Remove ads
From Wikipedia, the free encyclopedia
Die slag van Biddulphsberg is genoem na die geveg wat op 29 Mei 1900 plaasgevind het in die Tweede Vryheidsoorlog. Lt. Genl. Sir Leslie Rundle se mag, bestaande uit die 2nd Grenadier Guards, 2nd Scots Guards en sommige IY Companies, het teen die Boeremag onder Genl AI de Villiers by Biddulphsberg te staan gekom. Die Britse mag is verslaan met ongeveer 40 mans wat gesneuwel het en ongeveer 130 wat gewond is.
Die Boeremag was goed weggesteek en het op die Britte gewag toe Rundle se mag, voor dagbreek op 29 Mei, uit die rigting van Senekal opgeruk het. Tydens die volgende paar ure het die Boere, Rundle se manne groot verliese toegedien, met die verliese wat vererger is deur die uitwerking van ‘n verwoede veldbrand wat oor die Britse linies gevee het.
Boere-veterane het na die gebeure as die “veldbrandslag” verwys. [1]
Biddulphsberg is geleë tussen Bethlehem en Senekal. Dit is 'n 250 meter hoë heuwel, 13 kilometer oos van Senekal, soos die kraai vlieg. Biddulphsberg is 'n groot plat-top, ruitvormige berg, waar die noordwestelike punt 'n bult is. Dit staan 250 meter bo die vlakte. Die suidoostelike voorhoof van die berg kyk uit oor 'n lang uitloper van wisselende breedte. Dit lê aan die noordekant van die Senekal-Bethlehem-pad en aan die suidkant lê die plat koppie, Tafelkop.[2]
Senekal het, in 1900, uit ongeveer vyf-en-twintig geboue, insluitend 'n kerk, bestaan. Dit is geleë op 'n strook grond weswaarts van waar die Sandrivier was, en 'n steil uitloper, sewentig meter hoog, na die ooste (sien kaart).
Vroeg in Mei 1900 is ‘n Britse mag van 11 000 man onder leiding van Luitenant-Generaal Sir Leslie H Rundle teen die Oos-Vrystaatse burgers in die veld ontplooi. Hulle opdrag was om die Boere in ‘n noordoostelike rigting terug te dryf sodat hulle nie weer suidwaarts kan deurbreek nie. [2]
Nadat die Britse magte by Wepener en Ladybrand deurgebreek het, het die Vrystaatse kommando's na Ficksburg en Senekal teruggeval. Die Boeremagte op Senekal het hulle magte opgestel in die omgewing van Tafelkop, 6 kilometer oos van Senekal. Teen die aand van 24 Mei 1900 was die Britse bevelvoerder, Rundle, se hoofkwartier gestig op die plaas “Kopjeskraal”, omtrent 28 kilometer vanaf Senekal op die pad na Marquard. Die Boere, onder Genl. A.I. de Villiers, het geen weerstand teen die Britse opmars gebied nie en het stadig noordwaarts teruggetrek.
Vroeg die oggend van 25 Mei, het Rundle se mag vanaf “Kopjeskraal” na Senekal vertrek, met Generaal Barrington B Campbell se brigade vooraan, en ‘n halfdag se mars agter hom, Generaal J E Boyes se brigade. Majoor HS Dalbiac, met sestigtal manskappe, was vooruit gestuur om die nodige verkenningswerk te doen. Laasgenoemde was oorversekerd en onverskrokke en het hom hom op ‘n galop gehaas na Senekal waar hy ongeveer 10:00 arriveer het. Hy het sy manskappe beveel om te stop en alleen die dorp binnegery. Hy het Senekal oënskynlik vry van vyandige magte gevind en het dertig minute later na sy manskappe teruggekeer, waarna hulle almal deur die dorp gegaan het. Hy het dadelik vier buiteposte rondom die dorp gestig en die Vrystaatse vlag verwyder. Hierdie groepie Britte het toe begin om wapens te konfiskeer onder inwoners van Senekal. Hulle het ook burgers bymekaar gemaak wat vrywilliglik oorgegee het. Majoor Ashton, een van Rundle se stafoffisiere, het intussen arriveer en met hierdie taak gehelp.
Omstreeks 13:00 is die stilte skielik verbreek deur geweervuur vanaf Sandkop, die koppie reg agter Senekal, waar een van die Britse buiteposte ingerig was. Dit was voorafgegaan deur die opmars van twee groepe Boere, een vanaf 'n plaas na die ooste, direk na die uitloper, en die ander het langs die spruite na die suide gekruip. Toe Maj Dalbiac die nuus ontvang, het hy haastig ‘n paar manne bymekaar gemaak. Minder as dertig man het aangery, van wie twee tydens die bestyging van die koppie gewond is. Hulle het die koppie vanaf die suidekant uitgejaag. Hulle het agter die geluid van die geweervuur aangery en tot binne 100 meter van die Boere gekom, laasgenoemde het stellings ingeneem net onder die kruin van die uitloper. Die Boere het hierdie wagpos vanuit die noorde en suide bestorm en Dalbiac het reg in die kruisvuur van hierdie twee groepe ingejaag, met noodlottige gevolge. Wat hier gebeur het, was dat die Boere, oënskynlik, Senekal in ‘n noordelike rigting verlaat het, juis toe die Britte die dorp vanaf Marquard se rigting ingekom het. Net nadat die Britte mooi op hulle gemak was, het die Boere, oor die randjie van die huidige plaas “Jonkershof”, teruggekeer en hul stellings reg bokant die huidige kwekery, ingeneem.
Dalbiac was een van die eerstes wat doodgeskiet is, met ‘n skoot deur die nek, en drie ander Britte het ook kort daarna gesneuwel. Hy is gevind langs die vyfde paal van 'n telegraaflyn wat oor die uitloper gaan. Sersant FW Shells, wat saam met Dalbiac die uitloper bestyg het, is ook dood. Sy liggaam is langs die negende telegraafpaal gevind. Die res van die mans het op die grond gelê. Hulle het geen beskutting gehad, behalwe die kort gras, wat geen beskerming gebied het nie.
