sagte weefsel wat in die meeste diere voorkom From Wikipedia, the free encyclopedia
’n Spier is sagte weefsel wat in die meeste diere voorkom. Spierselle bevat filamente wat by mekaar kan verbybeweeg, en dit veroorsaak ’n samestrekking wat die vorm en lengte van die selle kan verander. Spiere word as skelet-, hart- en gladde spiere geklassifiseer. Dit word gebruik om krag uit te oefen en te beweeg – hoofsaaklik om ’n mens se liggaamshouding te verander, diere te laat voortbeweeg en inwendige organe te laat werk, soos die sametrekking van die hart en die beweging van kos deur die spysverteringstelsel.
Bewustelike sametrekking van die skeletspiere word gebruik om die liggaam te laat beweeg en kan baie fyn beheer word. Voorbeelde is die beweging van die oog of groter bewegings soos van die dyspiere.
Daar is twee hoofsoorte spiervesels wat bewustelik beheer kan word: die vinnig en die stadig saamtrekkende vesels. Stadig saamtrekkende spiervesels kan vir lang tye saamtrek maar het min krag, terwyl vinnig saamtrekkende vesels vinnige, kragtige sametrekkings veroorsaak. Laasgenoemde raak egter gou vermoeid.
Die eenvoudigste tipe spierweefsel is saamgestel uit mio-epiteelselle, wat tussen die gewone epiteelselle lê en by hul basis in 'n spiervesel oorgaan. Sulke primitiewe spierselle word by onder andere die holtediere (phylum Coelenterata) aangetref. By soogdiere (klas Mammalia) kom hierdie seltipe slegs nog in die melk en sweetkliere voor.
Ware spierselle is verlengde selle waarvan die Iengte-as met die rigting van die kontraksie saamval. 'n Groot aantal spiervesels word saam gegroepeer in 'n spier. Afgesien van voortbeweging, gryp en klou, ensovoorts, versorg die spiere ook die inwendige bewegings soos die hartslag, dermperistalse en sametrekking van die baarmoeder en die diafragma (middelrif). Op grond van die verskille in die mikroskopiese bou en wyse van funksionering word daar tussen dwarsgestreepte en gladde spier onderskei.
Dwarsgestreepte spiere kom by omtrent alle diergroepe voor. Dit bestaan uit talryke (tot enkele duisende) verlengde, silindriese spiervesels. Elke spiervesel is omring deur ʼn membraan die sarkolemma, en kan beskou word as 'n saamgestelde, veelkernige eenheid (sinsitium, netwerk) van jong spierselle (mioblaste). In die selplasma (sarkoplasma) van die spiervesels lê baie miofibrille, dit is spierfibrille wat in die lengte gerangskik en uit 'n groot aantal filamente saamgestel is.
Die groot aantal mitochondria in die sarkoplasma bevat ensieme wat vir die vrylating van energie nodig is. In die bindweefselskede rondom die afsonderlike spiervesels, die spierveselbundels en ook rondom die hele spier loop vertakte bloedvate wat voedingstowwe na die spierselle vervoer. Die bindweefselomhulsels om die spiervesels en spierveselbundels verleen nie net stewigheid aan die spier nie, maar verskaf ook 'n sekere mate van selfstandigheid aan die verskillende spiervesels.
Die miofibrille van dwarsgestreepte spierweefsel is opgebou uit twee tipes filamente, wat sowel chemies as ten opsigte van afmetings verskil. Met behulp van elektronmikroskopie is aangetoon dat daar dik en dun filamente voorkom. Hulle le parallel met mekaar (in die lengterigting van die fibril) en oorvleuel mekaar gedeeltelik. Die dik filamente bestaan uit ʼn proteïen, miosien, en hul gemiddelde deursnit is ongeveer 100 (1 = 10 - 10m); die dun filamente bestaan uit 'n proteïen, aktien, en het 'n deursnee van 50 .
Wanneer dwarsgestreepte spierweefsel met 'n ligmikroskoop ondersoek word, vertoon dit ligte en donker sones, wat as onderskeidelik 'n I-band (isotroop) en 'n -band (anisotroop) bekend staan. In die gebied waar die dun en dik filamente oorvleuel, kan met behulp van 'n elektronmikroskoop uitsteeksels waargeneem word waarmee die filamente waarskynlik bruggies kan vorm tydens sametrekking.
