Hetiete

From Wikipedia, the free encyclopedia

Hetiete

Die Hetiete of Hittiete was 'n Anatoliese Indo-Europese volk wat in die Bronstydperk een van die eerste groot beskawings in Wes-Asië gevorm het. Hulle het waarskynlik van oorkant die Swartsee gekom[1] en hulle in die vroeë 2de millennium v.C. in die hedendaagse Turkye gevestig.

Hetitiese Ryk
1600 v.C.  1178 v.C. Flag
Thumb
Ligging of Hetiete
Die Hetitiese Ryk omstreeks 1400 v.C. in blou
Hoofstad Hattoesa
Taal/Tale Hetities, Loewies
Regering Monargie
Koning Labarna I (eerste)
Soeppiloelioema II (laaste)
Historiese tydperk Bronstydperk
 - Gevestig1600 v.C.
 - Stigting1600 v.C.
 - Ontbinding
 - Ontbind1178 v.C.

Hulle het 'n reeks state in Noordsentraal-Anatolië gevestig, insluitende die koninkryk Koessara (voor 1750 v.C.), die Kanesj- of Nesja-koninkryk (omstreeks 1750-1650 v.C.) en 'n ryk wat om Hattoesa gesentreer was (omstreeks 1650 v.C.).[2][3] Dit was in die moderne tyd as die Hetitiese Ryk of Hittitiese Ryk bekend. Dit het in die middel 4de eeu v.C. 'n hoogtepunt bereik onder Soeppiloelioema I, toe dit die grootste deel van Anatolië en dele van die Noord-Levant en Bo-Mesopotamië beslaan het.

Thumb
Die gerekonstrueerde stadsmuur van Hattoesa.

Tussen die 15de en 13de eeu v.C. was die Hetiete een van die oorheersende magte in die Naby Ooste en het hulle gebots met die Nuwe Ryk van Egipte, die Middel-Assiriese Ryk en die ryk Mitanni. Teen die 12de eeu v.C. was 'n groot deel van die Hetitiese Ryk deur die Assiriese Middelryk geannekseer, en die res is geplunder deur Frigiese nuwe aankomelinge in die streek. Van die laat 12de eeu v.C. af, tydens die verval van die Bronstydperk, het die Hetiete versplinter in verskeie klein onafhanklike state. Van hulle het tot die 8ste eeu v.C. bly bestaan voordat hulle voor die Nieu-Assiriese Ryk geswig het. Hulle afstammelinge het versplinter en is eindelik in die moderne bevolkings van die Levant en Mesopotamië opgeneem.[4]

Hetities (onder sy sprekers bekend as Nesjili, "die taal van Nesja") was 'n verlangse lid van die Anatoliese tak van die Indo-Europese taalfamilie. Saam met die nabyverwante Loewies is dit sover bekend die oudste Indo-Europese taal.[5]

Die geskiedenis van die Hetitiese beskawing is hoofsaaklik bekend uit tekste in wigskrif wat in voormalige Hetitiese gebiede ontdek is, en uit diplomatieke en kommersiële korrespondensie uit verskeie argiewe van Assirië, Babilonië, Egipte en die breër Midde-Ooste. Die ontsyfering van dié tekste was 'n belangrike gebeurtenis in die geskiedenis van Indo-Europese studies. Kultuurbande met die prehistoriese Skandinawië is ook al voorgestel.[6][7]

Moderne belangstelling in die Hetiete het toegeneem met die stigting van die Republiek Turkye in 1923. Die Hetiete het die aandag getrek van bekende Turkse argeoloë. In dié tyd het die nuwe veld Hetitologie ook die benamings van Turkse instelling beïnvloed, soos Etibank ("Hetitiese Bank") in staatsbesit,[8] en gelei tot die stigting van die Museum van Anatoliese Beskawings in Ankara, wat 200 km wes van die Hetitiese hoofstad, Hattoesa, gebou is en die wêreld se omvattendste uitstalling van Hetitiese kuns en artefakte bevat.

Etimologie

Die Hetiete het hulle koninkryk Hattoesa (Hatti in Akkadies) genoem. Dié naam is afgelei van die Hattiërs, 'n vroeëre volk wat Sentraal-Anatolië tot aan die begin van die 2de millennium v.C. bewoon en regeer het, en 'n onverwante taal, Hatties, gepraat het.[9] Die moderne konvensionele naam "Hetiete" kom van die aanvanklike identifikasie van die volk van Hattoesa deur 19de-eeuse argeoloë met die Bybelse Hetiete.

Die Hetiete sou hulleself eerder iets soos "Nesjiete" genoem het, na hulle stad Nesja, wat sowat 200 jaar lank floreer het totdat 'n koning met die naam Labarna homself omstreeks 1650 v.C. tot Hattoesili I ("die man van Hattoesa") hernoem en Hattoesa sy hoofstad gemaak het.[10]

Argeologiese ontdekkings

Thumb
'n Bronsvoorwerp uit 'n pre-Hetitiese grafkelder van die 3de millennium v.C. (Museum van Anatoliese Beskawings, Ankara).
Thumb
'n Hetitiese ivoorsfinks, 18de eeu v.C.