Nog mans is gewond. Manskap HS Deane, wat opgestaan het om te mik, is op slag dood. Die Boere het 'n intense koeëlreën afgevuur en die Britse mag, wat boonop geweervuur van hul regterkant begin ervaar het, het Boere na hul agterkant sien rondkruip. Die Britte was bo-op die gelykte van die kop terwyl die Boere agter rotse en klippe geskuil het. Oorgawe is eers ná heelwat bespreking oorweeg en kort daarna het dertien mans besluit om hul wapens neer te lê en is gevange geneem deur die Boere. Sersant-Majoor Roller en 6 manskappe, waarvan 1 gewond was, het egter daarin geslaag om te ontsnap en skuiling te vind agter ‘n klipheining van een van die huise aan die suid-westelike kant van die dorp, vanwaar hulle hulself vir ‘n uur verdedig het.
Die Boere het besluit om hulle nie agterna te sit nie en het eerder reëlings getref vir die Britse gewondes. Dié is in beheer van die dorpsdokter gelaat. ’n Ambulans het hulle na ’n hospitaal geneem wat in vredestyd as ‘n skoolhuis gebruik is.
Net nadat die Boere met hulle krygsgevangenis die koppie verlaat en vanaf die uitloper na die ooste teruggetrek het, het die artillerie van die Britse hoofmag opgedaag om Sandkop te bestook. Intussen het die Britse buiteposte ten weste van die dorp daarin geslaag om ‘n boodskap by Rundle uit te kry. Hy het gereageer deur die artillerie vorentoe te stuur, maar die skote op die uitloper was ondoeltreffend. Dit was te laat, want die Boere het reeds in die rigting van Biddulphsberg teruggetrek.
Aan die Boere se kant was daar een ongeval. Veldkornet Johannes Nel, aanvoerder van die dapper groep Boere bo-op die kop, is per ongeluk deur een van sy eie manne doodgeskiet.
Na die skermutseling op Sandkop, was Rundle se hoofkwartier nou op Senekal gestasioneer met Maj-Gen Sir EY Brabant se hoofkwartier op Hammonia naby Wonderkop. Saam het hulle 'n linie gevorm vanaf Ficksburg in die suide, deur Hammonia en Klipdrif, tot by Senekal in die noorde. Die Boeremagte het gestrek vanaf Biddulphsberg, oor Witnek, tussen Paul Roux en Rosendal. Intussen het die Britse Luitenant-Kolonel BE Spragge wat, verder noord van Senekal, die Boere moes beveg, naby Lindley hom teen Generaal Piet de Wet se magte vasgeloop. Spragge het by Rundle om hulp aangeklop. Rundle was egter nie bereid om die 50 kilometer na Lindley te mars en daardeur ook sy eie posisie in gevaar te stel nie. Hy het hierdie besluit van hom na Brabant getelegrafeer en het, onder andere, ook gesê dat hy egter bereid was om 'n magsvertoning noord van Biddulphsberg te lewer, ten einde so die aandag van die Lindley-boere te verdeel. Hierdie telegram is deur die Boere onderskep en hulle was dus ten volle op hoogte van Rundle se besluit.[3]
Generaal Andries I de Villiers en sy krygsraad het die hoofmag as volg ontplooi: [3]
Die Boere-kanonne is as volg aangewend: [3]
Op Maandag, 28 Mei 1900, het Rundle met ongeveer 4000 man, bestaande uit 'n infanteriebrigade, twee batterye artillerie en 'n paar berede troepe, Senekal verlaat en in 'n oostelike rigting getrek tot tussen Sandspruit en Quarriekop. Die kampeerterrein, 7 kilometer van die Sandspruit af en aan die westekant van Quarriekop, is teen die nag bereik en die troepe het in die donker gaan sit. Die nag was bitter koud en die klipperige grond het die troepe min kans op 'n goeie nagrus gebied. Met geen oorjas en slegs een kombers elk, was hierdie bedekking nie genoeg om hulle teen die koue te beskerm nie.
Die Boere het die situasie evaluaeer en was oortuig dat Rundle die noordelike roete om Biddulphsberg na Bethlehem sou gebruik. Hulle het hul besluit geneem op grond van die volgende:
Die Imperial Yeomanry en Driscoll's Scouts het Biddulphsberg gaan verken. Hulle het beide geweer- en artillerievuur teëgekom. By 'n plaashuis aan die noordoostekant van die berg het hul ‘n wit vlag sien wapper, en twee mans van die Driscoll's Scouts is uitgestuur om vas te stel of enige Boere daar wou oorgee. Toe hulle die plaas nader, het die Boere losgebrand en een verkenner doodgemaak en die ander ernstig gewond. Laasgenoemde is na die plaasopstal geneem waar hy versorg is. [3]
So het Dinsdag, 29 Mei 1900 aangebreek. Dié dag sou onthou word as 'n rooi-letterdag in die geskiedenis van die Britse 8ste Divisie. Die troepe het kort ná 04:00 opgestaan. Nadat hulle beveel is om enige oomblik gereed te wees om weg te beweeg, het hulle 'n haastige ontbyt van koffie en koek geniet. Binne 'n halfuur was hulle gereed, alhoewel hulle eers om 07:00 wegbeweeg het. Hulle het twee of drie ure lank op en af gestap in 'n snerpende, yskoue wind om warm te bly.
Aan die Boere se kant was almal reeds vroeg in hulle vooraf bepaalde posisies met, waarskynlik, die bevel dat niemand mag skiet voordat die kanon gevuur het nie. Die Britte was baie in die war oor die posisies van die Boere. Die Britse linies, wat om 07:00 in beweging gekom het, was onder bevel van Rundle en het bestaan uit:
Rundle was bewus van die Boere aan die suidekant. Die Britse bevelvoerder, vasbeslote om nie in 'n lokval te trap wat voor hom gelê is nie, het sy aanval na die noordelike kant van Biddulphsberg gewend. Om hierdie verandering in die plan te verskans, is een geselskap van die Imperial Yeomanry na Tafelkop gestuur, en 'n ander, suid van Biddulphsberg. Die laasgenoemde mag word ondersteun deur drie geselskappe infanterie van die East Yorks en twee kanonne op Quarriekop. Hulle het stelling ingeneem aan die suidekant van Quarriekop, net die langs die huidige teerpad na Bethlehem. Vier geselskappe van die East Yorks het agtergebly om die toerusting agter Quarriekop te bewaak. Rundle het ‘n heliograaf bo-op Quarriekop geplaas om in verbinding met sy magte bly. Drie geselskappe Yeomanry is noordwaarts verby Biddulphsberg gestuur om te verhoed dat enige Boere-versterkings vanaf Lindley kan kom. Die res van die Briste mag het uiteindelik op die bult aan die noordwestlike kant van die berg uitgekom.
