Horrelhans van Waenhuiskrans (J.F. Spies):
In die grot van Waenhuiskrans
woon die spook, ou Horrelhans.
Vroeër het hy rondgedwaal,
rookgoed op die strand kom haal.
Soe! Die ou kon vreeslik stook -
hy het glad geskryf met rook:
Bangmaakstories teen die lug
om die kinders te laat vlug.
Nooit het hy gepraat, die spook.
Mense sê hy sprak geen sprook!
Niemand wóú ook met hom praat,
liewer hom met rus gelaat.
Maar tabak moes almal bring
- daarop het hy aangedring -
sodat hy kon rook en skryf
vir plesier en tydverdryf.
Laatnag het ou Horrelhans
hinke-pink teruggedans
en weer in die grot gebly
tot die eerste laaggety.
Dan was alles weer van voor
op 'n haar nét so oor!
Kinders het gebeef van vrees
as hul horrelstories lees.
Ma's en pa's was sonder raad:
iemand moes met Horrel praat,
hom tog vra om weg te bly,
op te hou met spokery.
Toe verskyn Johan de Kock
sê hy sal die spook gaan skok,
dan met hom die saak bespreek
en hom in die pad gaan steek.
In die maanlig daardie nag,
wyl die dorp in spanning wag,
is ou Horrel voorgelê:
"Hallo!" het Johan gesê.
Toe hy hom die hand wou reik,
het die ou teruggewyk,
want 'n mens wat práát en gróét,
breek die kwaaiste spook se moed!
"Tatta!" het hy hees gesê,
rookgoed op die strand laat lê,
ylings in die grot verdwyn,
toe nooit weer op land verskyn.
Niks was daar meer om te vrees -
Waenhuiskransers vier toe fees.
Jaap de Wet het vleis gebraai
tot die eerste hanekraai!
(Uit: Goue fluit my storie is uit (Tafelberg)).