heilige plek naby Efese From Wikipedia, the free encyclopedia
Die Huis van die Maagd Maria (Turks: Meryem ana of Meryem Ana Evi) is ’n Katolieke en Moslemse heiligdom op Berg Solmissos (Turks: Ala dağı) naby Efese, 7 km van Selçuk in Turkye.
Die huis is in die 19de eeu ontdek toe die aanwysings gevolg is in die beweerde visioene van die salige Anna Katharina Emmerich (1774–1824), ’n Rooms-Katolieke non, wat ná haar dood as ’n boek gepubliseer is deur Clemens Brentano.[1] Die Katolieke Kerk het hom nooit ten gunste of teen die egtheid van die huis uitgelaat nie, maar pelgrims besoek die plek gereeld sedert sy ontdekking. Pous Johannes Paulus II het Emmerich op 3 Oktober 2004 salig verklaar.
Katolieke pelgrims besoek die huis in die geloof dat Maria, die moeder van Jesus, deur Johannes daarheen geneem is en dat sy daar gewoon het tot met haar hemelvaart.[2][3] Reeds in 1896 het pous Leo XIII die huis besoek, en die mees onlangse besoek deur ’n pous was in 2006 deur pous Benedictus XVI.
Die huis self is nie groot nie en kan as ’n beskeie kapel beskryf word. Die klippe en bouwerk dateer uit die tyd van die apostels, met klein veranderings wat later aangebring is, soos ’n tuin. Wanneer iemand die kapel binnestap, bevind hy hom in ’n enkele, groterige kamer met ’n altaar en groot standbeeld van Maria.
Regs daarvan is ’n kleiner kamer, waar geglo word Maria geslaap het. Volgens tradisie was daar die een of ander vorm van lopende water wat soos ’n kanaal deur die kleiner kamer geloop het en gelei het na die huidige drinkfontein buite die gebou.
Buite die kapel is ’n "wensmuur" waar pelgrims stukke papier of materiaal met hul persoonlike voornemens op vasbind. Die drinkfontein bevat volgens sommige gelowiges helende water.
Aan die begin van die 19de eeu het Anna Katharina Emmerich, ’n Augustynse non van Dülmen, Duitsland, wat aan haar bed gekluister was, ’n reeks visoene beskryf oor die laaste dae van Jesus en die lewe van Maria.[4] Emmerich was lank siek, maar was in Duitsland bekend as ’n mistikus, en verskeie belangrike mense het haar besoek.[5]
Een van dié besoekers was die skrywer Clemens Brentano, wat ná sy eerste besoek vyf jaar lank in Dülmen gebly en Emmerich elke dag gesien het om haar visioene neer te skryf.[5][6] Ná Emmerich se dood het Brentano ’n boek gepubliseer van haar visioene. ’n Tweede boek wat op sy aantekeninge gebaseer is, is ná sy eie dood gepubliseer.
Een van Emmerich se visioene was oor ’n huis wat Johannes buite Efese vir Maria gebou het en waar sy tot aan die einde van haar lewe gewoon het. Emmerich het besonderhede oor die ligging van die huis verskaf, asook van die omringende topografie.[7]
Op 18 Oktober 1881 het ’n Franse priester, abbé Julien Gouyet, die aanwysings gevolg en ’n klein klipgebou op ’n berg in Turkye ontdek wat oor die Egeïese See en die ruïnes van Efese uitkyk. Hy het geglo dit is die huis wat deur Emmerich beskryf is.[1][8][9]
Die meeste mense het nie abbé Gouyet se ontdekking ernstig opgeneem nie, maar 10 jaar later het suster Marie de Mandat-Grancey[10] en twee sendelinge, vader Poulin en vader Jung, van Smyrna die gebou op 29 Julie 1891 herontdek, ook danksy Brentano se boek.[11][12] Hulle het gehoor die daklose ruïne met vier mure word al ’n lang tyd deur inwoners van die bergdorp Şirince, 17 km van daar af, vereer – hulle was afstammelinge van die vroeë Christene van Efese.[11] Die huis is genoem Panaya Kapulu ("Deur na die Maagd").[13] Pelgrims het elke jaar ’n pelgrimstog na die huis onderneem op 15 Augustus, die datum waarop die grootste deel van die Christelike wêreld die Mariahemelvaart vier.[14]
Die Katolieke Kerk het suster Marie aangewys as stigter van die Huis van Maria, en sy was van 1891 tot met haar dood in 1915 verantwoordelik vir die koop, restourasie en bewaring van die huis en omgewing.[15] Die ontdekking het ’n Christelike tradisie laat herleef en versterk dat Maria in Efese opgevaar het na die hemel, teenoor ’n ander tradisie wat Jerusalem noem. Vanweë die optrede van pous Leo XIII in 1896 en pous Johannes XXIII in 1961, het die Katolieke Kerk omvattende vergifnis verleen aan pelgrims wat Maria se huis in Efese besoek, en dit weggeneem van die Mariahemelvaart-abdy in Jerusalem.[16]
Die gerestoureerde deel van die struktuur word van die oorspronklike oorblyfsels onderskei deur ’n rooi geverfde streep. Sommige gelowiges betwyfel die egtheid van die terrein omdat die tradisie wat Maria met Efese verbind eers in die 12de eeu ontstaan het, terwyl sy volgens die algemene tradisie onder die kerkvaders in Jerusalem gewoon en van daar na die hemel opgevaar het.[17] Dié wat glo die huis is eg, baseer hul oortuiging op die teenwoordigheid van die 5de-eeuse Kerk van Maria in Efese, die eerste basilika in die wêreld wat aan Maria gewy is, asook op die teenwoordigheid van Johannes in die stad en die opdrag van Jesus aan Johannes om ná sy dood na Maria om te sien.
Die Rooms-Katolieke Kerk het nog nooit gesê of hy werklik die huis as Maria s’n beskou nie omdat daar geen wetenskaplike bewyse daarvoor is nie. Pous Leo XIII het egter die huis in 1896 besoek, en pous Pius XII het in 1951, ná die opstelling van die leerstelling van die Mariahemelvaart in 1950, die huis se status na dié van Heilige Plek verander. Pous Johannes XXIII het later dié status bekragtig. Christene én Moslems vereer die huis.[18]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.