Bybelse agtergrond

Voor die argeologiese ontdekkings wat die Hetitiese beskawing onthul het, was die enigste inligtingsbron oor hulle die Hebreeuse Bybel. Francis William Newman het die mening uitgespreek, wat algemeen in die vroeë 19de eeu geglo is, dat "geen Hetitiese koning in mag kon vergelyk met die koning van Juda nie..."[11]

Namate die ontdekkings in die tweede helfte van die 19de eeu die skaal van die Hetitiese koninkryk ontbloot het, het Archibald Sayce gemeen die Anatoliese bskawing was, eerder as om dit met Juda te vergelyk, "waardig om met die verdeelde Koninkryk Egipte" vergelyk te word, en dat dit "veel magtiger as Juda was".[12] Sayce en ander geleerdes het ook opgemerk Juda en die Hetiete was in die Hebreeuse tekste nooit vyande nie; in 2 Konings verskaf hulle sederhout, strydwaens en perde aan die Israeliete, en in Genesis was hulle vriende en bondgenote van Abraham. Urija die Hetiet was in Dawid se weermag en het getel onder een van sy "dapper manne" in 1 Kronieke (11:41).

Aanvanklike ontdekkings

Die Franse geleerde Charles Texier het die eerste Hetitiese ruïnes in 1834 ontdek, maar het hulle nie as sulks geïdentifiseer nie.[8][13]

Die eerste argeologiese bewyse van die Hetiete verskyn in tablette wat by die handelspos Kanesj (nou Kültepe in Turkye) ontdek is. Dit bevat rekords van handel tusen Assiriese handelaars en 'n sekere "land Hatti". Sommige name op die tabelle was nie Hatties of Assiries nie, maar duidelik Indo-Europees.[14]

Thumb
'n Skuinste by Hattoesa.
Thumb
'n Drinkbeker in die vorm van 'n vuis; 1400-1380 v.C., Museum van Beeldende Kuns, Boston.

Die teks op 'n monument by Boğazkale deur 'n "volk van Hattoesas" wat die sendeling William Wright in 1884 ontdek het, het ooreengestem met hiëroglieftekste van Aleppo en Hama in Noord-Sirië. In 1887 het uitgrawings by Amarna in Egipte die diplomatieke korrespondensie ontbloot van farao Amenhotep III en sy seun, Achenaten. Twee briewe van 'n "koninkryk van Cheta" – wat skynbaar in dieselfde algemene gebied gevind is as die verwysing na die "land Hatti" – is in Akkadiese standaardwigskrif geskryf, maar in 'n onbekende taal.

Kort hierna het Sayce voorgestel dat Hatti of Chatti in Anatolies identies is met die "koninkryk Cheta" wat in dié Egiptiese tekste voorkom, sowel as met die Bybelse Hetiete. Sy identifikasie is in die loop van die 20ste eeu algemeen aanvaar en die naam "Hetiete" het verbind geraak met die beskawing wat by Boğazköy ontbloot is.[15]

Tydens sporadiese uitgrawings by Boğazköy (Hattoesa) wat in 1906 begin het, het die argeoloog Hugo Winckler 'n koninklike argief met 10 000 tablette ontdek. Daarop was Akkadiese wigskrif in dieselfde onbekende taal as die Egiptiese letters van Cheta, en dit het die identiteit van die twee name bevestig.

Hy het ook bewys die ruïnes by Boğazköy was die oorblyfsels van die hoofstad wat in 'n stadium Noord-Sirië beheer het.[16]

Onder toesig van die Duitse Argeologiese Instituut duur uitgrawings by Hattoesa voort sedert 1907, met onderbrekings gedurende die twee wêreldoorloë. Kültepe is suksesvol deur professor Tahsin Özgüç uitgegrawe, van 1948 tot met sy dood in 2005. Uitgrawings op kleiner skaal is ook in die omgewing van Hattoesa gedoen, insluitende die rotsheiligdom Yazılıkaya, wat verskeie rotsreliëfs bevat wat die Hetitiese heersers en die gode van die Hetitiese panteon uitbeeld.[17]

Geskrifte

Die Hetiete het 'n vorm van wigskrif gebruik bekend as "Hetitiese wigskrif". Tydens argeologiese ekspedisies na Hattoesa is hele stelle koninklike argiewe op wigskriftablette ontdek. Dit is in óf Akkadies, die diplomatieke taal van die tyd, óf die verskeie dialekte van die Hetitiese konfederasie geskryf.[18]

Thumb
Seremoniële houers in die vorm van die heilige bulle Hurri ("Dag") en Seri ("Nag"), ontdek by Hattoesa (16de eeu v.C.). (Museum van Anatoliese Beskawings.

Geografie

Die Hetitiese koninkryk was gesentreer om die grondgebied om Hattoesa en Nesja (Kültepe), bekend as die "land Hatti". Nadat Hattoesa die hoofstad geword het, is die gebied wat deur die draai in die Kızılırmakrivier omring word, beskou as die kerngebied van die ryk, en sommige Hetitiese wette maak 'n onderskeid tussen "hierdie kant van die rivier" en "daardie kant van die rivier".