Genl Rundle, met die hoofmag, het langs 'n pad na die noorde van die berg beweeg. Die Imperial Yeomanry, voor die infanterie, het naby die noordelike hange van die berg aangekom en vuur uit twee Boere-kanonne gelok. Genl De Villiers is egter nie deur die Britse bevelvoerder se bedoelings mislei nie. Rundle het vinnig sy posisie verander om die Britse opmarslyn te lei.
Altesaam sowat veertig Boere was van plan om die Britse opmars teë te staan, van wie die meerderheid agter klippe aan die onderste hange van die noordwestelike, noordelike en noordoostelike hange van die Biddulphsberg versteek was. Daarby het vier-en-dertig Boere van die Ladybrand Kommando, onder Veldkornet P Ferreira, hulle in verskeie vlak slote op die vlaktes noord van die berg verskans. Ondersteuning vir laasgenoemde groep sou verskaf word deur artillerievuur van 'n Krupp-geweer wat langs 'n klip beeskraal aan die noordoostelike helling van Biddulphsberg geplaas is.
Die grond waaroor die Britse troepe moes verbygaan, was bedek deur 'n digte lang gras. In die verte het hoë rookkolomme opgestyg van brandende gras waar die soldate binnekort sou verbygaan. ’n Mars van 9 kilometer het hulle noord van Biddulphsberg gebring. Die heel eerste skote in die geveg is deur die grofgeskut van die 2nd Field Artillerie afgevuur. Hulle het om 09:00 'n ondoeltreffende salvo op die berg en naby die plaashuis gevuur. Tot op daardie stadium het die Boerekanonne nie geskiet nie en was die Engelse nie bewus van hul teenwoordigheid nie. Die Krupp-kanon van Smith het egter tot die geveg toegetree en is ondersteun deur ‘n snelvuur-kanon, die Pom-Pom. Die grenadiers, onder kolonel Lloyd, het in formasie vorentoe beweeg terwyl hulle ondersteun is deur die 2nd Scots Guards en die West Kents. Om hierdie nuwe bedreiging die hoof te bied, is die 79ste Battery met sy 4 kanonne ingeroep.
Hulle het aan die noordekant van die Engelse voetvolk omgejaag en reg teenoor Smith se kanon stelling geneem. Volgens Smith was hierdie Battery sowat 2200 treë vanaf sy stelling. 'n Hewige bombardement het op Smith se kanon losgebars. Smith het nie beter as die Engelse geskiet nie, maar het gedurende die dag een Engelse kanon buite aksie gestel. Die Boere-kanonniers is gedwing om hul geweer agter te laat en het agter die kraal skuiling gesoek. Die Pom-Pom is inderhaas na veiligheid in 'n sloot teruggetrek. Die geveg tussen die kanonne het ongeveer 9 vm begin en het die hele dag geduur. Altesaam sowat 500 projektiele is op die Krupp afgevuur, waarvan sommige in 'n hoop mieliekoppe in die kraal beland het en nie ontplof het nie. Die garingboomlaning agter die kraalmuur was later in toiings geskiet.
Intussen het die geveg aan die noordekant van die berg op die vlakte ook onverpoosd voortgegaan.
Die hele tyd het die Boeregewere teen die hange van die berg en in die slote geen geluid gemaak nie, maar om 11:00, toe die Grenadiers tot binne 1100 meter van die berg gevorder het, het die geweer by die kraal weer losgebrand, en die Boere het uit hul beskermde stellings begin skiet. Die Grenadier Guards is vasgevang deur die Boere wat vanuit die slote aangeval het en was 'n maklike teiken vir die vyandelike geweermanne vanuit hul stellings aan die onderkant van die berg; hulle kon dus nie vorentoe of retireer nie.
Die Boerestellings hoër op in die berg was uitstekend beplan. Die Engelse was onderworpe aan verwoede kruisvuur: vanuit die droë brakslootjie, 'n donga en weggesteek tussen droë gras was die Engelse voetsoldate tot op 'n trefafstand van 200m, van voor en agter geskiet. Sommige van die Boere in die berg het met Guedes en Martini Henry-gewere geskiet, wat 'n wit rook gelaat het, en die posisie van hierdie skuts verraai het. Hulle was egter net te goed verskans agter rotse en in slote. Die burgers aan die voet van die berg het met Mausers en dus rooklose kruit geskiet. Die Engelse het tot sowat 100 treë van Iaasgenoemde af beweeg en bo-oor hulle koppe geskiet in die rigting van die wit rook wat hoër op sigbaar was. Hulle was onder die indruk dat al die Boere in die berg was, en kon nie verstaan waarom so baie van hulle makkers doodgeskiet word nie.
In die verslae wat bestudeer is, word nie melding gemaak van die geveg aan die weste-en suidekant van Biddulphsberg nie. Veldkornet Meyer, wat in hierdie omgewing aan die geveg deelgeneem het, meld net dat hulle op 'n lang afstand geskiet het sonder om veel skade aan te rig. Die kanon oos van Biddulphsberg op "Oupos", het ook goed onder die liddietbomme deurgeloop, want handevol loodkoeëls is later jare daar opgetel. Hierdie kanonstelling was ook goed geplaas, want hy het dwars voor sy eie mense verbygeskiet en het ook 'n goeie uitsig op die vyandelike magte gehad. Die kanon self het agter 'n groot rotsblok geskuil.
Om die situasie vir die Engelse ellendiger te maak, het die droë gras wat eers as skuiling vir hulle gedien het, agter die voorste Britse afdelings aan die brand geraak. 'n Noordweste wind het die vlamme aangeblaas en in die rigting van die vegtendes gejaag. Bespiegelings oor die onstaan van die veldbrand is uiteenlopend. Die Boere beweer dat die Engelse die gras aan die brand gesteek het ten einde 'n rookskerm te werp. Van die Engelse kant was die skuld weer op die Boere gelaai. Geeneen van hierdie bewerings dra veel gewig nie, want die Engelse was nie seker waar die Boere-linies was nie, en die Boere sou weer geweet het dat so 'n brand vir hulle self gevaar sou inhou.
