From Wikipedia, the free encyclopedia
Ruimtekolonisasie is die permanente bewoning deur die mens van ’n ander hemelliggaam as die Aarde. Daar is baie argumente ten gunste daarvan: twee daarvan is die oorlewing van die mensdom en die biosfeer indien ’n ramp die Aarde sou tref (natuurlik of deur die mens veroorsaak), en die groot hulpbronne in die ruimte vir die uitbreiding van die menslike gemeenskap.
Geen ruimtekolonies is nog gebou nie. Dit sal tans nog ’n groot tegnologiese en ekonomiese uitdaging wees. Ruimtekolonies sal in die materiële behoeftes van honderdduisende mense moet kan voorsien, in ’n omgewing in die ruimte wat menslike lewe baie vyandiggesind is. Dit sal tegnologieë moet behels soos beheerde ekologiese lewensondersteuningstelsels, wat nog nie tot op ’n betekenisvolle vlak ontwikkel is nie, en sal die tot nog toe onbekende kwessie moet kan hanteer oor hoe mense op lang termyn in sulke plekke sal optree en floreer. Weens die enorme koste daarvan om enigiets van die Aarde af die ruimte in te stuur – rofweg $20 000 (meer as ’n kwartmiljoen rand) per kilogram – sal ’n ruimtekolonie ’n geweldig duur projek wees.
Hoewel geen groot organisasie nog planne het om een te bou nie, was daar al baie voorstelle en ontwerpe vir ruimtekolonies en gissings daaroor, en daar is baie voorstanders van die idee, ook verskeie bekende wetenskaplikes soos Freeman Dyson.[1]
Aan die tegnologiese front is daar ’n voortdurende proses om toegang tot die ruimte goedkoper te maak en om geoutomatiseerde vervaardigings- en boutegnieke daar te stel.[2] Dit kan in die toekoms lei tot wydverspreide ruimtetoerisme, wat ’n stap nader aan ruimtekolonisasie sal wees.
Die belangrikste argument vir ruimtekolonisasie is die versekering van die mensdom se voortbestaan deur alternatiewe plekke weg van die Aarde af te skep waar die mens sal kan lewe in geval van ’n natuurlike of mensgemaakte ramp.
Die teoretiese fisikus en kosmoloog Stephen Hawking het in 2001 en 2006 gesê ruimtekolonisasie is ’n manier om die mensdom te red. In 2001 het hy voorspel die mens sal binne sowat duisend jaar uitsterf tensy kolonies in die ruimte gestig word.[3] In 2006 het hy gesê die mens het twee opsies: óf hy koloniseer die ruimte binne die volgende 200 jaar en woon bou-eenhede op ander planete óf langtermynuitwissing sal hom in die gesig staar.[4]
In 2005 het die destydse administrateur van Nasa, Michael Griffin, gesê kolonisasie is die uiteindelike doel van huidige ruimtevlugprogramme. Volgens hom sal ’n spesie wat net op een planeet woon, nie kan oorleef nie.
As ons mense vir honderdduisende of miljoene jare wil oorleef, sal ons uiteindelik ander planete moet bewoon. Vandag is die tegnologie van so ’n aard dat dit skaars denkbaar is. Ons is nog in ons kinderskoene ... Ek praat van daardie eendag, ek weet nie wanneer daardie dag sal wees nie, maar daar sal meer mense weg van die Aarde as op die Aarde woon. Ons sal dalk mense hê wat op die maan woon. Ons kan mense hê wat op die mane van Jupiter en ander planete bly. Ons kan mense hê wat habitats op asteroïdes geskep het ... Ek weet die mens sal die sonnestelsel eendag koloniseer.[5] |
Louis J. Halle, vroeër van die Amerikaanse departement van buitelandse sake, het in 1980 in die Amerikaanse tydskrif Foreign Affairs (Somer-uitgawe) geskryf kolonisasie sal die mensdom beskerm in geval van ’n wêreldwye kernoorlog.[6] Die fisikus Paul Davies is ook van mening dat as ’n ramp die Aarde bedreig, ’n selfonderhoudende kolonie iewers anders die Aarde daarna sal kan herbevolk. Die skrywer en joernalis William E. Burrows en die biochemikus Robert Shapiro het ’n privaat projek bekend as die Alliance to Rescue Civilization voorgestel met die doel om ’n "rugsteunstelsel" ("backup") vir die menslike beskawing weg van die Aarde te skep.[7]
J. Richard Gott het ’n raming gedoen wat op die Koperniese beginsel berus dat die mens nog 7,8 miljoen jaar sal oorleef, maar dit is onwaarskynlik dat ons ander planete sal koloniseer. Hy het egter gesê hy hoop hy word verkeerd bewys, want om ander wêrelde te koloniseer is ons beste kans om die oorlewingsvooruitsigte van die mensdom te verbeter.[8]
Dieselfde gevare wat die mens in die gesig staar, sal die Aarde se biosfeer gedeeltelik of heeltemal vernietig. ’n Voorbeeld is ’n baie groot asteroïdebotsing. En hoewel al baie gegis is oor lewe en intelligensie in ander dele van die ruimte, is die Aarde die enigste plek in die heelal waar dit na ons wete voorkom.