Wes en suid van die kerngebied het die streek gelê wat in die vroegste Hetitiese tekste as "Loewija" bekend was. Dié naam is met die opkoms van die koninkryke Arzawa en Kizzoewatna met dié name vervang.[19] Tog het die Hetiete die taal wat in dié gebiede ontstaan het "Loewies" bly noem. In die noorde het die bergvolk bekend as die Kaskiërs gewoon en in die suidooste was die Horitiese ryk Mitanni.

Op sy hoogtepunt, tydens die bewind van Moersili II, het die Hetitiese ryk gestrek van Arzawa in die weste tot Mitanni in die ooste, en het dit baie van die Kaskiese gebiede in die noorde ingesluit tot so ver as Hajasa-Azzi in die verre noordooste en in die suide tot by Kanaän naby die suidelike grens met Libanon.

Geskiedenis

Oorsprong

Die voorouers van die Hetiete het tussen 4400 v.C. en 4100 v.C. na Anatolië gekom, toe die Anatoliese taalfamilie weggebreek het van (Proto)-Indo-Europees.[20] Volgens onlangse genetiese en argeologiese navorsing het Proto-Anatoliessprekers iewers tussen 5000 v.C. en 3000 v.C. in die streek aangekom.[21] Proto-Hetities het omstreeks 2100 v.C. ontwikkel[22] en Hetities self was waarskynlik tussen die 20ste en 12de eeu v.C.in Sentraal-Anatolië in gebruik.[23]

Thumb
Die Hetitiese Ryk. Rooi: uitbreiding omstreeks 1590 v.C.; oranje: uitbreiding omstreeks 1300 v.C. Die Egiptiese invloedsfeer is groen.

Hetiete het gedurende die Bronstydperk in Anatolië saam met die Hattiërs en Horiete gewoon, óf deur verowering óf deur geleidelike assimilasie.[24][25]

Volgens ontledings deur David W. Anthony in 2007 het veewagters van die steppe wat argaïese Indo-Europees gepraat het, omstreeks 4200 tot 4000 v.C. na die laer Donauvallei versprei. Hulle het die verval van Ou Europa óf uitgebuit óf veroorsaak.[26] Anthony het gedink hulle tale "het moontlik argaïese Proto-Indo-Europese dialekte ingesluit, van die soort wat later gedeeltelik in Anatolië bewaar gebly het,"[27] en dat hulle afstammelinge later op 'n onbekende tyd na Anatolië getrek het, maar waarskynlik in 3000 v.C.[28]

J.P. Mallory het ook gedink dit is waarskynlik dat die Anatoliërs die Nabye Ooste in die 3de millennium v.C. uit die noorde bereik het, óf deur die Balkan óf deur die Kaukasus.[29] Volgens Parpola het die verskyning van Indo-Europeessprekendes uit Europa in Anatolië, en die verskyning van die Hetiete, verband gehou met die latere migrasies van Proto-Indo-Europeessprekendes van die Jamnaja-kultuur na die Donauvallei omstreeks 2800 v.C.,[30][31] wat ooreenstem met die tradisionele aanvaarding dat die Anatoliese Indo-Europese taal iewers in die 3de millennium v.C. in Anatolië bekend gestel is.[32]

Petra Goedegebuure het egter gewys Hetities het baie woorde wat met landbou verband hou, geleen van kulture aan hulle oostelike grens, wat 'n bewys is dat hulle 'n roete oor die Kaukasus gebruik het.[33] David Reich, Iosif Lazaridis, Songül Alpaslan-Roodenberg et al. het gedemonstreer dat die Hetitiese roete wel oor die Kaukasus moes gewees het en nie die Balkan nie, aangesien die Jamnaja-uitbreiding na die Balkan 'n komponent van Oostelike jagter-versamelaarsafkoms behels het wat in geen antieke Anatoliese DNS-monsters voorkom nie. Dit dui ook daarop dat die Hetiete en hulle neefs van die Proto-Indo-Europeërs afgesplits het voor die vorming van die Jamnaja, wat met Oostelike jagter-versamelaars verbaster het.[34]

Dit het 'n tyd geduur voordat die Hetiete hulleself gevestig het ná die val van die Oud-Assiriese Ryk in die middel 18de eeu v.C. Aparte Hetitiese groepe het 'n paar eeue lank bestaan en was gewoonlik in verskeie stede gesentreer. Sterk leiers met hulle sentrum in Hattoesa het egter toe die groepe byeengebring en groot dele van Sentraal-Anatolië verower om die Hetitiese koninkryk te vestig.[35]

Vroeë tydperk

Thumb
Die Sfinkspoort (Alaca Höyük, Çorum, Turkye).
Thumb
Reliëfs en hiërogliewe in kamer 2 by Hattoesa wat deur Soeppiloelioema II, die laaste koning van die Hetiete, laat bou en versier is.
Thumb
'n Hetitiese strydwa, van 'n Egiptiese reliëf.

