From Wikipedia, the free encyclopedia
'n Rabbyn (Hebreeus: רב, Raw; meervoud: רבנים, Rabbanim; Asjkenasiese Hebreeus en Jiddisj: Row; meervoud: Rabbonim; Afrikaanse meervoud: rabbyne; letterlik: "meester" of "leraar") is 'n Joodse geleerde wat 'n kundige op die gebied van die skriftelike en mondelingse Tora is.
Met die term rabbyn word vandag algemeen na die geestelike leier van 'n sinagogegemeente verwys. Sy belangrikste rol is dié van 'n spirituele raadgewer, leraar, kenner van die halagá ("die Joodse leefwyse", הלכה, "lewenswandel"; afgelei van van die werkwoord halág, הלך, "om te gaan"), en dus die persoon wat geskille oor die Joodse wet beslis. 'n Rabbyn wat in 'n beit dien (בית דין, 'n Joodse regbank) dien is vergelykbaar met 'n regter. In 'n kleiner gemeente dien 'n rabbyn soms ook as gazan (חַזָּן, voorsanger) in die sinagoge en/of as ba'al koré (בעל קורא, voordraer van die weeklikse Toralesing).
Baie Jode wat die studie tot rabbyn afgesluit het, is nie as godsdienstige leiers werksaam nie. Die titel rabbyn is beide 'n akademiese en 'n eretitel, vergelykbaar met 'n doktorale graad. In die formele sin dui die titel slegs die bereiking van 'n studievlak aan, nie 'n beroep nie. 'n Rabbyn word deur 'n sinagogegemeente in diens geneem en kan ook weer ontslaan word.[1]
Sommige lande beskik oor 'n eie hoofrabbinaat wat die hoogste geestelike gesag vir Jode in 'n land vorm. Sedert 2005 dien Warren Goldstein as hoofrabbyn vir die Jode in Suid-Afrika. Israel het twee hoofrabbyne, een vir Asjkenasiese en een vir Sefardiese Jode.
Die woord rabbyn in die betekenis van "meester" of "leraar" word nie in die Tora genoem nie en het later ontstaan. Die oorspronklike gebruik van die eretitel "rabbyn" in sy huidige vorm dateer uit die tydperk van die tweede tempel en daarna, toe geleerde onderwysers vergader het om die Joodse skriftelike en mondelingse wette te kodifiseer. Die eerste persoon na wie die Misjna as 'n rabbyn verwys is Jochanan ben Zakkai, aktief in die eerste eeu n.C.[2] Die rabbyn as die geestelike hoof van 'n Joodse gemeente, soos dit vandag bekend is, het eers in die Middeleeue ontstaan.[3] In meer onlangse eeue is die dienste van 'n rabbyn toenemend beïnvloed deur dié van Christelike geestelikes, vandaar die titel "preekstoel-rabbyne", en in 19de-eeuse Duitsland en die Verenigde State het rabbynse dienste preke, pastorale berading en die verteenwoordiging van die gemeenskap na buite ingesluit.
Binne-in die verskeie Joodse strominge bestaan verskillende vereistes vir die rabbynse ordinasie en meningsverskille rakende wie as 'n rabbyn erken kan word. Byvoorbeeld word in Ortodokse Judaïsme vroue nie as rabbyne geordineer nie. Nie-Ortodokse gemeenskappe het egter besluit om dit wel te doen uit, volgens hul siening, halagiese redes (Konserwatiewe Judaïsme) asook etiese oorwegings (Hervormde Judaïsme en Rekonstruksionistiese Judaïsme).[4][5]
In die Joodse tradisie word na Moses as Mosje Rabbenu ("Moses ons leraar") verwys.[6] In die Nuwe Testament word soms na Jesus van Nasaret as rabbi verwys.[7]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.