Die prikkel vir die sametrekking is afkomstig van die senuweestelsel, waarvandaan die impulse via die membraan van die spiervesels na die inwendige gedeelte van die spier gelei word. Die sarkoplasmiese retikulum ('n gespesialiseerde onderdeel van die sarkoplasma) vervul 'n belangrike rol; dit bestaan uit 'n stelsel van klein kanaaltjies waardeur die miofibrille omring word.
By skeletspiere is dit duidelik dat hierdie kanaalsisteem uit twee dele bestaan: transverse tubuli (T-buisies), wat loodreg op die lengteas van die spiervesels staan, en longitudinale (ewewydig met die lengteas) elemente, wat op veral die hoogte van die A-bande voorkom. Daar word algemeen aanvaar dat die transverse tubuli verantwoordelik is vir die vinnige geleiding van die aankomende senuwee-impuls vanaf die sarkolemma na die miofibrille, waardeur gelyktydige sametrekking van alle sarkomere moontlik is.
Die longitudinale elemente speel moontlik 'n rol by die metaboliese prosesse, wat noodsaaklik is tydens sametrekking en verslapping. Op grond van die rangskikking van die spiervesels en die verhouding met die spierpese (strukture waarmee die spiere aan die skeletdele vas is) word daar verskillende tipes dwarsgestreepte spiere onderskei: die eenvoudige, spoelvormige spier (byvoorbeeld die van die onderarm), die geveerde spier (byvoorbeeld die halfpesige spiere), die dubbelgeveerde spier (byvoorbeeld die kuitspier), die meerkoppige spier (byvoorbeeld die buikspier) en die breë spier (byvoorbeeld die groot borsspiere).
Gladde spiere kom voor in veral die wand van die dermkanaal, afvoerbuise van die spysverteringskliere, long kanaaltjies, bloedvate en in die afvoerbuise van die uitskeidings- en geslagsorgane. Soms kan 'n sametrekking tot stand kom onder invloed van 'n senuweenet wat binne die gladde spier self aanwesig is (outonoom); normaalweg word 'n kontraksie egter deur die outonome senuweestelsel beheer.
By die mens kan die wil dus geen beheer uitoefen oor die sametrekking van hierdie spiere nie. Die duidelike dwarsgestreepte voorkoms (soos by die dwarsgestreepte spiere) ontbreek by gladde spiere. Die werking van die gladde spierweefsel is gewoonlik langsamer as die van dwarsgestreepte spiere, maar hulle kan ʼn bepaalde spanningstoestand langer handhaaf.
Gladde spiere bestaan uit spoelvormige spiervesels. Die vesels is meestal baie korter as die van dwarsgestreepte spierweefsel en bevat dikwels net een kern wat in die sentrale deel van die spiervesel voorkom. Rondom die kern lê die sarkoplasma, waarin die longitudinale miofibrille voorkom. In teenstelling met die fibril le van die dwarsgestreepte spiere, wat uit talryke agtereenvolgende sarkomere opgebou is, vertoon die miofibrille van gladde spierweefsel nie 'n soortgelyke reëlmatige organisasie nie.
Drie tipes spiere word onderskei: by die eerste tipe stem die filamente ooreen met die by dwarsgestreepte spierweefsel; die tweede tipe (byvoorbeeld die sluitpier van die skulp van 'n weekdier) se filamente is heelwat langer as die van dwarsgestreepte spierweefsel. Die deursnee van die dik miofilamente van die sluitspier is ongeveer 500 tot 1 500 , in vergelyking met die 100 van dwarsgestreepte spiere.
Afgesien van die miosien (ʼn proteïen) is daar ook nog paramiosien in die filamente. In die sluitspier word elke dik filament nie omring deur 6 (soos by dwarsgestreepte spierweefsel) nie, maar deur 12 dun aktienfilamente, wat dieselfde samestelling as die van dwarsgestreepte spiere vertoon. Die derde tipe gladde spier kom by onder andere werweldiere voor. Tydens die rusfase word geen dik filamente waargeneem nie; miosien is wel in hierdie spiere aangetoon, maar die strukturele rangskikking verskil.
Spierwerking berus vir 'n groot deel op die eienskappe van die proteïene miosien en aktien. Die afsonderlike filamente bestaan uit 'n groot aantal proteïenmolekules; so bevat die dik filamente van die dyspier van die padda 360 miosienmolekules. Elke miosienmolekule bestaan uit 2 proteïenkettings wat om mekaar gedraai is en 'n lengte van 1 400 en 'n deursnit van 20 het.