Die Hetitiese staat is tydens die Middel-Bronstydperk (omstreeks 1900-1650 v.C.) gestig uit baie klein state in Noordsentraal-Anatolië, aan die oewers van die Kızılırmakrivier.[36] Die vroeë geskiedenis van die Hetitiese koninkryk is bekend van vier kussingvormige tablette (geklassifiseer as KBo 3.22, KBo 17.21+, KBo 22.1 en KBo 22.2). Dit is nie in Hattoesa geskep nie, maar waarskynlik in Koessara, Nesja, of op 'n ander terrein in Anatolië. Dit kon in die 18de eeu v.C. geskryf gewees het,[37][3] in Oud-Hetities, en drie van hulle gebruik die sogenaamde "Ou Skrif" (OS).[38] Die meeste van die oorblywende tablette het net bewaar gebly as Akkadiese afskrifte wat in die 14de en 13de eeu v.C geskep is. Dit onthul 'n mededinging in twee takke van die koninklike familie tot in die Middelkoninkryk; 'n noordelike tak wat eers in Zalpoewa en daarna in Hattoesa gebaseer was, en 'n suidelike tak wat gebaseer was in Koessara (wat steeds nie gevind is nie) en die voormalige Assiriese kolonie Kanesj. Hulle word deur hulle name onderskei: die noordelike tak het Hattiese name behou, en die suidelike tak het Hetitiese en Loewiese name aangeneem.[39]

Zalpoewa het Kanesj in 1833 v.C. onder Oehna die eerste keer aangeval.[40] In dié tyd van die handelaarspos, toe die handelaarskolonie van die Oud-Assiriese Ryk nog op die terrein floreer het, en voor die verowering van Pithana, het die volgende konings oor Kanesj regeer: Hoermili (voor 1790 v.C.), Pahanoe (vir 'n kort tyd in 1790 v.C.), Inar (omstreeks 1790-'75 v.C.) en Warsama (omstreeks 1775-'50 v.C.).[41]

Een stel tablette, saam bekend as die Anittateks, begin deur te vertel hoe Pithana, die koning van Koessara, die naburige Nesja (Kanesj) omstreeks 1750 v.C. aangeval en verower het.[42][43] Die ware onderwerp van die tabblette is egter Pithana se seun, Anitta (bewind: 1745-'20 v.C.).[44] Hy het sy pa se werk voortgesit en verskeie noordelike stede verower, insluitende Hattoesa, wat hy vervloek het, en Zalpoewa. Dit was waaarskynlik propaganda vir die suidelike tak van die koninklike familie teen die noordelike tak, met Hattoesa as hoofstad.[45] Nog 'n stel, die Verhaal van Zalpoewa, steun Zalpoewa en skeld die latere Hattoesili I kwyt van die aanklag dat hy Kanesj verwoes het.[45]

Anitta is opgevolg deur Zoezzoe (bewind: 1720-'10 v.C.,[44] maar iewers in 1710-'05 v.C. is Kanesj verwoes, en daarmee saam die lang bestaande Assiriese handelstelsel.[40] 'n Edelfamilie van Koessara het oorleef om die Zalpoewa/Hattoesa-familie teen te staan, maar dit is onseker of hulle direkte afstammelinge van Anitta was.[46]

Ook die lords van Zalpa het bly leef. Hoezzija I, 'n afstammeling van Hoezzija van Zalpa, het Hatti oorgeneem. Sy skoonseun, Labarna, 'n lid van die suidelike Hoerma, het die troon gesteel, maar het Hoezzija se kleinseun Hattoesili as sy eie seun en erfenaam aangeneem. Die ligging van Hoerma is moontlik in die berge suid van Koessara.[47]

Ou Ryk

Thumb
'n Skuinste by Hattoesa.

Die stigting van die Hetitiese koninkryk word toegeskryf aan óf Labarna I óf Hattoesili I (laasgenoemde se persoonlike naam kon ook Labarna gewees het),[48] wat die gebied suid en noord van Hattoesa verower het. Hattoesili I het veldtogte gevoer tot by die Semitiese Amoritiese koninkryk Jamchad in Sirië, waar hy die hoofstad, Aleppo, aangeval maar nie ingeneem het, nie. Hattoesili I het Hattoesa eindelik verower en kry die eer vir die stigting van die Hetitiese ryk.

"Hattoesili was koning en sy seuns, broers, skoonfamilie, familie en troepe was almal verenig. Wanneer hy op 'n veldtog gegaan het, het hy die vyand se land met dwang beheer. Hy het die lande die een ná die ander verwoes, hulle mag weggeneem en hulle die grense van die see gemaak. Wanneer hy van 'n veldtog teruggekeer het, het elk van sy seuns iewers na 'n land gegaan, en in sy hand het die groot stede floreer. Maar toe die prinse se diensknegte later korrup raak, het hulle begin om die eiendomme te verniel, permanent teen hulle meesters saam te sweer en hulle bloed te vergiet."

