From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Paardekraal-volksvergadering was 'n saamtrek van tussen 6 000 en 8 000 burgers[1] van die ZAR wat vanaf 8 tot 14 Desember 1880 op M.W. Pretorius se plaas Paardekraal gehou is. Hierdie gebeure was in reaksie op die anneksasie van die ZAR deur Groot-Brittanje, meer as drie jaar tevore, en die mislukking van alle vreedsame inisiatiewe om hul vryheid te herstel. Kolonel Owen Lanyon (of "Lang-Jan") het 'n proklamasie uitgevaardig wat die komende volksvergadering verbied het.
Die proklamasie is egter volkome geïgnoreer en die saamtrek is van 8 Januarie na 8 Desember vervroeg.[1] Ds. N.J. van Warmelo het op Sondag, 12 Desember 'n plegtige erediens gelei waartydens om God se bystand en hulp gevra is. Op Maandag die 13de is 'n gelofte voor God[2] gedoen en die Volksraad is as wettige gesag van die ZAR herstel. Op Paul Kruger se voorstel is 'n klipstapel ook opgerig.
Hierop is 'n tydelike regering by Heidelberg onder die uitvoerende gesag van die "driemanskap" gevestig, naamlik Paul Kruger, M.W. Pretorius en Piet Joubert. Die Eerste Vryheidsoorlog het onmiddellik gevolg op 16 Desember, toe Kolonel Lanyon weier om die administrasie van Transvaal vreedsaam oor te gee.[3] Die oorlog is in vier veldslae in die guns van die ZAR voltrek om selfregering te herstel, terwyl onafhanklikheid later sou volg.
Sir Theophilus Shepstone het in Desember 1876 van Pietermaritzburg na Pretoria gereis om nominaal as raadgewer by die ZAR regering besoek af te lê. Vier maande later, op 12 April 1877, het hy en 25 polisiemanne egter die Republiek geannekseer, en tot Britse gebied verklaar. Lydelike verset en verskillende deputasies na die Britse regering het gevolg, sonder enige verskil aan die status quo.
Die Wonderfonteinbyeenkoms van 15 Desember 1879 was 'n keerpunt, aangesien die burgers hier onderling ooreengekom het tot herstel van die Republiek se vryheid, 'n besluit wat 'n jaar later by Paardekraal bekragtig sou word.[3] Sowat 'n maand voor die saamtrek was die Bezuidenhoutwa-episode die eerste teken van kragdadige verset, alhoewel sonder lewensverlies. Op 1 Desember 1880 het die Volkskomitee se onderhandelinge met die Britse regeringsekretaris, George Hudson, weereens niks opgelewer nie.
Die gelofte bevat sekere van die burgers se beweegredes vir hul saamtrek:
Die oorspronklike klipstapel is op 13 Desember 1880 op voorstel van Paul Kruger deur die sowat 6 000 burgers opgerig, en moes as 'n bewys dien van hulle voorneme om tot die bitter einde vir hulle vryheid en die herstel van die republikeinse staatsvorm te veg. In Paul Kruger se woorde was "deze steenhoop…de eeuwiger getuige daarvan."
Gedurende die Driejarige oorlog is hierdie hoop klippe deur die vyand per spoor na Vereeniging vervoer en daar in die Vaalrivier onder die treinbrug gegooi. Dit lê nou nog daar in die water onder 'n dik laag modder.
Weens die Paardekraalsaamtrek het 16 Desember die status van 'n amptelike dankdag ontvang. Tydens die groot herdenkingsfees van 13 tot 16 Desember 1881 het Paul Kruger die burgers as volg toegespreek:
Die eerste staatsfees van 1886 is weereens by die terrein gevier.
In 1889 het J.C. Human, destydse landros in Krugersdorp, vir president Paul Kruger besoek om toestemming te vra vir die oprigting van 'n monument op die terrein. In 1890 besluit die regering om die monument op Paardekraal bo-oor die klipstapel te bou. Mnr. Wierda was die argitek en die boumeester W.Y. Veitsch het in April 1890 met die bou van die Monument begin, wat in in November 1890 voltooi is.
In Desember 1891 is 'n huldigingsfees op Paardekraal gehou, waartydens President Paul Kruger die monument onthul het. Dit was ook die eerste volksfees waar die Gelofte van 1838 weer herdenk is.
Die volgende inskripsie met 'n uittreksel uit die Paardekraalgelofte is op 'n muur op die terrein van die monument gegraveer:
Die AWB het op 29 November 1986 by die Paardekraal Monument 'n plegtige tweeledige verbond met God en die Boerevolk opgerig.[4][5]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.