Hierdie dubbelspiraal of alfa-heliks eindig in 'n bolvormige struktuurtjie, wat waarskynlik die uitsteekseltjie vorm wat onder die elektronmikroskoop sigbaar is. Die aktienfilamente self is saamgestel uit 'n groot aantal Gaktienmolekules (globulêre aktien), 'n bolvormige proteïen met 'n molekulêre gewig van 60 000. Baie van hierdie molekules vorm saam ʼn ketting, die F-aktien (fibrillere aktien).
Twee F-kettings wat om mekaar gedraai is, vorm saam ʼn dun filament. Daar word veronderstel dat tydens 'n kontraksie die miosienelemente van die dik filamente ʼn tydelike verbinding met die dun aktienfilamente vorm. Wanneer hierdie verbinding gevorm is, kan die filamente slegs vir klein afstande oormekaarskuif. Vir verdere vergroting van die spier moet die bruggies verbreek word.
Wanneer dit gebeur, word 'n nuwe verbinding tussen 'n miosienelement en ʼn aktienfilament op 'n verder geleë plek gevorm. Op die manier kan die aktienfilamente dus verskuif en die spier verkort word. Tydens sametrekking vind op molekulêre vlak allerlei prosesse plaas waarvan die aard nog nie heeltemal duidelik is nie.
Spiersametrekking en gepaardgaande spierarbeid kom tot stand onder die invloed van prikkels vanaf die senuweestelsel. By skeletspiere word die arbeid via pese op die skeletdele oorgedra; die inhoud van die spysverteringskanaal, blaas en ander buisvormige organe word meestal voortgedryf deur die ritmiese bewegings van die gladde spiere. Hierdie bewegings vind dikwels plaas sonder enige senuwee-impulse van buite af.
Die gevolg is 'n voortdurende golf van sametrekkings (peristalse). By gladde spiere word die sametrekkings gekoördineer deur die senuwees van die outonome senuweestelsel. Daar is selfs sprake van dubbele innervering: naas die stimulerende outonome vesels is daar ook remmende senuwees. Die tydsduur vir 'n volledige sametrekking en die daaropvolgende verslapping van gladde spiere is lank.
Gladde spiere is daartoe in staat om lang tye ʼn toestand van ligte kontraksie (tonus) te handhaaf met 'n minimum energieverbruik. 'n Belangrike kenmerk van gladde spierweefsel is dat dit geen vasgestelde rusperiode (ruslengte) het nie.
Tydens 'n uitsettingsreaksie (rek-reaksie) gee die spiere oor 'n groot afstand mee, sonder enige spanningsverhoging Die gladde spiere in die wand van die urienblaas van werweldiere hou die blaasinhoud onder 'n gelykmatige spanning, wat onafhanklik is van die mate van uitrekking van die spierselle. Die sametrekking van gladde spierweefsel word baie deur hormone en metaboliese produkte beïnvloed.
Die hartspier van werweldiere bestaan uit talle afsonderlike spierselle wat onderling intiem met mekaar verbind is deur meganiese sowel as elektriese 15 selkontakte (selverbindings). Hierdie selkontakte word glanslyne of interkalêre skywe genoem. Die impulse vir die hartsametrekking is nie van die senuweestelsel afkomstig nie, maar van die hart self.
Daarom hou die hart nog 'n geruime tyd aan met klop nadat dit uit die liggaam verwyder is. Normaalweg ontstaan daar 'n gekoördineerde kontraksiegolf wat oor die hele hart uitbrei. Die impulse word via ʼn bundel ekstra-geleidende spiervesels oor die hartwand gelei. Die sterkte van die sametrekking is afhanklik van die mate waarin die hart uitgerek is (met ander woorde van die vulling met bloed).
Die hart kan dus op die veranderinge in die benodigde pompvermoë reageer. Net soos by gladde spiere bly die spanning dieselfde, onafhanklik van die mate van uitrekking. Ten opsigte van die energiehuishouding. Mikroskopiese bou en baie ander eienskappe is daar 'n groot ooreenkoms met dwarsgestreepte spiere.
In teenstelling met gladde spier, wat dikwels 'n dubbele innervering vertoon, word die skeletspiere van die werweldiere deur uitsluitlik stimulerende senuwees voorsien en is daar dus geen innervering deur remmende senuweevesels nie. In plaas hiervan word die werking van 'n bepaalde spier opgehef deur die aktiwiteit van 'n spier met 'n teenoorgestelde werking (die antagonisspier).
