Remove ads
From Wikipedia, the free encyclopedia
Anastasius I (Latyn: Flavius Anastasius Augustus, Grieks: Ἀναστάσιος; omstreeks 430 – Julie 518) was die Bisantynse keiser van 491 tot 518. Tydens sy bewind is groot versterkings aangebring aan die grens van die Oos-Romeinse Ryk.
Anastasius is in Dyrrhachium gebore, maar die datum is onseker – nie later nie as 430 of 431 n.C. Hy was die seun van Pompeius, ’n edelman van Dyrrachium, en sy vrou, Anastasia Constantina.
Hy het een swart en een blou oog gehad[1] en sy bynaam was "Dicorus" (Grieks vir "met twee pupille").
Met keiser Zeno se dood in 491 was Anastasius ’n hoë paleisamptenaar en hy is keiser gemaak deur Zeno se weduwee, Ariadne, wat hom verkies het bo Zeno se broer, Longinus.
Ariadne is kort ná sy troonbestyging op 20 Mei 491 met hom getroud. Hy het gewild geword ná ’n vermindering van belasting en het groot energie getoon in die administrasie van staatsake.
Anastasius het die Isauriese Oorlog begin teen die indringer Longinus en die Anastasiese Oorlog teen die Persiese Sassaniede.
Die Isauriese Oorlog (492-497) is veroorsaak deur die Isauriese ondersteuners van Longinus, die broer van Zeno wat oorgesien is toe Anastasius tot keiser verkies is. Die oorlog is beëindig met die Slag van Cotyaeum in 492, maar rebelle-oorlogvoering het nog ’n paar jaar daarna voortgeduur.
In die Anastasiese Oorlog (502–505) het die Sassaniede die stede Theodosiopolis en Amida verower, maar die Romeine het Amida terugverower. Albei partye was uitgeput toe vrede in 506 gesluit is sonder ’n verandering aan die stand van sake. Anastasius het daarna die sterk fort Daras gebou om die Perse uit te hou. Die Balkan-provinsies is egter verwoes deur invallende Slawiërs en Bulgare. Om Konstantinopel en omgewing te beskerm het die keiser die Anastasiese Mure laat bou.
Anastasius is op 9 Julie 518 sonder kinders dood. Hy is opgevolg deur Justinus I, ’n offisier wat deur die leër en volk verkies is.
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.