‘n Ooggetuie het gesê dat dit jammer was dat die Boere-kanonniers nie 'n paar oomblikke vroeër geskiet het nie. As hulle het, het 'n bose ding ongedaan gebly. Terwyl hulle gekyk het hoe die 2de Battery by die plaashuis brand, het sommige Yeomanry-offisiere hul pype aangesteek en die vlammende vuurhoutjies neergegooi en die lang gras aan die brand gesteek. Een van hulle het 'n halwe poging aangewend om die vlam te blus, maar hy het laggend weggedraai en die vlamme laat krag kry.[1] Die siening van die Britse skrywer, LS Amery, is dus die aanvaarbaarste: "a chance match set it all alight behind them, and the fire, fanned by the wind, surged forward and enveloped them in flames."
Die veld het toe oor 'n groot gebied gebrand. Eers het die gras op die vlakte die soldate 'n mate van beskerming gebied, maar dit het gou 'n erger ramp veroorsaak. Die wind, wat in die middag uit die ooste gewaai het, het van rigting verander en vanaf die weste begin waai en die grasvuur na die soldate gedryf.
Die veldbrand was vir die Britse soldate noodlottig. Die voorste soldate was letterlik tussen twee vure: die geweervuur van voor af en die veldbrand van agter. Die mans was verplig om deur die vlamme te hardloop wat 1,8 meter hoog gestyg het. Die Boere se aanval het toegeneem en die aantal slagoffers het begin groei. Om die geweervuur van die Boere op die Grenadiers af te trek, is die Skotte op die regterflank ingestuur. Baie soldate wat nie gewond was nie, is erg geskroei, terwyl die gewondes, onbeweeglik op die grond, hulpeloos gelê en doodgebrand het. Die Grenadiers het met hul gewondes deur die vlamme probeer retireer. Te midde van die gedreun van geweer- en artillerievuur het die draagbaardraers hul vragte dooies en sterwendes, deur die digte rookwolke, na die veldhospitale ver na agter gedra. Hulle werk het so baie geword dat die noodlottige gevalle op die veld gelaat moes word en uiteindelik in die teenwoordigheid van Boere weggeneem is lank nadat die troepe afgestaan het.
Aan die Engelse kant het groot verwarring geheers. Die Boere het hierdie situasie uitgebuit en hul aanval verskerp. Die Boer Krupp by die plaasopstal, 'n rukkie stil, het weer begin skiet en die Pom-Pom, uit sy skuiling gehaal, het vir die eerste keer onder rook en stof geskiet. Rundle het uiteindelik om 15:00 bevel gegee dat die troepe moet terugval. Die Engelse kanon-perde het van agter die bult te voorskyn gekom om die kanonne aan te haak. Toe De Villiers die Britse onttrekking sien, het hy, met 'n paar mans, na vore gejaag. In die harwar is hy deur ’n verdwaalde koeël in die kakebeen getref. Hy sou later aan sy wond sterf. Voor sonsondergang het die Boere hul bes gedoen om hul eie makkers, sowel as Engelse gewondes, van die slagveld te verwyder. Veral J van Rensburg, ‘n landmeter van Winburg, het baie gedoen om sommige van die gewonde Britse soldate van 'n gewisse vuurdood te red. JN Brink, ‘n adjudant van die Ladybrand kommando, het sy ammunisiewa gebruik om die gewondes na die plaaswoning van Mnr Erasmus te vervoer. Esias Meyer, broer van veldkornet Meyer, het as Rooikruis-beampte opgetree om die Engelse gewondes te help vervoer.
Die dag na die geveg, 30 Mei 1900, is 'n skietstilstand gereël tussen die strydende magte. Dit was 'n verskynsel wat dikwels gedurende die Anglo-Boereoorlog plaasgevind het en van hierdie oorlog is daar ook gepraat as "A Gentleman's War". Rundle se hoofkwartier het na Senekal terug verskuif en die Britse gewondes was gemaklik in die NG Kerk en die ander geboue in Senekal gehuisves. Twaalf ambulanswaens en 'n klein begrafniseenheid is intussen uitgestuur om die oorblywende gewondes te verwyder en die dooies op die slagveld te begrawe. Van die oorlewendes is deur die Boere, koffie en verbrande mielies gegee. Eers toe is die gruwels van die vorige dag se geveg besef – sommige soldate was onherkenbaar doodgebrand, mans se baarde was afgebrand, die oë van sommige was geskroei, sowat vyf of ses mans was om 'n miershoop saamgedrom, almal dood, met graspolle in hul vuiste gebal in 'n laaste desperate poging om beskerming teen die vlamme te bied. Dat die brand nie die Boere se stellings bereik het nie, kan toegeskryf word aan die brandstrook wat deur 'n pad wat aan die voet van die berg geloop het en ‘n yl grasbedekking gevind is waar Ferreira en sy manskappe verskans was.
'n Groepie Engelse soldate is in Senekal agtergelaat om al die oorledenes te begrawe. Die lyke is na 'n sentrale plek, waar die meeste ongevalle voorgekom het, geneem waar hulle in 2 massagrafte begrawe is. Die begrafnisdiens is deur twee predikante behartig. Volgens Engelse bronne was daar 'n doringboom langs die massagraf en het die bevelvoerder op die toneel 'n blaadjie uit sy sakboekie geskeur en aan die boom gespyker. Hy het die volgende woorde daarop geskryf: "This tree is not to be cut down for it marks the resting place of those who fell on May 29th 1900. Signed Maj. B Campbell. Commanding 16th Brigade." [2] Daar het hulle gebly tot 1964 toe die lyke opgegrawe is en by Senekal se begraafplaas herbegrawe is. Hulle word begrawe langs hul kamerade wat gesterf het aan wonde wat hulle in aksie by Biddulphsberg gekry het terwyl hulle in die dorp in die hospitaal opgeneem is.
Op die oorspronklike plek van die massagraf, kan vandag nog net ‘n effens gelykte waargeneem word waar die grond versteur is. Die posisie hiervan is ongeveer 150 meter noordwes van die brakslootjie waar veldkornet Ferreira en sy manskappe hulle stellings gehad het.
Die gewonde Generaal De Villiers is deur Vilonel na Senekal geneem, waar hy aan huis van dominee Paul Roux deur Mevrou Roux versorg is. Hy is egter eers deur die Engelse mediese personeel behandel op versoek van kommandant Crowther. Later het hy tog aan sy wond beswyk en is elders begrawe. Buiten Generaal De Villiers en 'n sekere Nel wat deur 'n dum-dum koeël in die gesig getref is, was die ongevalle aan die Boere se kant gering.