Dié uittreksel uit Die Edik van Telepinoe van die 16de eeu v.C. is bedoel om die vereniging, groei en vooruitgang van die Hetiete onder Hattoesili se bewind te illustreer. Dit illustreer ook die korrupsie van "die prinse", wat vermoedelik sy seuns was. Die gebrek aan bronne maak dit onseker oor hoe die korrupsie opgelos is. Op Hattoesili I se sterfbed het hy sy kleinseun Moersili I (of Moersjilisj I), as sy erfgenaam gekies.[49]

Thumb
Die İnandık-vaas, 'n groot Hetitiese terracottavaas met vier handvatsels en reliëftonele van 'n heilige huwelikseremonie (middel 17de eeu v.C., Museum van Anatoliese Beskawings.

Moersili het die verowerings van Hattoesili I voortgesit. In 1595 of 1587 v.C. het hy 'n groot strooptog met die Eufraatrivier af gevoer. Hy het by Assirië verbygegaan en Mari en Babilon geplunder en die Amoritiese heersers van die Ou Babiloniese Ryk afgesit. Eerder as om Babilonië by die Hetitiese grondgebied in te lyf, het hy beheer van Babilonië blykbaar aan sy Kassitiese bondgenote oorhandig, wat dit vir die volgende vier eeue regeer het. Weens vrees vir opstande tuis, het hy nie lank in Babilon vertoef nie. Dié lang veldtog het die hulpbronne van Hatti ooreis en die hoofstad in 'n toestand van byna-anargie gelaat. Moersili is deur sy swaer Hantili I in 'n sluipmoordaanval vermoor tydens sy reis terug na Hattoesa of kort ná sy terugkeer, en die Hetitiese koninkryk is in chaos gedompel.

Hantili het die troon oorgeneem. Hy het verskeie moordpogings op hom oorleef, maar sy gesin nie. Sy vrou en hulle seun is vermoor. Ook ander lede van die koninklike familie is vermoor deur Zidanta I, wat toe self deur sy eie seun, Ammoena, vermoor is. Al die interne onrus in die koninklike familie het tot 'n afname in mag gelei. Die Horiete, 'n volk wat in die bergstreek van die Bo-Tigris en die Eufraat in die moderne Suidoos-Turkye gewoon het, het die situasie uitgebuit en Aleppo en die omringende streek verower, sowel as die kusstreek van Adanija, wat hulle tot Kizzoewatna (later Silisië) hernoem het.

Deur die hele oorblywende deel van die 16de eeu v.C. het binnelandse rusies en oorlog met die Horiete die Hetitiese konings tuis gehou. Die Horiete het die sentrum van mag in Anatolië geword.[50][51]

Die Hetiete het 'n swak fase binnegaan van obskure rekords, onbelangrike leiers en kleiner domeine. Dié patroon van uitbreiding onder sterk konings, afgewissel deur krimping onder swakkes, het homself oor en oor herhaal in die Hetitiese koninkryk se 500-jarige geskiedenis. Dit maak dit moeilik om laasgenoemde tydperke te rekonstrueer.

Die volgende noemenswaardige koning ná Moersili I was Telepinoe (omstreeks 1500 v.C.), wat 'n paar oorwinnings in die suidweste behaal het deur hom blykbaar by een Horitiese staat (Kizzoewatna) te skaar teen 'n ander (Mitanni). Telepinoe het ook probeer om die linies van opvolging vas te stel.[52]

Middelryk

Thumb
Twaalf Hetitiese gode van die onderwêreld in Yazılıkaya, 'n heiligdom van Hattoesa.

Die laaste monarg van die Ou Ryk, Telepinoe, het tot omstreeks 1500 v.C. regeer. Sy bewind was die einde van die "Ou Ryk" en die begin van die tydperk bekend as die "Middelryk".[53]

Die tydperk van die 15de eeu v.C. is grootliks onbekend, met min rekords wat behoue gebly het.[54] Deel van die rede vir beide die swakheid en onbekendheid is dat die Hetiete voortdurend aangeval is, hoofsaaklik deur die Kaskiërs, 'n nie-Proto-Indo-Europese volk wat hulle aan die kuslyn van die Swartsee gevestig het. Die hoofstad is weer eens verskuif, eers na Sapinoewa en toe na Samoeha. Daar is 'n argief in Sapinoewa, maar dit is nog nie behoorlik vertaal nie.

Dié tydperk het gelei tot die ware Hetitiese Ryk, vanaf die bewind van Toedhalija I van omstreeks 1430 v.C. af.

Een innovasie wat tot die eer van die vroeë Hetitiese heersers strek, is hulle vermoë om verbonde met naburige state te sluit. Die Hetiete was van die eerste bekende pioniers in die kuns van internasionale politiek en diplomasie. Dit is ook in dié tyd dat die Hetitiese godsdiens verskeie gode en rituele van die Horiete aangeneem het.

Nuwe Ryk

Met die bewind van Toedhalija I (wat dalk nie die eerste koning met dié naam was nie) het die Hetitiese koninkryk weer eens herrys uit die stof van onbekendheid en het dit die tydperk van die "Hetitiese Ryk" binnegegaan. In dié tyd was daar baie veranderings, waarvan een van die belangrikstes 'n versterking van die koningskap was. Die vestiging van die Hetiete het voortgeduur.[55] Die Hetiete het egter geneig om hulle in die ouer lande van Suid-Anatolië te vestig in plaas van in lande aan die Egeïese See. Namate dié vestiging gevorder het, is bondgenootskappe gesluit met naburige volke.[55]

Thumb
Toedhalija IV ('n reliëf in Hattoesa).