Vir suksesvolle impulsoordraging moet die spier- en senuweestelsel heg met mekaar verbind wees. Dit word bewerkstellig deurdat die motoriese aksone (die uitlopers van senuweeselle van die sentrale senuweestelsel) fyn vertak oor ʼn gedeelte van 'n spier. Alie spiervesels wat deur een bepaalde senuweevesel geïnnerveer word, vorm daarmee saam 'n motoriese eenheid.
Hoe meer motoriese eenhede tydens 'n bepaalde sametrekking ingeskakel is, des te groter is die ontwikkelde krag. Op hierdie manier kan die grootte van die spierkrag noukeurig bepaal word volgens die behoefte. Die kontraksieplek van die aksoneinde en die spiervesels (neuromuskulêre verbinding) vorm saam ʼn motoriese eindplaat, wat vergelykbaar is met 'n sinaps in die senuweestelsel.
Die verskil tussen 'n sinaps en 'n motoriese eindplaat is dat albei dele by 'n sinaps uit senuweeweefsel bestaan, terwyl die motoriese eindplaat uit spier- en senuwee-elemente opgebou is. In die senuweegedeelte van die motoriese eindplaat word tregtervormig verdikte uiteindes van die senuweevertakkings gevind; die spiergedeelte van die motoriese eindplaat bestaan uit 'n duidelik geplooide sarkolemma.
Die plooie van die sarkolemma le presies onder die verdikte senuwee-uiteinde. Wanneer 'n senuwee-impuls via die motoriese eindplaat die spier bereik, ontstaan daar 'n lokale potensiaalverandering in die sarkolemma. Wanneer die potensiaalverandering 'n bepaalde drempelwaarde oorskry, plant dit oor die hele spier voort in die vorm van 'n aksiepotensiaal, en 'n sametrekking volg.
Spiervesels kan ook deur warmte, lig, druk of chemikalieë tot sametrekking gebring word. Tydens laboratoriumproewe word daar hoofsaaklik van elektriese prikkeling gebruik gemaak omdat die effek daarvan goed ooreenstem met die onder normale omstandighede. By kunsmatige prikkeling vind 'n mens dat 'n minimumwaarde (drempelwaarde) ook nodig is om 'n reaksie te kan uitlok.
Afgesien van die drempelwaarde neem die mate waarin die spier saamtrek, lineêr toe tot ʼn maksimumwaarde. Dit is 'n gevolg van die feit dat die drempelwaarde nie vir alle motoriese eenhede gelyk is nie, sodat agtereenvolgende prikkeling veroorsaak dat steeds meer motoriese eenhede gaan deelneem. Elke afsonderlike spiervesel werk volgens die alles-of-niks-wet, dit wil sê dit trek saam of dit trek nie saam nie; 'n gedeeltelike sametrekking bestaan nie.
By die meeste spiere wek een elektriese prikkel een sametrekking op. Dit blyk dat daar onmiddellik na die prikkel vir 'n kort oomblik nog geen reaksie waarneembaar is nie. Dit is die latente periode ('n gemiddelde van ongeveer 7,5 millisekonde), waarin die aksiepotensiaal oor die spieroppervlak versprei. Die daaropvolgende sametrekking duur 40 millisekondes en die verslappingsfase beslaan gemiddeld 50 millisekondes.
Hierdie tye is afhanklik van die tipe spier (daar word onderskei tussen vinnig en stadig werkende spiere) en die temperatuur. Na die prikkeling tree 'n refraktêre periode van enkele millisekondes op, waarin die spier ongevoelig is vir verdere prikkeling. Indien 'n prikkel toegedien word net na die refraktêre periode en voordat die spier verslap het, bly die spier opnuut vir 40 millisekondes saamgetrek.
By ritmies herhaalde prikkeling raak die spier in ʼn blywende sametrekking of tetanus. 'n Spier kan meganiese arbeid verrig deurdat dit verkort tydens sametrekking. lndien die las te groot is, bly die lengte van die spier dieselfde en word daar alleen krag ontwikkel (isometriese kontraksie); alle energie kom dan in die vorm van warmte vry. By isotoniese kontraksie bly die spierspanning dieselfde, maar die spierlengte verander.