Al die soldate, behalwe twee wat gesterf het as gevolg van die geveg by Biddulphsberg, is in die begraafplaas op Senekal begrawe. 'n Aparte area bevat die militêre grafte van die koloniale en Britse soldate wat in die Anglo-Boereoorlog gesterf het. Die name van die soldate wat hier begrawe is, is op die hoofmonument graveer, maar vyf name van die manne van die 2nd Scots Guards wat by Biddulphsberg dood is, is weggelaat. Daar is minstens 125 soldate wat gesterf het tussen 1900 en 1902, in Senekal begrawe.
Na die slag van Biddulphsberg, was die Senekal kommando weereens sonder ‘n bevelvoerder en ‘n krygsvergadering is gehou om die vakature te vul. Gewese kommandant Vilonel word verkies. Nadat die voorsitter hom dit meegedeel het, het Vilonel geantwoord dat hy tot sy spyt nie die benoeming werd is nie en dat hy reeds, weens die hopeloosheid van die ongelyke stryd, besluit het om homself aan die oorlog te onttrek. IA Meyer, skrywer van die boek, “Die Ervarings van ‘n Veldkornet in die Engelse Oorlog 1899-1902”, berig dat ‘n sekere Kommandant Bornman nou bevel gevoer het oor sowat 100 Senekallers. Kommandant Gerrie van der Merwe , wat by Sannaspos swaar gewond is, het na die slag van Biddulphsberg hom weer by die Senekal Kommando aangesluit.
Op 27 Desember 1900, het 'n deel van 34th Coy, IY, wat die voorwag van 'n gemengde mag van infanterie, Yeomanry en berede infanterie gevorm het, met drie kanonne, (almal geneem uit 16th Infantry Brigade) na Senekal gegaan en dit ses dae lank beset. Hulle het skote getrek uit lede van die vyand wat in 'n spruit versteek was en Lt B Napier is dodelik gewond. Hy het die volgende dag teen middagete gesterf. Die dorp is vroeg in Januarie 1901 ontruim en die Britse mag het noordooswaarts voortgegaan verby Biddulphsberg. Later in die maand het die mag na Senekal teruggekeer voordat dit na Bethlehem onttrek het. Die Boere het in die omgewing geskuil om die vordering van begeleide konvooie te strem, maar geen ernstige gevegte het uitgebreek nie. Die slag van Biddulphsberg sou vir die duur van die oorlog die enkele belangrikste geveg in die Senekal-distrik bly.
'n Oormag van 4 000 Britse soldate teenoor 400 Boere.[4]
Die 8ste Infanterie Divisie onder bevel van Lt-Gnrl Sir Henry Macleod Leslie Rundle het bestaan uit:
Die Boeremagte onder bevel van generaal Andries I de Villiers en het uit die volgende kommando's bestaan:
Die verlies aan Britse kant het volgens die History of the War in South Africa[3], 185 mans beloop, waarvan 47 gedood is of aan hul wonde beswyk het (insluitend een offisier), 130 gewond en 8 vermis was. Daarteenoor is die Boere se verliese minimaal – twee mans was gedood of het aan hul wonde beswyk en drie was gewond.
Offisiere gewond | Soldate gewond | Soldate dood | Gevangenes | Totaal | |
2nd Grenadiers Guards | 5 | 92* | 33 | 9 | 139 |
2nd Scots Guards | 1 | 19* | 4 | 0 | 24 |
2nd Royal West Kents | 0 | 8 | 0 | 0 | 8 |
79th Royal Field Artellery | 0 | 1 | 0 | 0 | 1 |
4th Battery Yeomanry | 0 | 3 | 2 | 2 | 6 |
6 | 123 | 38 | 11 | 178 |
* baie van hierdie manne is later oorlede aan brandwonde en skietwonde en is nie almal op Senekal begrawe nie.
Voorbeelde van medaljes toegeken aan soldate.[1]
Die Lee-Metford was 'n boutaksie-geweer wat .303 kaliber rondtes afgevuur het en was toegerus met 'n magasyn wat tien rondtes gehou het.
Die Martini-Henry was 'n enkelskootgeweer wat 0.45 kaliber rondtes afgevuur het en was bekend vir sy betroubaarheid en akkuraatheid.
'n .455 kaliber handwapen wat wyd deur Britse soldate gebruik is.
‘n masjiengeweer wat .303 kaliber rondtes afgevuur het.
Die Mauser Model 1895 was 'n boutaksie geweer wat 7x57 mm rondtes afgevuur het en toegerus was met 'n vyf-rondte magasyn.
Die Krag-Jorgensen was 'n boutaksie-geweer wat .30-40 Krag-rondtes afgevuur het en is in 1899 deur die Boeremagte aangeneem.
'n .45 kaliber handwapen wat bekend was vir sy duursaamheid en betroubaarheid.
‘n Gasaangedrewe masjiengeweer wat .303 kaliber rondtes afgevuur het.
‘n geweer wat ‘n 1-pond patroon akkuraat kon afvuur oor 'n afstand van 2700 meter. Die patrone is met 'n 25-ronde materiaalband gevoer.
Twee monumente is opgerig op die plek vanwaar die Boere hul aanval geloods het. ‘n Derde monument is opgerig op die plek waar die Krupp-kanon gestaan het.
Die skildery verteenwoordig 'n toneel van die geveg wat op 29 Mei 1900 geveg is, buite die dorp Senekal, op die plaas Biddulphsberg. Tydens die geveg het die lang droë gras aan die brand geraak en die gewonde mans was in groot gevaar om doodgebrand te word. Die rekonstruksie hieronder wys hoe die oorspronklike komposisie sou verskyn het toe dit eers voltooi is. Die skildery was meer as 2 meter breed.
Caton Woodville se 1902-skildery van Biddulphsberg is die eerste keer in Januarie 1903 by die Carlton Galleries, Pall Mall, Londen, vertoon. (Manchester Courier, 3 Feb 1903).
Brigadier-generaal Francis Lloyd, geskilder deur Philip de László in 1906. Dit hang tans in White's Club, St James's Street 37–38, Londen.