In dié tydperk het die titel koning oorerflik geword. Die koning het 'n "bonatuurlike aura" aangeneem en hy is deur die Hetiete as "My Son" aangespreek. Die konings van dié tydperk het begin dien as hoëpriesters vir die hele koninkryk. Hulle het elke jaar deur die Hetitiese heilige stede getoer, feeste hanter en 'n oog gehou oor die versorging van die heiligdomme.[55]

Tydens sy bewind (omstreeks 1400 v.C.) het koning Toedhalija I weer 'n bondgenootskap met Kizzoewatna gesluit, toe die Horitiese state Aleppo en Mitanni oorwin en na die weste uitgebrei ten koste van Arzawa ('n Loewiese staat).

Thumb
'n Presiese replika van 'n Hetitiese monument, omstreeks 1300 v.C. (Museum van Anatoliese Beskawings).

Nog 'n swak fase het ná Toedhalija I gevolg, en die vyande het van alle kante gekom en selfs Hattoesa verwoes. Onder Soeppiloelioema I (omstreeks 1350 v.C.) het die ryk weer sy voormalige glorie herwin, en Aleppo is weer verower. Met sy seuns in beheer van al sy nuwe verowerde stede, en Babilonië nog in die hande van sy Kassitiese bondgenoot, was Soepiloelioema die grootste makelaar van mag in die bekende wêreld, saam met Assirië en Egipte. Dit was nie lank voordat Egipte 'n bondgenootskap gesoek het nie deur 'n huwelik tussen 'n seun van hom en die weduwee van Toetankamen. Dié seun is egter vermoor voordat hy hom in 'n huwelik kon begeef.

Die Assiriese Middelryk (1365-1050 v.C.) se mag het weer begin groei met die troonbestyging van Assoer-oeballit I in 1365 v.C. Hy het Mattiwaza aangeval en die koning van Mitanni verslaan ondanks die pogings van die Hetitiese koning Soeppiloelioema I, wat nou die groeiende Assiriese mag gevrees het, om sy troon met militêre steun te red. Assirië het Mitanni en die land van die Horiete oorgeneem en dit het hom in staat gestel om die grense te oorskry van Hetitiese grondgebied in oostelike Klein-Asië. Adad-nirari I het ook Karkemisj en Noordoos-Sirië, wat onder beheer van die Hetiete was, geannekseer.[56]

Tydens Soeppiloelioema I se bewind is die Hetitiese Ryk getref deur 'n epidemie van tularemie (knaagdierpes). Dit het die Hetiete dekades lank aangetas en die dood van Soeppiloelioema I en sy opvolger, Arnoewanda II, gekos.[57]

Ná Soeppiloelioema se dood en die kort bewind van sy oudste seun, Arnoewanda II, het 'n ander seun, Moersili II, koning geword (omstreeks 1330 v.C.). Hy het 'n sterk posisie in die ooste geërf en het hom tot die weste gewend, waar hy Arzawa aangeval het. Op 'n punt toe die Hetiete deur die tularemie-epidemie verswak was, het Arzawa hulle aangeval. Die Hetiete het die aanval afgeweer deur besmette ramme na die aanvallers te stuur. Dit was die eerste aangetekende gebruik van biologiese oorlogvoering.[58][59]

Thumb
Die Egiptiese farao Ramses II bestorm die Hetitiese fort van Dapoer.

Slag van Kadesj

Hetitiese vooruitgang was hoofsaaklik afhanklik van beheer oor die handelsroetes en metaalbronne. Vanweë Noord-Sirië se belangrikheid vir die belangrike roetes wat die Silisiese poorte met Mesopotamië verbind het, was verdediging van dié gebied van die uiterste belang.

Dit is gou getoets deur die uitbreiding van Egipte onder Ramses II, wat gelei het tot die Slag van Kadesj tussen Egipte en die Hetiete. Die resultaat van die Slag van Kadesj is onseker, maar dit lyk of die tydige aankoms van Egiptiese versterkings 'n algehele oorwinning deur die Hetiete voorkom het.[60]

Die Egiptenare het die Hetiete gedwing om skuiling in die fort van Kadesj te soek, maar hulle eie verliese het voorkom dat hulle 'n beleg van die fort kon volhou. Dié slag het in die 5de jaar van Ramses (omstreeks 1274 v.C.) plaasgevind.

Val van die Hetiete

Thumb
Hetities-Egiptiese vredesverdrag (omstreeks 1258 v.C.) tussen Hattoesili III en Ramses II. Dit is die oudste bekende vredesverdrag wat bewaar gebly het (Istanboelse Argeologiese Museum).

Hierna het die mag van beide Egipte en die Hetitiese Ryk weer afgeneem vanweë die mag van Assirië.[61] Die Assiriese koning Salmaneser I het van die geleentheid gebruik gemaak om die Horiete en Mitanni te verower en sy land uit te brei tot by die bopunt van die Eufraat, terwyl die Hetitiese koning Moewatalli deur die Egiptenare besig gehou is. Die Hetiete het vergeefs probeer om Mitanni met militêre steun te behou.[56] Assirië was nou net so 'n groot bedreiging vir Hetitiese handelsroetes as wat Egipte ooit was.