As 'n spier geen prikkel van die senuweestelsel ontvang nie, heers daar oor die spierveselmembraan, die sarkolemma, 'n bepaalde potensiaal. Dit word veroorsaak omdat die deurlaatbaarheid van die membraan nie vir alle ione dieselfde is nie, met ʼn gevolglike verskil in die ioonkonsentrasie binne en buite die spierveselmembraan. Hierdie konstante potensiaal word die ruspotensiaal genoem.
In rustende spiere is die kalium-ioonkonsentrasie binne die spiersel (spierselmembraan) groter as daarbuite; vir natriumione geld presies die teenoorgestelde. Tydens rus is die deurlaatbaarheid van die sarkolemma die grootste vir die kaliumione. Daar vind wel 'n uitruiling van ione tussen die spiervesel en die omringende liggaamsvloeistof plaas; kaliumione gaan na buite, terwyl natriumione na binne beweeg.
Die natriumione wat na binne beweeg het, moet weer na buite vervoer word. Dit gebeur via ʼn aktiewe energieverbruikende proses, wat die natrium-kaliumpomp genoem word. Tydens prikkeling word daar deur die senuwee-uiteinde 'n stof afgeskei wat opgevang word deur reseptore in die spiermembraan. Dit het tot gevolg dat daar in die membraan 'n verandering intree in die deurlaatbaarheid vir kalium- en natruimione, waardeur die potensiaalverskil tussen die binne- en buitemilieu afneem (depolarisasie van die membraan).
Dit veroorsaak 'n aksiepotensiaal indien die prikkel sterk genoeg is. Hierdie aksiepotensiaal plant homself oor die hele spiermembraan voort en het die afskeiding van kalsium uit die sarkoplasmiese retikulum tot gevolg. Hierdie kalsiumione diffundeer na die spierfibrille deur die stelsel van transverse tubuli (T-buisies). Onder die invloed van die kalsium ione, wat aan die dun filamente (aktienfilamente) gebind word, kom verbindings tussen die dun en dik filamente (miosienfilamente) tot stand.
In die spierfibrille is ATP (in Afrikaans ATF: adenosientrifosfaat, 'n energielewerende verbinding) aanwesig. Die vrykomende energie word omgesit in arbeid en warmte. Hierna word die kalsiumione deur ʼn aktiewe proses (kalsium-ioonpomp) na die sarkoplasmiese retikulum vervoer en die verbindings tussen die dik en dun filamente word dan verbreek; die sametrekking word opgehef en die verslappingsfase begin.
Bogenoemde beskrywing geld slegs vir die monoterminale of mononeurale spiere (soos by die meeste dwarsgestreepte spiere en ʼn paar gladde spiere); by hierdie tipe spier word telkens een spiervesel deur een senuweevesel geïnnerveer. 'n Ander tipe is polineurale innervering (soos by ongewerwelde diere), waar 'n enkele spiervesel deur meer as een akson geïnnerveer word.
Indien hierdie aksone elkeen boon op 'n aantal vertakkings na hierdie spiervesels afgee, word van polineurale multiterminale innervering gepraat. By sommige langsaam werkende dwarsgestreepte spiere (byvoorbeeld die van amfibieë en visse) word elke spiervesel deur 'n aantal vertakkings van een senuweevesel op verskillende plekke geïnnerveer (multiterminale innervering).
ʼn Enkele impuls is dan meestal nie voldoende om die spier tot kontraksie (eksitasie) te bring nie. Daar is 'n reeks agtereenvolgende impulse nodig om 'n groot genoeg eindpotensiaal te bewerkstellig, aangesien elke nuwe impuls die eksitasie aanhelp. Die verskynsel staan as fasilitasie bekend. Die totale potensiaalverandering van die sarkolemma word stapsgewys opgebou, waarop sametrekking volg.
Die verskillende maniere van innervering gaan met verskille in impulsoordrag gepaard. Saam met die spesifieke eienskappe van die spier (soos dikte, vorm en lengte van die fibrille, die konsentrasie van die spierproteïene, aan- of afwesigheid van 'n Z-membraan, verskille in energievoorsiening en in die ruspotensiaal) bepaal dit uiteindelik die karakter van 'n bepaalde spiertipe. Heelwat minder is bekend oor die gladde spiere, maar dit is bekend dat hulle ook aktien, miosien en ATP bevat.