Caton Woodville se 1900-tekening van dieselfde gebeurtenis: "HUL BEPROEWING VAN VUUR - DIE GRENADIER WAGTE BY BIDDULPH'S BERG". (their ordeal) Eerste gepubliseer in die Illustrated London News, 28 Jul 1900. Hierdie weergawe was weergegee in "The Work of War Artists in South Africa", deur A.C.R. Carter, 1900
Harry Ernest Maile, ‘n Engelse soldaat onder die Grenadier Gaurds, het aan sy vriend, William Fisher ‘n brief geskryf nadat hy oorleef het in die slag van Biddulphsberg. Die brief is deur sy seun, J.B.R Maile jare later na Biddulphsberg geneem. Hy het die slag so besryf:
“Toe ons binne 3000 treë kom, het hul groot gewere op ons artillerie aan die linkerkant oopgemaak. Ons het steeds nadergekom en gevorder met 'n helling na die gewere. Ons is gou met 'n koeëlreën van die Boere se Mausers teëgekom; ons het steeds aangegaan. Toe kom die bevel om te gaan lê. Ons het nie geweet nie en kon nie sien van waar hulle geskiet het nie. Ons is beveel om op die groot gewere op 2000 treë te vuur. Ons het toe op nog 60 treë gejaag, terwyl die vyand 'n verskriklike geweervuur op ons hou. Ons het toe op ons mae gelê en skiet op die koppie op 1800 tot 2200 treë. Ons vuur was naby die gewere gerig en ons kon nie 'n siel sien nie. Ek het my sakke leeggemaak. Ek het 'n klapskoot in die kop gekry. Ek het op my rug gedraai en stil gelê. Ongeveer 'n uur daarna het nog een aan die linkerkant van my kop in en by my nek uitgegaan. Nog twee skote het my getref, een by my skouer in en uit by my rug en die ander deur albei my bobene. Ek was die hele tyd by my bewussyn. Ek het my toerusting en gerolde jas uitgehaal en by my kop gesit vir skuiling. Dit het my lewe gered.
Die jas het deurspek geraak en my kantien gebreek. Ek het altesaam 5 ure onder geweldige vuur gelê. Ek het die bevel om af te staan gehoor en gesien dat die min wat oor was stadig in orde terugval. So gou as wat hulle weg was, het ek 'n gekraak en 'n gebrul gehoor. "My God", het ek gesê, "Nou moet ons ook doodgebrand word." Die veld het gebrand. Ek was gou op die lang lyn van gewondes en sterwendes. ’n Aaklige gesig! Ek het opgestaan en myself op een of ander manier daardeur gedra en my gesig was baie verbrand.
Die Boere het uit hul loopgrawe gekom en ons gehelp. Hulle het soos Christene opgetree. Een het vir my water gekry, my jas en 'n dooieman langs my se jas, afgerol en my met albei toegedraai. Die Boer vir die gewonde is 'n opregte mens, al het hy baie van ons met plofstof en sagtepunt patrone verpletter. Ek het altesaam tien wonde gehad en was erg gebrand.”
“Ons gewere het opgekom en oopgemaak. 'n Boeregeweer het ook op ons gewere oopgemaak. Ek het nou die bevel ontvang: "Die Grenadiers sal die geweer vat." Omdat die bataljon in uitgebreide orde was, het ek geen ander keuse gehad as om dit te beveel om voort te gaan, van my perd af te klim en aan te gaan met die ondersteuning. Die Orde van kompanies was soos volg: 5, 6, 7, 8; 1, 2, 3, 4. Ons het eers deur 'n mielieland gevorder, baie hoog en dik. Terwyl ek aan die gang was, het 'n A.D.C. galop na my toe met die opdrag om generaal Rundle te gaan sien. Ek het teruggehardloop, op my kastaiingbruin perd geklim (sowat honderd tree, ek durf sê) en na hom toe gegaan. Hy het toe die grond verduidelik, en ek het saamgestem dat dit haalbaar was, volgens die plan, terwyl ons gedink het dat ek dekking kan kry en dat die koppie nie baie sterk vasgehou is nie. Nadat ek sy aanwysings gekry het, was my enigste weg om na die steun te galop, hulle die nuwe bevele te gee wat voortdurend na regs grond moes vat totdat die skuiling van die koppie wat ek wou hê, gekry is. Ek het toe so hard as wat ek kon na die vuurlinie gegalop.
Toe ek omtrent halfpad was, het ek onder so 'n koeëlreën gekom dat ek van my perd afgespring en hom laat gaan het. Terwyl ek dit gedoen het, is ek op die duim en geweer raakgeskiet, en my beursies is deurgeskiet. Ek hardloop toe na nr 5 en lei hulle. Ek het die lyn na regs verleng met 'n halwe geselskap van nr. 6 onder Seymour. Dit was dalk nie meer as 'n gedeelte nie. Met die lang veldgras en die vuur was dit moeilik om te sien en onmoontlik om jouself te laat hoor. Ek het egter gevorder met twee half-geselskappe of afdelings halfpad na regs deur kort stormlopies in die poging om dekking te kry (as 'n eerste parallel, soos die drilboek sê). Die stormloop is met die grootste dapperheid deur Seymour en Murray gelei, en met ewe dapperheid deur die N.C.O.'s en manne gevolg. Net voor die laaste stormloop het ek vir Murray geroep om aan te gaan, maar die antwoord was dat hy geval het. Ek het toe die lot gejaag met die arme seun wat roep: "Gaan aan Grenadiers, volg jul bevelvoerder!"
By die volgende stilhouplek is die man aan my regterhand getref, die man aan my linkerhand is getref, ek is getref, en daar was nie meer inisiatief nie, want byna al die mans was platgetrek, en daar was niemand om aan te gaan nie en daar was geen nut om meer te doen nie. Ek het dus vir almal gesê om stil te lê as die beste kans. Daar was 'n paar miershope, maar hulle was vrot en nutteloos. Ek was agter een op my rug saam met Drummer Haines en Fruin van nr. 6. Ek het probeer om al die mans so veel as moontlik apart te hou as die beste kans op die lewe. Net twee het teruggegaan om, soos hulle gesê het, "aan te trek". Ek het vir hulle gesê om stil te lê, anders word hulle geskiet. Of hulle was of nie, weet ek nie.
