die Britse regering, en daar het ʼn negatiewe ingesteldheid onder die Afrikaners ontwikkel wat die trekgedagte na die enigste uitweg laat lyk het.

Die Sesde Oosgrensoorlog van 1835 het, benewens die erge verliese wat die grensboere gely het, tot verdere verbittering teenoor die regering gelei. Tydens die oorlog was daar verskeie voorvalle tussen lede van die Afrikanerburgermag en die Britse staandemagtroepe wat daarop gedui het dat die Afrikaners glad nie tevrede was met die hoogmoedige en arrogante houding van die Britse soldate teenoor hulle nie.

Verkenning, migrasie en staatsvorming

Die Afrikanerboere het reeds tussen 1830 en 1834 verkenningstogte na die binneland onderneem. Die besoek aan Natal tussen September 1834 en Maart 1835, met die verkenner Hans Dons de Lange as gids, het positiewe terugvoer oor die boerderymoontlikhede opgelewer.

Verskeie Voortrekkergroepe het op verskillende tye van verskillende plekke af vertrek. Elke groep het onder die leiding van 'n vooraanstaande plaaslike persoonlikheid gestaan, bv. Hendrik Potgieter van die Tarka, Gerrit Maritz van Graaff-Reinet en Piet Uys van Uitenhage. Die meeste trekkergroepe was meer as honderd sterk. Weens die aard van die mobilisering was persoonlikheidsbotsings feitlik onvermydelik, en die Voortrekkers het gesukkel om oor 'n gemeenskaplike strategie en regering saam te stem.

Nadat Brittanje die onafhanklikheid van die Voortrekkergemeenskap noord van die Vaalrivier en dié noord van die Garieprivier in onderskeidelik 1852 en 1854 erken het, moes hierdie erg verdeelde gemeenskappe die ingewikkelde taak van staatsvorming aanpak. In die Transgariepgebied het die relatief maklik gegaan en is die Republiek van die Oranje-Vrystaat in 1854 in die lewe geroep, met Bloemfontein as hoofstad met sy 15 000 inwonende Afrikaners. Die gemeenskappe in Transvaal kon egter eers in 1857 daarin slaag om die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) te stig. Hoewel die presiese samestelling en bevoegdhede van dié twee republieke se hoë rade en fuksionarisse van mekaar verskil het, is sowel die lede van die rade as die presidente op 'n demokratiese wyse deur die manlike burgers verkies. Die Voortrekkers het dus die republikeinse staatsvorm in die binneland gevestig.

Voortrekkerleiers

Van die vernaamste leiers was Piet Retief, Gerrit Maritz, Andries Pretorius, Louis Tregardt, Hendrik Potgieter, Sarel Cilliers en Piet Uys.

Die Voortrekkerleiers word gelys volgens die grootte van hul trekgroepe {aantal families in krulhakkies}.[1]

  • Hendrik Potgieter (19 Des 1792- 16 Des 1852), (sy party het vir Sarel Cilliers ingesluit), {158},
  • Sarel Cilliers (7 Sep 1801 – 4 Okt 1871),
  • Piet Retief (12 Nov 1780 – 6 Feb 1838), {139},
  • Jan du Plessis, (sy party het vir Jacobus Christoffel Potgieter ingesluit), {116},
  • Jacobus Christoffel Potgieter,
  • Pieter Daniël Jacobs, {85},
  • Petrus Lafras Uys (Piet) (1797 – 11 Apr 1838), {79},
  • Johannes Stephanus Maritz, {68},
  • Gerhardus Marthinus Maritz (Gerrit / Gert) (1 Mar 1797 – 23 Sep 1838), {57},
  • Karel Landman, {54},
  • Jacob De Klerk, Jr., {52},
  • Philippus Albertus Opperman, Sr., {41},
  • Andries Pretorius (27 Nov 1798 – 23 Jul 1853), {38},
  • Gerrit Reynier van Rooyen, {29},
  • Gerhardus Jacobus Rudolph, {26},
  • Louis Jacobus Nel, {26},
  • Lucas Johannes Meyer, {24},
  • Joachim Christoffel Espag of Esbach, {23},
  • Johan Hendrik de Lange, {15},
  • Hercules Philip Malan, {13},
  • Louis Tregardt (10 Aug 1783 – 25 Okt 1838), {13},
  • Stephanus Petrus Erasmus, {9},
  • Johannes Jacobus (Lang Hans) Janse van Rensburg (12 Aug 1779 – Jul 1836), {7},
  • Arie Zacharias Visagie, {6},
  • David Stephanus Fourie, {6},
  • Jan Matthys de Beer, {6},
  • Hermanus Stephanus Lombard, {2},
  • Johannes Jacobus Erasmus, {1}.

Voortrekkergeskrifte

Piet Retief was die opsteller van die Voortrekkers se manifes wat ondermeer in die Grahamstown Journal van 2 Februarie 1837 verskyn het, en 'n rotswand-inskripsie deur sy dogter is nog by Kerkenberg te sien. Persone wat dagboeke of joernale bygehou het was Louis Tregardt, Jan Bantjes (rakende die Wenkommando), eerwaarde Erasmus Smit, Sarel Cilliers, en 'n voortrekkervrou, Anna Elizabeth Steenkamp (1797–1891). Haar dagboek begin met hul vertrek op 5 Mei 1837 van die plaas Kareelaagte, maar is nie daagliks bygehou nie. Sy moes tewens weens hul gebrek aan arbeiders self met die vee werk, en die waens dryf. Andries Pretorius het 'n verslag rakende die Slag van Bloedrivier opgestel, en Christiaan Jacobus Hattingh (1795–ná 1876), oorspronklik van Graaff-Reinet, het kort na die slag 'n gedig daaroor neergepen. Ferdinand van Gass (1824–1882/3) was 'n tiener tydens die trek wat na afloop daarvan sy herinneringe op skrif gestel het. Dié is deur Gustav Preller gepubliseer. Evert Frederik Potgieter (1799–1863), 'n Voortrekker uit die Uitenhage-distrik, het die Retief-Dingaan Traktaat gesertifiseer. J.B. Rudolph (1794–1875) was van die begin van die trek betrokke by administrasie.

Bronne

  • (en) William Taylor, Gerald Hinde and David Holt-Biddle, The Waterberg, Struik Publishers, Cape Town, South Africa (2003) ISBN 1-86872-822-6
  • (en) Lumina Tech, C.Michael Hogan, Mark L. Cooke and Helen Murray, The Waterberg Biosphere, Lumina Technologies, May 22, 2006. Geargiveer 24 Maart 2007 op Wayback Machine
  • Giliomee, H. & Mbenga, B. 2007. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg
  • Grobler, J. 2012. “Staatsvorming en stryd, 1850-1900”. In Geskiedenis van Suid-Afrika. Pretorius, F (red.). Kaapstad: Tafelberg
  • Groot Trek Herdenkingsfees. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis en Kultuur. Jaargang 37, nr. 4, Oktober 1988
  • Visagie, J. 2012. “Migrasie en die gemeenskappe noord van die Oranjerivier”. In Geskiedenis van Suid-Afrika. Pretorius, F (red.). Kaapstad: Tafelberg
  • Visagie, J. 2012. “Oorsake van die Groot Trek na die binneland”. In Geskiedenis van Suid-Afrika. Pretorius, F (red.). Kaapstad: Tafelberg
  • Visagie, J. 2012. “Uittog en vestiging van die Voortrekkers in die binneland”. In Geskiedenis van Suid-Afrika. Pretorius, F (red.). Kaapstad: Tafelberg

Eksterne skakels

Wikiwand in your browser!

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.

Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.

Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.