From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Luxorslagting was 'n terroristeaanval op 17 November 1997 in Egipte, toe lede van die groep Al-Jama'a al-Islamijja toeriste naby Luxor aangeval en die dood van 62 mense veroorsaak het, van wie die meeste toeriste.[1]
Luxorslagting | |
---|---|
Terrorisme in Egipte | |
Die Dodetempel van Hatsjepsoet, waar die aanval plaasgevind het. | |
Plek | Deir el-Bahari, Egipte |
Datum | 17 November 1997 |
Teiken | Toeriste |
Soort | Skietery |
Slagoffers | 62 (58 toeriste, 4 Egiptenare) |
Terroristegroep | al-Jama'a al-Islamijja |
Aanvallers | 6 militante (wat later selfmoord gepleeg het) |
Motief | Islamitiese terrorisme |
Wapen | Outomatiese wapens, messe, pangas |
Die plek waar die skietery plaasgevind het, was Deir el-Bahari, 'n argeologiese terrein oorkant die Nyl van Luxor af.
Deir el-Bahari is een van die toptoeristebestemmings in Egipte en die terrein waar die Dodetempel van Hatsjepsoet, 'n farao van die 18de Dinastie, geleë is. Die tempel was in Egipties bekend as Djoser-Djeseroe ("allerheiligste).
In die vroegoggendaanval het ses skutters op 58 buitelandse toeriste en vier Egiptenare losgebrand.[1] Hulle was gewapen met outomatiese gewere en messe, en was vermom as lede van die veiligheidsmagte. Hulle het omstreeks 08:45 op die tempel toegesak en twee gewapende wagte op die terrein vermoor.[1] Die toeriste was in die tempel vasgekeer en die moorde het 45 minute lank stelselmatig voortgegaan. Baie van die liggame, veral van vroue, is met kapmesse vermink.[2][1]
Ook die liggaam van 'n ouerige Japannese man is vermink.[3] 'n Pamflet is in sy liggaam gedruk wat lui: "Nee vir toeriste in Egipte". Dit is onderteken deur "Omar Abdoel Rahman se Eskadron van Chaos en Vernietiging – die Gama'a al-Islamijja, die Islamitiese Groep".[3]
Die slagoffers het 'n vyfjarige Engelse kind ingesluit, asook vier jong Japannese paartjies op wittebrood.[4][5] Daar was 26 oorlewendes.
Die aanvallers het daarna 'n bus gekaap, maar hulle vasgeloop in 'n blokkade van gewapende lede van die polisie en weermag. Een van die terroriste is in die daaropvolgende skietery geword, terwyl die res die heuwels in gevlug het waar hulle liggame in 'n grot ontdek is nadat hulle blykbaar saam selfmoord gepleeg het.[6]
Een of meer van al-Jama'a al-Islamijja se pamflette het 'n beroep gedoen vir die vrylating van Omar Abdel-Rahman uit 'n Amerikaanse tronk,[7][8] en het verklaar die aanval is uitgevoer as 'n gebaar aan die verbanne Egiptiese leier Moestafa Hamza,[9] of: "Ons sal wraak neem vir ons broers wat aan die galg gesterf het. Die dieptes van die aarde is beter vir ons as die oppervlak, want ons het ons broers in hulle tronke sien hurk, en ons broers en families in hulle tronke sien gemartel word."[10]
Die aanval is vermoedelik aangewakker deur verbanne leiers van al-Jama'a al-Islamijja, 'n Egiptiese Islamistiese organisasie, toe hulle die organisasie se nieweld-inisiatief van Julie 1997 probeer ondermyn het. Die inisiatief was daarop gemik om die Egiptiese ekonomie te probeer verwoes[11] en die regering tot onderwerping te dwing, wat die steun sou versterk vir antiregeringsmagte.[2]
Die aanval het egter gelei tot interne verdelings onder die militante en die verklaring van 'n wapenstilstand.[12] In Junie 2013 het die groep ontken dat dit by die slagting betrokke was.[13]
Die aanval het plaasgevind net 'n uur voor 'n staatsbesoek deur koningin Beatrix van Nederland en die prinsgemaal, Claus.
Ná die aanval het die destydse Egiptiese president, Hosni Moebarak, die minister van binnelandse sake vervang.[14] Die Switserse Federale Polisie het later "vasgestel Bin Laden het die operasie gefinansier".[15]
Die aanval het die toerismebedryf in Egipte, veral in Luxor, kwaai geknou. Die afname in besoekers is vererger deur die aanvalle op 11 September 2001 in Amerika.
Die publiek het ná die aanval teen Islamitiese terroriste gedraai en dit het gelei tot 'n afname in hulle bedrywighede en aanvalle.[15] Organiseerders en ondersteuners van die aanval het gou besef dit was 'n groot fout en het ontken dat hulle betrokke was. Die dag ná die aanval het die leier van al-Jama'a al-Islamijja, Refa'i Ahmed Taha, beweer die terroriste wou net die toeriste gyselaar neem, ondanks die stelselmatige aard van die slagting. Sommige het beweer die Israeli's of die Egiptiese polisie was verantwoordelik.[16][17]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.