From Wikipedia, the free encyclopedia
Govan (['gʌvən]; Skots-Gaelies: Baile a' Ghobhainn) is 'n distrik, parogie en voormalige burgh (selfregerende munisipale entiteit) wat tans deel uitmaak van Glasgow, Skotland. Dit is 2,5 myl (4 km) wes van die middestad teen die suidoewer van die Clyderivier en teenoor die monding van die Kelvinrivier en die distrik Partick geleë. Histories het dit deel uitgemaak van die graafskap Lanark.
Govan Baile a' Ghobhainn | |
---|---|
Stedelike distrik | |
Govan se raadsaal | |
Koördinate: 55°41′51″N 4°18′30″W | |
Land | Verenigde Koninkryk |
Land | Skotland |
Stadsraad | Stadsraad van Glasgow |
Bevolking | |
• Totaal | 5 860 (2 015) |
• Digtheid | 3 595/km2 (9 310/vk. myl) |
Tydsone | UTC+0:00 (MGT) |
• Somertyd | UTC+1:00 (BST) |
Poskode | G51 |
Skakelkodes | 0141 |
Volgens Middeleeuse legendes het Konstantyn, 'n 7de eeuse koning van Strathclyde, in Govan 'n klooster volgens die reël van die Ierse sendeling Columbanus gestig. Gedurende die Middeleeue het 'n veerboot Govan met Partick verbind om in die seisoenale behoeftes van beesdrywers te voorsien. In die 18de en 19de eeu het tekstielmeule en steenkoolmynbou tot die vernaamste bedrywe gegroei. Hulle is in die vroeë 19de eeu verbygesteek deur skeepsbou.[1]
In 1864 is die status van burgh aan Govan toegeken wat van die nedersetting die vyfde grootste sodanige munisipaliteit in Skotland gemaak het. In 1901 was Govan die sewende grootste nedersetting in Skotland. In 1912 is dit by Glasgow ingesluit.
Tot in die 19de eeu was Govan 'n betreklik klein nedersetting met rietdakhuise. Industrialisering en verstedeliking het met die vestiging van 'n skeepsboubedryf in Govan begin, en die inwonertal het van slegs sowat 2 000 teen die begin van die 19de eeu tot 9 000 in 1864 en nagenoeg 60 000 teen die middel van die 1880's gestyg. Een van die nuwe ondernemings, Fairfield Shipbuilding and Engineering Company, of Fairfield's soos dit meestal kortweg genoem is, het tot die grootste skeepswerf ter wêreld gegroei wat 5 000 werkers in diens gehad het. Fairfield's het later met ander werwe saamgesmelt om in 1968 Upper Clyde Shipbuilders te vorm, maar sy kantoorgeboue het as argitektoniese erfenis bewaar gebly en is in kantore omgeskep.
In Govan is tot op hede 'n skeepswerf in bedryf waar BAE Systems Maritime skepe vir die Koninklike Vloot (Royal Navy) bou.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.