Maar selfs al word hierdie bedreigings afgeweer, sal die Aarde eindelik onbewoonbaar word. Dit is weens die toename in die Son se ligsterkte: die Son was na raming sowat 70% so helder as nou toe dit 4,5 miljard jaar gelede gevorm het, en oor ’n miljard jaar sal dit 10% helderder wees. Daar is al voorgestel dat die Aarde oor sowat 800 miljoen jaar nie meer veelsellige lewe sal kan onderhou nie.[9] ’n Paar miljard jaar later sal die al hoe helderder Son ’n weghol-kweekhuiseffek skep wat alle lewe op Aarde sal uitwis.
Hulpbronne in die ruimte, wat materiaal en energie betref, is enorm. Die sonnestelsel alleen het, volgens verskillende ramings, genoeg materiaal en energie om enigiets van verskeie duisende tot meer as ’n miljard keer die huidige aardse bevolking te onderhou.[10][11][12] Buite die sonnestelsel, in die Melkweg, is tot ’n paar honderd miljard ander sonnestelsels. Buite die Melkweg is tot ’n paar honderd miljard ander sterrestelsels in die waarneembare ruimte.
Al hierdie planete en ander hemelliggame bied ’n feitlik oneindige hoeveelheid hulpbronne wat onbeperkte groei sal verseker. Die ontginning van dié hulpbronne kan tot veel groter ekonomiese ontwikkeling lei.[13]
Die uitbreiding van die mensdom en tegnologiese vooruitgang het dikwels gelei tot die een of ander vorm van omgewingsverwoesting en die vernietiging van ekostelsels en hul meegaande natuurlewe. Die Aarde is tans aan die begin van nog ’n massauitwissing soortgelyk aan die een wat die dinosourusse 65 miljoen jaar gelede laat uitsterf het. Die rede vir hierdie nuwe massauitwissing is die mens.[14][15] Buite die Aarde is daar geen bekende biosfere om te vernietig nie.
Bogenoemde uitbreiding het ook plaasgevind ten koste van baie inheemse volke – die behandeling van dié mense wissel van inbreukmaking tot volksmoord. Sommige voorstanders van kolonisasie meen aangesien die ruimte sover bekend geen inheemse volke het nie, sal niemand op ’n soortgelyke manier daardeur geraak word nie.[16][17]
’n Baie groot aanvanklike beleggingskoste sal nodig wees vir ruimtekolonies of enige ander permanente ruimte-infrastruktuur weens die hoë koste van ruimtevlugte. Voorstanders glo egter dit sal langtermynvoordele inhou wat veel groter is as die aanvanklike koste.
Om ruimtevlugte goedkoper te maak is dus een van die grootste prioriteite, gevolg deur die gebruik van hulpbronne in die ruimte. Van dié hulpbronne is meer volop of van hoër gehalte as op Aarde en sal gebruik kan word om sekere artikels makliker te vervaardig. Dit sal dan waardevolle handelsmiddels uitmaak en op die lang duur finansieel voordelig wees.[18]
Van dié waardevolle handelsmiddels sluit in edelmetale,[19][20] edelstene,[21] krag,[22] sonselle,[23] koeëllaers[23] en farmaseutiese produkte.[23]
... die kleinste asteroïde wat die Aarde se wentelbaan kruis, 3554 Amun ... is ’n 2 km breë stuk yster, nikkel, kobalt, platinum en ander metale; dit bevat 30 keer soveel metaal as wat die mens al deur die geskiedenis gemyn het, hoewel dit net die kleinste van dosyne bekende metaalryke asteroïdes is en dalk $20 biljoen (trillion) werd teen 2001 se markpryse as dit stadig ontgin word om in die aanvraag te voorsien.[19] |
In die 2 900 km3 van Eros is daar meer aluminium, goud, silwer, sink en ander metale as wat in die geskiedenis ontgin is of wat ooit in die boonste lae van die Aarde se kors ontgin kan word.[21] |
Ruimtekolonisasie word beskou as een van die langtermyndoelwitte van ruimteprogramme. Sedert die begin van die 21ste-eeuse kommersialisering van die ruimte, wat deure geopen het vir samewerking tussen Nasa en die privaat sektor, het verskeie privaat maatskappye planne aangekondig om Mars te koloniseer. Onder die entrepreneurs wat ruimtekolonisasie voorstaan, is Elon Musk, Dennis Tito en Bas Lansdorp.[24][25][26]
Groot maatskappye het al planne aangekondig vir onder meer ruimtetoerisme- en hotelle, sonkragsatelliete en die ontginning van asteroïdes.[27][28][29] Moontlike plekke vir ruimtekolonies sluit in die maan, Mars, asteroïdes en drywende ruimtehabitats.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.