From Wikipedia, the free encyclopedia
Dr. Abraham Johannes van der Merwe (13 April 1897, distrik Calvinia - 23 April 1978, Oranjezicht, Kaapstad) was een van die bekendste figure in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, is vyf maal agtereenvolgens deur die Kaapse Sinode tot moderator verkies, was voorsitter van die eerste Algemene Sinode in 1962 en was op drie maande na 40 jaar lank leraar van die NG gemeente Kaapstad. Hy het hom ook onderskei as voorsitter van die sentrale feeskomitee van die Van Riebeeckfees in 1952.
Abraham van der Merwe | |
Abraham van der Merwe | |
Naam | Abraham Johannes van der Merwe |
---|---|
Geboorte | 13 April 1897 Calvinia |
Sterfte | 23 April 1978 (op 81) Oranjezicht, Kaapstad |
Kerkverband | Nederduits Gereformeerd |
Gemeente(s) | Kaapstad |
Jare aktief | 1926-1966 |
Kweekskool | Stellenbosch |
Hy is gebore op Koppieskraal in die distrik Calvinia en matrikuleer aan die hoërskool op die dorp. Hy gaan daarna na die ou Suid-Afrikaanse Kollege in Kaapstad waar hy die M.A.-graad met lof behaal en ’n beurs kry om in die buiteland verder te studeer. Hy volg egter eers die kursus aan die Kweekskool op Stellenbosch en lê daarna die eindeksamen met hoogste lof af, voor hy na die Ryksuniversiteit van Utrecht in Nederland vertrek waar hy in Julie 1925 met ’n proefskrif oor die sondebegrip in die Engelse evolusionistiese wysbegeerte bevorder word.
Van der Merwe word in dieselfde jaar gelegitimeer, doen ’n paar maande lank hulpdiens in sy tuisgemeente en word daarna na die NG gemeente Kaapstad. Hy bly sy hele beroepslewe leraar van dié gemeente van sy bevestiging op 16 April 1926 tot en met sy aftrede op 30 Januarie 1966. Daarna bly hy in die Moederstad woon, maar ná ’n beroerte gaan sy gesondheid geleidelik agteruit en die laaste vyf en ’n half jaar van sy lewe onttrek hy hom aan die openbare lewe. Sy dood volg op nog ’n aanval in sy huis in die Kaapse voorstad Oranjezicht.
Die Kaapse Sinode verkies hom die eerste keer in 1945 tot moderator en weer tydens die daaropvolgende vier sinodes sodat hy in 1962 tydens die konstituering van die eerste Algemene Sinode as voorsitter opgetree het. Van hom word gesê dat hy een van die voortreflikste voorsitters was wat die Kerk tot dusver opgelewer het en dat hy die groot gawe besit het om selfs in die mees gespanne situasie met ’n gevatte woord verligting te bring, sonder om iemand te kwets of om neer te daal van die hoë en waardige vlak waarop hy beweeg het.
Van der Merwe het in talle kerklike kommissies gedien. Hy was voorsitter van die Raad van die Kerke, van die Stellenbosse Kweekskool, 35 jaar lank aan die Bybelgenootskap verbonde en vir die eerste ses jaar van die instelling se bestaan voorsitter van die Nasionale Raad. Hy was 37 jaar lank voorsitter van die Hoërskool Jan van Riebeeck se skoolkomitee en 27 jaar lid van die Raad van die Universiteit van Kaapstad. In 1952 was hy voorsitter van die sentrale feeskomitee wat die driehonderdjarige bestaan van die volksplanting herdenk het. Vir sy diens aan die Kerk en breër gemeenskap ontvang hy nie minder nie as vier eredoktorsgrade.
Na sy dood skryf ds. H.C. Hopkins in sy lewenskets in die Jaarboek van die NG Kerke 1979: "Met sy forse gestalte, sterk persoonlikheid en welluidende stem, was hy ’n kragfiguur, ’n man van gesag en daarby met ’n helder insig, skerp intellek en buitengewone leierseienskappe geseën." Juis daarom het dit ds. Beyers Naudé verbaas dat Van der Merwe nie sterker leierskap aan die dag gelê het in die stormagtige tyd wat op die Cottesloe-kerkeberaad gevolg het nie. In sy outobiografie, My land van hoop, skryf Naudé: "Dr. A.J. van der Merwe was moontlik die heel sterkste figuur in die NG Kerk in daardie jare. Persoonlik is ek oortuig dat hy in die storms ná Cottesloe sterker moes gestaan het – hoekom hy nie teen Verwoerd standpunt in geneem het nie, weet ek nie." Hoewel Van der Merwe die Cottesloe-besluite na afloop van die beraad gesteun het, het hy voor die druk van die eerste minister, Nasionale Party en Broederbond geswig en dit uiteindelik verwerp. Op 4 November 1961 is hy op die Kaapse Sinode met ’n groot meerderheid tot moderator herkies, die laaste keer dat hy in dié amp sou dien. Dr. Frits Gaum skryf in die Christelike Kernensiklopedie oor Van der Merwe: "Hy het deur die jare ’n meer kritiese houding teenoor die destydse regeringsbeleid ingeneem as sommige van sy tydgenote. ’n Dissident was hy egter nie."
Seamless Wikipedia browsing. On steroids.
Every time you click a link to Wikipedia, Wiktionary or Wikiquote in your browser's search results, it will show the modern Wikiwand interface.
Wikiwand extension is a five stars, simple, with minimum permission required to keep your browsing private, safe and transparent.