From Wikipedia, the free encyclopedia
Gramvlek of Gramkleuring, ook Gram se metode genoem, is 'n metode van kleuring wat gebruik word om bakteriese spesies in twee groot groepe te klassifiseer: Gram-positiewe bakterieë en Gram-negatiewe bakterieë. Die naam kom van die Deense bakterioloog Hans Christian Gram, wat die tegniek in 1884 ontwikkel het.[1]
Vrywaring: Die mediese inligting verskaf op Wikipedia dien slegs as 'n riglyn en dra geen waarborg van feitelike korrektheid nie. Enige vrae of klagtes oor u persoonlike gesondheid behoort na 'n dokter verwys te word. |
Gramvlekke onderskei bakterieë deur die chemiese en fisiese eienskappe van hul selwande. Gram-positiewe selle het 'n dik laag peptidoglikaan[Nota 1] in die selwand wat die primêre vlek, kristalviolet, behou. Gram-negatiewe selle het 'n dunner peptidoglikaanlaag wat die kristalviolet toelaat om uit te spoel met byvoeging van etanol. Hulle word pienk of rooi gekleur deur die teenvlek, gewoonlik safranien of fuchsien.[2] Lugol se jodiumoplossing[Nota 2] word altyd bygevoeg na toevoeging van kristalviolet om die binding van die vlek met die selmembraan te versterk.
Gramvlekke is byna altyd die eerste stap in die voorlopige identifikasie van 'n bakteriese organisme. Terwyl Gramkleuring 'n waardevolle diagnostiese hulpmiddel in beide kliniese en navorsingsinstellings is, kan nie alle bakterieë definitief deur hierdie tegniek geklassifiseer word nie. Dit gee aanleiding tot Gram-veranderlike en Gram-onbepaalde groepe.
Die metode is vernoem na sy uitvinder, die Deense wetenskaplike Hans Christian Gram (1853–1938), wat die tegniek ontwikkel het terwyl hy in 1884 saam met die Duitse patoloog en mikrobioloog Carl Friedländer in die lykshuis van die stadshospitaal in Berlyn gewerk het. Gram het sy tegniek bedink nie om een tipe bakterie van 'n ander te onderskei maar om bakterieë meer sigbaar te maak in gekleurde dele van longweefsel.[3] Hy het sy metode in 1884 gepubliseer en in sy kort verslag die waarneming ingesluit dat die tifusbakterie nie die vlek kleur behou het nie.[4]
Gramkleuring is 'n bakteriologiese laboratoriumtegniek[5] wat gebruik word om bakteriese spesies in twee groot groepe (gram-positief en gram-negatief) te onderskei op grond van die fisiese eienskappe van hul selwande.[6] Gramvlekke word nie gebruik om archaea te klassifiseer nie, aangesien hierdie mikroörganismes wyd uiteenlopende reaksies lewer wat nie hul filogenetiese groepe volg nie.[7]
Sommige organismes is gram-veranderlik (wat beteken dat hulle negatief of positief kan vlek); sommige is nie gekleur met een van die kleurstowwe wat in die Gram-tegniek gebruik word nie en word nie gesien nie. In 'n moderne omgewings- of molekulêre mikrobiologie-laboratorium word die meeste identifikasie gedoen met behulp van genetiese volgordes en ander molekulêre tegnieke, wat baie meer spesifiek en insiggewend is as differensiële kleuring.
Gramvlekke word op liggaamsvloeistof of biopsies uitgevoer wanneer infeksie vermoed word. Gramvlekke lewer baie vinniger resultate as om bakterieë te kweek, en is veral belangrik wanneer infeksie 'n belangrike verskil in die pasiënt se behandeling en prognose sal maak; voorbeelde is serebrospinale vloeistof vir breinvliesontsteking en sinoviale vloeistof[Nota 3] vir septiese artritis.[Nota 4][8][9]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.