Daar lê ons onder 'n koeëlreën. Elke keer as 'n mens beweeg het om 'n verband te kry, het dit 'n koeël binne 'n voet of twee geproduseer. Ek skat die afstand was ongeveer 1 700 meter, tensy, soos ek agterna gehoor het, daar mans in 'n donga binne 300 meter was. *Dit glo ek nie, aangesien die koeëls meestal neergedaal het. ’n Aansienlike deel van hulle het glo met ’n skerp kraak gebars. Ons moes maklike teikens vir die Boere gewees het, want ons het natuurlik teen die grond uitgestaan. Ek, vir een, was absoluut op my rug. Ek het alles in my vermoë gedoen om te verhoed dat hulle beweeg, en hulle het hulself dapper gedra, want nie 'n man het geknak nie.
Tromspeler Haines het sy arm oor my gekry en my na hom getrek vir beskerming, ek veronderstel (ek was 'n bietjie dom, maar nie baie nie), toe 'n koeël kom wat my op die maag tref, maar dit was deur sy arm bedek wat dit gebreek het, en ek was net vreeslik gekneus. Dit het ongetwyfeld my lewe gered. Ek het hom met 'n sakdoek vasgebind, en hy het 'n paar goed op my wonde gesit, en daar lê ons. Seymour het kort hierna opgekruip en gesê iets moet gedoen word, aangesien die brand eerder meer as minder was. Ek het gesê: "Probeer 'n sarsie," so hy het die bevel gegee, maar daar was net twee mans wat in sy afdeling nie geskiet is nie, so dit was nutteloos. Hy het toe gesê: "Ek sal probeer teruggaan, aangesien ek niks meer hier kan doen nie, en die artillerie kry om op hierdie spesifieke plek te skiet waar die skote vandaan kom." Ek het gesê hy sal doodgemaak word, maar hy het gesê dit was geen nut om hier te bly nie en begin wegkruip, net om in die voet geskiet te word voor hy inklim; hy het nooit by die artillerie uitgekom nie.
Kort hierna het 'n ammunisiedraer, wat aan nr. 8 behoort, opgekom asof niks gebeur nie - om die waarheid te sê, as dit in Hyde Park was, moes ek sy naam geneem het omdat hy so stadig beweeg het. Hy het ammunisie na vore gebring, het hy gesê, en nie gelyk of hy 'n veer voel nie. Ek het hom laat lê, maar hy is dadelik twee keer getref; sy naam was nr 1511 Manskap Bevan. Ek het hom ingestuur.
Een of twee keer tevore het die veldbrand gelyk of dit op ons afgekom het, maar dit het altyd wegbeweeg. So het ons altesaam drie ure lank gelê. Ek was van plan om tot donker te bly, maar daar was geen moontlikheid daarvoor nie, want die vuur het nou reguit op ons afgekom. Ek sou niemand laat beweeg voordat dit redelik naby was nie, maar toe dit binne twee meter was, het ek die opdrag gegee dat almal moet gaan wat kan. Ek het nie gedink ek kan beweeg nie, maar hulle het my op my voete getrek, en ek het deur die vlamme gestrompel en genadiglik niks meer as 'n skroei gekry nie. Almal het beweeg, soos ek gedink het, behalwe die dooies en Murray, en sy groep was te ver, hy het redelik ver teruggeval. Ek het probeer om met hom te kommunikeer, maar omdat ek geen reaksie gekry het nie, het ek gedink hy is dood.
Terwyl ek verder strompel het die Boere 'n ontsettende koeëlreën op ons oopgemaak, wat hulle aangehou het. Ek dink net een man is getref, hoofsaaklik as gevolg van die rook. Ek het teruggekyk en gesien hoe gewonde mans mekaar help, trouens almal het hul bes gedoen. Ek het daarin geslaag om vir 300 treë of so te sukkel, toe Kleursersant Morgan opgekom het en my gehelp het. Hy was een van die min wat nie getref is nie. Koeëls het dik geval, maar ek het by 'n draadheining gekom waar ek vir 'n minuut of twee agter 'n klippaal gelê het. Kleur-sersant Morgan en 'n ander man het toe gekom en aangedring om my saam te sleep, terwyl ander soortgelyke hulp ontvang het, diegene wat kon loop het diegene wat nie kon nie, gehelp. Sowat 200 treë verder is ek op 'n Scots Guards-draagbaar gesit. Ek was nou al baie simpel, en is verby Rundle gedra, wat vir my 'n bietjie whisky gegee het en vir my gesê het ons het alles gedoen wat moontlik was.
SLAG VAN BIDDULPHSBERG 29 MEI 1900
Donderdagaand 10 Mei 1900, het ons opdrag gekry om vanaf Leeuwrivier na Clocolan op te ruk. Op pad daarheen het verskeie burgers, insluitend myself, eers by ons huise aangegaan.
Die 12 de Mei het ek weer saam met die ou heer, G Joubert, in die pad geval. Ons was die laastes om te vertrek en moes druk om betyds oor Ladybrand te kom. By Senekal het ons weer by ons kommando aangesluit. Hulle was toe reeds besig om nuwe korporaals te kies in die plek van diegene wat moes agtergebly. Nadat ons 'n paar dae daar vertoef het, is ons eers na Wonderkop en toe na Zandrivier waar ons weer sou oorstaan.
Van Zandrivier af het ons offisiere, sowel as dié van Ficksburg, Wepener, Thaba Nchu en nog ander kommando's, na Lindley gegaan waar 'n krygsraad gehou is. Dáár is toe opdrag gegee dat ons moet terugkeer Senekal toe. Ons het toe tot by Tafelkop, nie ver van Senekal af nie, gegaan. Van daar af is 'n patrollie uitgestuur wat toe met van die vyand se spioene in aanraking gekom en hulle teruggedryf het. Een van hulle asook sy perd, is noodlottig deur die dapper jong burger, Japie Berry, gewond.
Daardie aand het ons na Biddulphsberg, nie ver daarvandaan nie, teruggekeer en die Sondag rustig daar oorgebly. Maandag het ons op patrollie na meneer Grobler se plaas gegaan, om voer vir die kommando te kry.
Die Engelse het intussen al nader gevorder. Sommige burgers het Biddulphsberg toe beset. Die ander het in die dorre vlakte agtergebly, vanwaar hulle die Engelse teruggedryf het. Ons het nie geweet wat hulle lewensverlies was nie. Die twee wat in ons hande geval het, was die enigstes gewondes waarvan ons bewus was. Aan ons kant is Gert Nell van Ladybrand ernstig in sy mond gewond.
