chemiese verbinding From Wikipedia, the free encyclopedia
Lantaniedoksiede is verbindings van die lantaniedelemente met suurstof.
Die meeste van hierdie verbindings het die chemiese formule Ln2O3, omrede die gewoonlike oksidasietoestand van hierdie elemente +3 is. Dit geld ook vir die ander twee seldsame aardelemente, skandium en yttrium.
Die Ln2O3-verbindings, die seskwioksiede, het gewoonlik een van vyf struktuurtipes. [1]
Watter struktuur stabiel is hang af van die temperatuur en van die ioonradius van die lantaniedioon. (Sien diagram) Groot ione stabiliseer die sewevoudige koördinasie.[2]
By die meeste lantaniede lewer verbanding van die suiwer metaal 'n seskwioksied Ln2O3 maar by verbranding van die lantaniede Ce, Pr en Tb word, omrede hierdie lantaniede Ln4+-ione kan vorm, 'dioksiede' gevorm, of eintlik CeO2, Pr6O11 en Tb4O7 . Die praseodimium- en terbiumoksiede kan met nog suurstof in PrO2 en TbO2 omgeskakel word. Die dioksiede het die kubiese fluoriet-struktuur en die laer oksiede 'n struktuur wat van hierdie struktuur afgelei is maar suurstofvakatures bevat. Die fasediagram Pr-O is baie ingewikkeld. Versigtige reduksie met waterstof lewer die seskwioksiede Ce2O3, Pr2O3 em Tb2O3.[3]
Van sommige lantaniede is ook monoksiede bekend wat met oormaat metaal uit die seskwioksiede verkry kan word, soos NdO, SmO, EuO en YbO. Hiervan kan EuO en YbO as Ln2+O2− beskou word en hulle is halfgeleiers. NdO en SmO is metalliese geleiers en kan dalk as Ln3+O2−e− beskou word.[3]
Van die dioksiede en monoksiede is slegs die liggeel CeO2 en die donkerpers EuO waterbestand. Donkerbruin PrO2, donkerrooi TbO2, goudgeel NdO, goudgeel SmO en heldergroen YbO reageer met water en stel die driewaardige ioon vry. Al die seskwioksiede is onoplosbaar in water, hoewel dit aan die oppervlakte daarmee reageer om die hidroksiede Ln(OH)3 te vorm. In sure is hulle oplosbaar en word daar 'n komplekse akwo-ioon [Ln(H2O)n]3+ gevorm wat se kleur afhankelik is van die elektronkonfigurasie van die lantaniedioon. Die waarde van n, die hidrasiegetal, is gewoonlik 9.[3]
Lantaniedoksiede is lewisbasisse. Ammoniakgas ('n basis) word in teenstelling tot koolstofdioksied ('n suur) nie geadsorbeer nie. Aan die oppervlak geadsorbeerde CO2 kan deur verhitting verwyder word, maar die desorpsietemperatuur het 'n amper lineêre afhanklikheid van die radius van die lantaniedioon. Lutesiumoksied verloor sy CO2 reeds teen 125°C; neodimiumoksied teen 330°C. Vanweë die lantaniedkontraksie is die later lantaniedoksiede minder basies. [4]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.