From Wikipedia, the free encyclopedia
Andrew Wakefield (gebore 1957) is 'n voormalige Engelse snydokter en navorser wat hoofsaaklik bekend is vir sy gediskrediteerde werk rakende die MMR-entstof vir masels, pampoentjies en Duitse masels en 'n beweerde verband met outisme en inflammatoriese dermsiekte.[1] Wakefield was ook die hoofouteur in 'n 1998-studie wat in die gerespekteerde mediese joernaal The Lancet verskyn het, waarin die outeurs dermsimptome rapporteer in twaalf kinders met verskeie outistiese aandoenings. Die outeurs het op 'n moontlike verband met die MMR-entstof gedui. Alhoewel hulle gemeld het dat "ons kon nie 'n verband tussen die entstof vir masels, pampoentjies en Duitse masels en die beskrewe sindroom bewys nie", het die studie ouers se bewerings gelys en hierdie bewerings as feite aangeneem vir die berekening van 'n verband tussen die ontvangs van die entstof en die eerste verskyning van sogenaamde "gedragsimptome".[2]
Andrew Wakefield | |
---|---|
Gebore | Andrew Jeremy Wakefield 1957 Eton, Berkshire |
Nasionaliteit | Verenigde Koninkryk |
Beroep | Voormalige snydokter, navorser |
Bekend vir | MMR-entstof omstredenheid |
Tydens 'n persverklaring wat saam met die publikasie van die studie gehou is, het Wakefield aanbeveel dat die verskillende komponente van die inentings in drie aparte fases gegee word, met 'n tussenpose van ten minste een jaar tussenin. Die studie, persverklaring en gevolglike mediadekking het tot 'n skerp daling van inentings onder jong kinders in onder ander Brittanje, die V.S.A. en Suid-Afrika gelei, en groot maselsuitbrekings is ervaar, met enkele sterfgevalle.
Verdere ondersoek het nie daarin geslaag om Wakefield se bevindinge te bevestig of te herhaal nie.[3] Die bevindings van die 1998-studie is later deur tien van die oorspronklike dertien outeurs teruggetrek.[4]
In 2004 het 'n ondersoek deur die joernalis Brian Deer van die Britse Sunday Times voorheen ongemelde strydende belange aan die lig gebring: Wakefield is voor die studie van fondse (tot £55 000) voorsien om 'n wetenskaplike skakel tussen outisme en die entstof te ontdek.[5] Hy het self ook vóór die studie 'n patent vir 'n enkele entstof vir masels geregistreer.[6] Die redakteur van die Lancet het in 2004 gesê dat die studie nooit gepubliseer sou wees indien hierdie feite vooraf bekend was nie.[7]
In Maart 2004 het die Britse General Medical Council (GMC) aangekondig dat hulle 'n ondersoek gaan instel na Deer se bewerings van Wakefield en twee ander kollegas se wangedrag.[8] Die ondersoek het op verskeie aantygings gefokus, soos bewerings dat beide outistiese en nie-outistiese kinders aan onnodige mediese prosedures onderwerp is,[9] soos kolonoskopies en lumbale punksies, sonder die vereiste etiese goedkeuring van 'n inspeksieraad. Wakefield se verhoor het in Julie 2007 begin en op 28 Januarie 2010 het die GMC hom aan verskeie aantygings skuldig bevind, onder andere vier gevalle van oneerlikheid en 12 gevalle met betrekking tot die mishandeling van ontwikkelingsgestremde kinders.[10] Die raad het gevind dat Wakefield "gefaal het in sy verpligtinge as 'n verantwoordelike konsultant", dat sy dade teen die belang van sy pasiënte ingedruis het en dat hy "oneerlik en onverantwoordelik" gehandel het.[11][12][13] Die Lancet het die 1998-publikasie op 2 Februarie 2010 ingetrek.[14]
Wakefield het nie 'n dokterslisensie in die V.S.A. nie en in Mei 2010 is sy naam uit die mediese register van die Verenigde Koninkryk verwyder.[15][16]
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.