Daar is verskeie neurologiese siektes wat tydens hulle verloop ook die spiere aantas. Deur die uitval van senuwees (beskadiging van senuwees, senuwees wat nie meer kan funksioneer nie) tree verlamming (die onvermoë om spiere te gebruik) in. Die spiere reageer met die sogenaamde denervasieverskynsel: hulle word kleiner (spieratrofie) en vertoon onwillekeurige sametrekkings (fassikulasie).
Steurnisse waarvan die oorsaak in die rugmurg en brein gesetel is, kan ook hipertonie (verhoogde spierspanning) en latere kontraktuur ('n onveranderlike, abnormale stand van 'n gewrig vanweë verkorting van sagte weefsel) tot gevolg hê. Die groep spiersiektes waarvan die oorsaak in die spierstelsel self gesetel is en waarvan die simptome baie ooreenstem met bogenoemde beskrywing, word ook tot die neurologie gereken.
Dit is dikwels baie moeilik om tussen die verskillende siektebeelde te onderskei. Die waarneming van tipiese verskynsels - en dus die diagnose - geskied met behulp van elektromiografie (die registrering van die elektriese aktiwiteit in die spiere) en spierbiopsie. Tydens laasgenoemde ondersoekmetode word 'n stukkie weefsel uit 'n aangetaste spier geneem en deur ʼn patologiese anatoom of patoloog ondersoek.
Die bevestiging van die aanwesigheid van bepaalde ensieme in die bloed, wat tydens die verval van spierweefsel vrykom, soos kreatienfosfokinase (KFK, ook CPK) en aldolase (ALS), is ʼn diagnostiese hulpmiddel.
Myasthenia gravis neem 'n aparte plek in onder spieraandoenings. Die belangrikste simptoom by myasthenia gravis is ʼn duidelik oormatige vermoeidheid van spiere, gevolg deur 'n tydelike verlamming. Na 'n rusperiode verdwyn die verlamming (pseudoparalise). Die siekte begin op ʼn volwasse ouderdom (tussen 20 en 40 jaar). Die simptome van vermoeidheid word eers in enkele spiere opgemerk.
Dikwels is dit eers die oogspiere en die kleiner spiere in die kop- en nekgebied wat aangetas word. Later kan die groter skeletspiere ook by hierdie siekte betrokke raak. Heel laaste word die asemhalingspiere aangetas wat kunsmatige belugting nodig maak. Hierdie siekteverskynsel kan spontaan verdwyn en na 'n paar jaar in 'n ernstige graad en met meer spiere aangetas, terugkeer.
Die aandoening word toegeskryf aan die onvoldoende funksionering van die motoriese eindplaatjies, dit wil sê die plek waar 'n impuls van ʼn senuwee af op 'n spier oorgedra word. Hierdie impulsoordraging vind deur middel van asetielcholien ('n chemiese verbinding) plaas. Dit is nie heeltemal duidelik of dit in die geval van myasthenia gravis 'n te geringe afskeiding van asetielcholien of 'n te vinnige afbraak daarvan is nie.
Die simptome word wel verlig deur die afbraak van die asetielcholien te verminder. Dit geskied deur die toediening van anticholienesterases (cholienesterase is 'n ensiem wat asetielcholien afbreek).
Die ander belangrike spieraandoening, naamlik spierdistrofie, kan van spiersiektes met ander oorsake onderskei word ten opsigte van kenmerkende eienskappe. Dit vertoon ʼn onstuitbare verloop, wat dikwels tot die dood lei. Spierdistrofie het gewoonlik ook vroeër in die pasiënt se familie voorgekom. Ware denervasieverskynsels, soos fassikulasies, ontbreek, maar daar is wel dikwels spieratrofie as gevolg van die verdwyning van spiervesels.
Soms word vir die verval van spierweefsel deur 'n toename van vet en bindweefsel gekompenseer soda! die spiermassa, ondanks die duidelik aanwesige spiersiekte, skynbaar normaal voorkom of selfs toeneem (pseudohipertrofie). Uiteraard is dit slegs 'n motoriese (het betrekking op die beweging) en geen sensoriese (het betrekking op die gevoel) verskynsel nie omrede dit nie 'n aandoening van die senuweestelsel is nie.
Meestal is daar geen pyn nie. Die aangetaste spiere is dikwels simmetries oor die liggaam verdeel. By spierdistrofieë word verskeie siektebeelde onderskei. Die algemene beeld van progressiewe spierdistrofie (dystrophia musculorum progressiva) bevat al bogenoemde kenmerke. Die simptome kom eerstens veral in die skouer- en heupgordelspiere voor.