Moewatalli se seun, Oerhi-Tesjoeb, het die troon bestyg en was sewe jaar lank koning Moersili III voordat hy ná 'n kort burgeroorlog deur sy oom, Hattoesili III, afgesit is. In antwoord op toenemende Assiriese besettings van Hetitiese grondgebied, het hy vrede met Ramses II (wat ook vir Assirië bang was) gesluit en 'n bondgenootskap met hom aangegaan deur vir hom sy dogter as vrou te gee.[61] Die Verdrag van Kadesj, een van die oudste volledige verdrae in die geskiedenis wat bewaar gebly het, het hulle grense in Suid-Kanaän bepaal en is in die 21ste jaar van Ramses (omstreeks 1258 v.C.) onderteken. Die bepalings van die verdrag sluit die huwelik van 'n Hetitiese prinses met Ramses in.[61][62]

Thumb
'n Chimera met 'n menslike kop en leeu se lyf; laat Hetitiese tydperk (Museum van Anatoliese Beskawings).

Hattoesili se seun Toedhalija IV was die laaste sterk Hetitiese koning wat daarin geslaag het om Assirië uit die Hetitiese hartland te hou, minstens in 'n mate, hoewel ook hy grondgebied aan hulle afgestaan het. Hy het die eiland Siprus tydelik geannekseer voordat dit ook in Assiriese hande beland het. Die laaste koning, Soeppiloelioema II, het ook 'n paar oorwinnings behaal.[63] Bryce beskou die koninkryk se val as 'n geleidelike agteruitgang, met Hattoesili se dood as die begin.[64]

Die Seevolke het reeds teen die Middellandse See begin afbeweeg; hulle het by die Egeïese See begin en tot in Kanaän gevorder. Hulle het die staat Filistia gestig, en Silisië en Siprus van die Hetiete afgeneem. In die proses het hulle hulle handelsroetes afgesny. Dit het die Hetitiese tuislande kwesbaar vir aanvalle uit alle rigtings gelaat, en Hattoesa is omstreeks 1180 v.C. tot op die grond afgebrand in 'n nuwe vlaag aanvalle, onder andere deur die Kaskiërs en Frigiërs. So het die Hetitiese Ryk uit die historiese rekords verdwyn en 'n groot deel van die grondgebied is deur die Assiriërs oorgeneem.[65] Hierbenewens het baie interne kwessies ook gelei tot die einde van die Hetitiese Ryk, wat deel van die groter verval van die Bronstydperk was.[66]

Tydperk ná die Hetitiese Ryk

Hoewel die Hetiete hierna uit Anatolië verdwyn het, het daar 'n paar sogenaamde Siries-Hetitiese state verskyn in Anatolië en Noord-Sirië. Hulle was die opvolgerstate van die Hetitiese Ryk. Die noemenswaardgiste Siries-Hetitiese state was dié by Karkemisj en Melid, met die regerende familie in Karkemisj wat vemoedelik 'n kadettak van die ou regerende Hetitiese linie was.

Die Siries-Hetitiese state het geleidelik onder beheer van die Nieu-Assiriese Ryk gekom (911-608 v.C.). Karkemisj en Melid is vasalstate van Assirië gemaak onder Salmaneser III (858-'23 v.C.), en ten volle in Sirië opgeneem tydens die bewind van Sargon II (722-'05 v.C.).

Regering

Thumb
Hetitiese bronsfigure van diere (Museum van Anatoliese Beskawings).

Die vroegste bekende konstitusionele monargie is deur die Hetiete ontwikkel.[67][68] Die hoof van die staat was die koning, gevolg deur sy regmatige erfgenaam. Die koning was die opperste heerser van die land; hy was 'n militêre bevelvoerder, regsgesag en 'n hoëpriester.[69]

'n Paar amptenare het egter onafhanklike gesag uitgeoefen oor verskeie takke van die regering. Een van die belangrikste van dié ampte was dié van die gal mesedi (hoof van koninklike lyfwagte), wat gewoonlik 'n lid van die koninklike familie was.[70] Dit is vervang deur die gal gestin (hoof van wynkelders), ook 'n lid van die familie. Die hoof van die koninkryk se burokrasie was die gal dubsar (hoof van die skribas).

Bevolking

Bryce, wat in sy boek 'n vorige raming van die bevolking van 9 000 tot 15 000 vir Hattoesa aanhaal, sê onlangse navorsing deur Jürgen Seeher dui daarop dat die bevolking nader aan 2 300 tot 4 600 was, met 'n maksimum van hoogstens 5 000 tydens spesiale geleenthede. Vir die hele koninkryk gee Zsolt Simon 'n syfer van 140 000 tot 150 000, en Bryce self 200 000+. Hy merk op dat Hatti 47 500 troepe vir Kadesj kon bymekaarmaak en altesaam ~100 000 vir militêre diens tydens oorloë en veldtogte (hoewel almal nie noodwendig geveg het nie). Die boek bespreek die bevolking tydens die bewind van Hattoesili III, en hoewel Bryce nie spesifieke datums gee nie, word verstaan dat die getalle vir dié bewind geld.[71]

Taal

Thumb
'n Stamboom van die Indo-Europese tale, in volgorde van eerste tot laaste bevestiging. Hetities behoort tot die familie Anatoliese tale en is die oudste geskrewe Indo-Europese taal.