Die Engelse het toe ‘n boodskap gestuur dat ons onvoorwaardelik moes oorgee, anders sou hulle ons omsingel en almal gevange neem. Ons kommandant Jan Crowther het hierop vir hulle terug laat weet – “julle kan maar kan kom probeer”.
Hulle hét toe ook Dinsdagoggend 29 Mei gekom. Dit was toe wel nie om ons gevange te neem nie, maar wel om die dood van menige van húlle manskappe, daar deur die koeël van ‘n Mauser te vind.
Die twee korporaalskappe van Gert Delport en Petrus Rautenbach, waarvan ek ook deel was, het toe onder leiding van veldkornet Pieter Ferreira gegaan, om 'n vlei wat onder die berg lê te beset. Die res van die burgers het in die berg agtergebly. Ons was sowat 1000 of 1500 treë van die berg af. Alhoewel dit twee korporaalskappe was, was ons net 38 man sterk, want baie het toe alreeds in die wa-laer moes bly. Omstreeks 9:00 die oggend is ons van die berg af gewaarsku, dat die vyand besig was om na ons stellings op te ruk. Ons kon net sowat 300 treë voor ons uitsien. Ongeveer 'n uur later het ons die Kakies, soos ons hulle destyds genoem het, vanaf die heuwel voor ons sien naderkom.
Die burgers in die berg het óns toe die geleentheid gegee om eerste te skiet. Daar is beraam dat die vyand, buiten die ruiters, meer as 2 000 voetsoldate sterk was. Hulle het drie keer op ons (die 38 mans) afgestorm, maar na die dérde keer het hulle teruggeval. Die geweervuur van ons kant af was beslis te straf vir hulle.
Ons het slegs twee kruitkanonne en 'n Maxim geweer gehad, terwyl die vyand drie batterye (artillerie groeperings) gehad het. Dit was omstreeks 15:30 toe hulle begin terugval het.
Daardie oggend toe hulle ons nog van ver af begin benader het, het hulle die gras in die veld aan die brand gesteek. Dit was in ‘n poging om hulleself en hulle wapens agter die rook te verbloem. Min het hulle egter geweet dat die oog van die boer nie so maklik mislei word nie. Later het hulle vertel dat dit ons was wat die gras aan die brand gesteek het. Ek dink hulle het dit gedoen om hulle eie skande te bedek, want terwyl hulle gevlug het, het die vuur van hulle eie soldate aan die brand gesteek. Hulle het die dooies en gewondes as prooi vir die verwoestende vlamme agtergelaat. Dit was ‘n skrikwekkende skouspel! Sommiges het heen en weer voor die vuur gehardloop, in ‘n desperate poging om ‘n plek te vind waar hulle kon deurgaan.
Diegene wat nie kon opstaan nie is deur die vuur gedood. Hulle het net daar bly lê terwyl hulle klere vlamgevat en hulle hare en baarde verskroei het. Ten spyte van dit alles het ons aanhou skiet, totdat generaal Hermanus de Villiers met sowat vyftien man te perd van die berg afgekom en vir ons geskree het om te storm. Aangesien ons te voet was en nog deur die vuur ook moes kom, was hulle vóór ons op die slagveld. Ek het my so staan en verwonder oor die verskriklike toneel, dat ek amper vergeet het om te skiet - nie net was hulle klere aan die brand en hulle hare verskroei nie, maar ook die velle in hul gesigte was verbrand en hulle hande ineengekrimp.
Ek het eers vir van die gewondes water gegee en toe weer vorentoe gegaan. Toe ek by die jong maar dapper burger, Hendrik Becker kom, sê hy: “Man, vandag het ek 'n Kakie lekker geskiet.”
Die Engelse het hulle kanonne, wat ook aan die vlug was, weer omgedraai en teruggeskiet. Die eerste skoot het die burger Kootie Delport deur sy longe gewond. Ook die generaal se perd is getref. Met 'n tweede bom is jong Becker agter sy blad deur 'n stuk bom gewond en ek is in die arm geskiet.
Toe daar amper nie meer ‘n geskree hoorbaar was nie, is ons goeie generaal de Villiers in die kop gewond. Hy was werklik 'n dapper en wakker leier en ek moet met baie ander saamstem, dat as hý nie geval het nie, daar nie later iets soos: “die oorgawe van Prinsloo" sou wees nie. Willem van Wijk is daardie dag in die berg dood en die artillerist Moelken, 'n Nederlander, is gewond. Ons kon regtig net erken dat die Allerhoogste daardie dag met ons was - dat dit net Sy magtige arm was wat ons teen só 'n groot mag kon beskerm. Die verliese aan ons kant was: een dood, vier gewond en 7 of 8 wat as krygsgevangenes geneem is. Aan die vyand se kant was daar ongeveer 300 dooies en gewondes. Ons het ook 'n aantal gewere en ammunisie op die slagveld gekry.
Daardie aand is ek na Japie Erasmus se huis waar ek baie goed ontvang is. Daar was ook 'n paar dames wat my arm vinnig verbind en toe verversings gegee het. Die kos en die sagte hande wat my arm verbind het, het my soos 'n heel ander mens laat voel. Die volgende dag het mnr Erasmus my na die huis van kommandant Jacobz geneem waar Generaal De Villiers en die ander gewondes ook was. Daar was ook 'n Engelse dokter wat versoek is om soontoe te kom, aangesien ons geen dokter byderhand gehad het nie. Die dokter het gevra dat die Generaal na Senekal geneem moet word, omdat hy hom daar beter kon versorg. Die versoek is toegestaan, maar op voorwaarde dat die Engelse hom moet terugstuur as hy herstel het. Die arme man was toe in die hande van sy vyande oorgelaat. Die dokter het egter belowe dat hy die generaal sal terugstuur as hy gesond is. Gert Nell, met die ernstige mondwond, is ook Senekal-hospitaal toe geneem waar hy later oorlede is. Op 1 Junie is Delport, Becker, Moelken en ekself na die hospitaal in Bethlehem geneem. Ons reis het baie goed verloop, behalwe dat ou meneer Delport baie swaar gekry het.
Ons het teen die aand by Bethlehem aangekom en is baie goed ontvang deur mejuffroue Theron, Rozenzweig, Hamelberg, van Heerden, Westerman, Naude, Middleton, Dodson en mnr Louis van Assen. Veldkornet Carel Hellmuth was ook baie goed vir ons.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.