Die pasiënt vertoon dan na buite gerigte (uitstekerige) skouerblaaie en 'n eienaardige waggelgang; hy kan ook dikwels vanuit 'n sittende posisie nie sonder hulp opstaan nie. Hierdie siektetoestand is seldsaam; die progressiewe spierdistrofie-voorkomsyfer is ongeveer 0,2 tot 0,3 per duisend. Die ernstigste spierdistrofie wat die meeste voorkom, is die tipe bekend as Duchenne se verlamming.
Dit is oorerflik en word geslagsgebonde oorgedra: slegs seuns kan die siekte kry; meisies kan dit op hul manlike nageslag oordra. Die kwaadaardige vorm begin tussen die tweede en sesde lewensjaar ontwikkel. Eerstens word die spiere van die bekken aangetas, maar die toestand versprei vinnig en tas ander spiergroepe aan. Die pasiënte sterf gewoonlik voor hul twintigste lewensjaar.
Die minder kwaadaardige vorm begin later (na tienjarige ouderdom) en is heelwat skaarser. Pasiënte sterf gewoonlik voor vyftigjarige ouderdom. Geen geneesmiddels is in hierdie stadium genoegsaam effektief teen progressiewe spierdistrofie nie. Die behandeling bestaan uit versorging, ligte oefening en ortopediese terapie. Na progressiewe spierdistrofie kom dystrophia myotonica (Steinert se siekte) die meeste voor.
Dit is ʼn siektetoestand wat by albei geslagte voorkom, laat in die lewe ontstaan en langsaam voortgaan, maar nogtans tot 'n vroeë dood lei. Dit tas enige spiergroep aan en begin dikwels met 'n atrofie van die spiere van die hande en voete. Kenmerkend vir hierdie siekte en vir enkele ander vorme van spierdistrofie is miotonie. Dit is 'n verskynsel dat as 'n spier eenmaal saamgetrek het, dit baie moeilik weer kan ontspan.
Miotonie is by pasiënte met dystrophia myotonica in alle spiere (dus nie net in die wat aangetas is nie) aanwesig. 'n Ander siekte wat ook hierdie verskynsel toon, is myotonia congenita (Thomsen se siekte). Dit begin na geboorte en lei tot ernstige gestremdheid. Ander vorme van spierdistrofie is Welander se siekte (myopathia distalis tarda hereditaria) en Charcot-Marie-Tooth se siekte (neurale spieratrofie).
Welander se siekte begin op 'n volwasse leeftyd; die simptome word merkbaar aan die hande en voete. Die siekte is oorerflik en kom by albei geslagte voor en het 'n stadige verloop. Charcot-Marie-Tooth se siekte is ook oorerflik, kom by albei geslagte voor en begin by die voete en onderbene. 'n Tipiese beeld van 'n spierdistrofie kom voor, maar die perifere senuwees is ook aangetas.
Dit is moeilik om die groep spierdistrofieë te onderskei van die spiersiektes waarvan die oorsaak in die senuweestelsel lê. 'n Aantal van bogenoemde siektes se verloop en simptome is baie dieselfde as die van spierdistrofieë, maar die oorsaak van spieratrofie is steeds in die rugmurg (spinaal) gesetel, byvoorbeeld Werdnig-Hoffmannse siekte (infantiele spinale spierartrofie), die spinale spieratrofie van volwassenes (Aran-Duchenne se siekte) of Kugelberger-Welander se siekte (atrophia musculorus spinalis pseudomyopathica).
Simptome wat kenmerkend is vir spierswakte en spieratrofie kan ook voorkom as gevolg van toestande of siekte elders in die liggaam, byvoorbeeld 'n versteurde skildklier- of bynierfunksie, 'n tekort aan kalium in die bloed (laasgenoemde kom byvoorbeeld voor as gevolg van ʼn oormatige werking van die bynier) of 'n kwaadaardige gewas êrens in die liggaam (veral byvoorbeeld bronguskarsinoom of longkanker).
Ten slotte is dit ook moontlik dat spierdistrofieagtige beelde kan ontstaan as 'n newe-effek van bepaalde geneesmiddels (soos kortikosteroïede, chlorokien en kolgisien). Diagnoses word gewoonlik suksesvol gemaak na uitgebreide ondersoeke.
Daar bestaan drie spiersoorte:
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.