Die Hetiete se taal is sedert omstreeks die 19de eeu v.C. op rekord – tot omstreeks 1100 v.C. Hetities is die eerste bevestigde lid van die Anatoliese tak van die Indo-Europese taalfamilie. Geïsoleerde Hetitiese leenwoorde en talle voorname verskyn van so vroeg as die 20ste eeu v.C. in Akkadies.

Die taal van die Hattoesa-tablette is eindelik ontsyfer deur 'n Tsjeggiese linguis, Bedřich Hrozný (1879-1952), wat sy resultate op 24 November 1915 in Berlyn aangekondig het. Sy boek oor die ontdekking is in 1917 gepubliseer met die titel Die Taal van die Hetiete; sy Struktuur en Lidmaatskap in die Indo-Europese Taalfamilie.[72]

Die ontsyfering het gelei tot die bevestiging van die laringaalteorie in Indo-Europese linguistiek, wat dekades tevore voorspel is. Vanweë sy struktuur en fonologie het somige vroeë filoloë, veral Warren Cowgill, voorgestel dit moet as 'n sustertaal van Indo-Europese tale (Indo-Hetities) geklassifiseer word, eerder as 'n dogtertaal. Teen die einde van die Hetitiese Ryk het Hetities 'n skryftaal van administrasie en diplomatieke korrespondensie geword. Die bevolking van die grootste deel van die Hetitiese Ryk het in dié tyd Loewies gepraat: nog 'n Indo-Europese taal van die Anatoliese familie wat wes van die Hetitiese streek ontstaan het.[73]

In Hetities is baie leenwoorde, veral godsdienstige woorde, van die nie-Indo-Europese Horities en Hatties. Laasgenoemde was die taal van die Hattiërs, die plaaslike bewoners van die land Hatti voordat hulle deur die Hetiete opgeneem of verplaas is. Heilige en magiese tekste van Hattoesa is dikwels in Hatties, Horeties en Loewies geskryf, selfs nadat Hetities die norm vir ander skryfwerk geword het.

Thumb
'n Hert simboliseer 'n manlike god.

Godsdiens en mitologie

Hetitiese godsdiens en mitologie word sterk beïnvloed deur hulle Hattiese, Mesopotamiese, Kanaänitiese en Horitiese eweknieë. In vroeëre tye kon Indo-Europese elemente steeds duidelik onderskei word.

Stormgode was prominent in die Hetitiese panteon. Na Tarhoent (die Horitiese Tesjoeb) is verwys as "Die Veroweraar", "Koning van die Hemele" en "Heer van die land Hatti". Hy was die hoofgod en sy simbool was die bul.

As Tesjoeb is hy uitgebeeld as 'n bebaarde man wat oor twee berge staan en 'n welpie vashou. Hy was die god van gevegte en oorwinning, veral oor 'n buitelandse mag.[74] Tesjoeb was ook bekend vir sy stryd teen die slang Illoejanka.[75]

Die Hetitiese gode is vereer met feeste soos die Poeroeli in die lente, die noentarrijasjas-fees in die herfs en die KI.LAM-fees van die poorthuis, waar beelde van die Stormgod en tot 30 ander idole deur die strate geparadeer is.[76]

Bybelse Hetiete

Die Bybel verwys in verskeie verse na die Hetiete. Dit is onduidelik wat die verhouding tussen dié volk en die Hetiete van die Bronstydperk is. In sommige verse lyk dit of die Bybelse Hetiete hulle eie koninkryke gehad het wat skynbaar buite die geografiese Kanaän geleë was, en magtig genoeg was om 'n Siriese leër te laat vlug.

Dit lyk of die Bybelse Hetiete in dié verse na die Siries-Hetitiese state van die Ystertydperk verwys. In die meeste gevalle waar hulle genoem word, woon hulle egter skynbaar tussen die Israeliete – Abraham koop 'n stuk grond by die Hetiet Efron om 'n begraafplek te hê (Genesis 49:30), en Urija die Hetiet was een van die dapper manne in Dawid se weermag (1 Kronieke 11:41). Die aard van dié etniese groep is onduidelik, maar is al vertolk as 'n plaaslike Kanaänitiese stam wat die Hetitiese kultuurinvloed geërf het by die Siries-Hetitiese koninkryke in die noorde.[77][78]

Ander Bybelse geleerdes meen die Hetiete van die Bronstydperk word in die Hebreeuse Bybel en die Apokriewe boeke die "Kittiërs" genoem, volgens die Afrikaanse Bybel 'n volk uit Griekeland en afstammelinge van Jafet (Genesis 10:4).[79]

Verwysings

Nog leesstof

Skakels

Loading related searches...

Wikiwand - on

Seamless Wikipedia browsing. On steroids.